Johannes 18:28-40
Dit is in die vroeë oggendure. Die slaap het Johannes heelnag ontwyk. Hy en die ander manne het uiteindelik weer bymekaar uitgekom, nadat elkeen sy eie koers die nag ingevlug het. Dit was net Petrus wat nog skitter in sy afwesigheid. En natuurlik die addergebroedsel, Judas! Vir Johannes was dit 'n verskriklike verleentheid om so sonder sy klere tussen die bome deurgesluip te kom.
En daar het die bedremmelde klomp die hele nag gesit en wonder wat aan die gang is. Baie later het Petrus daar aangestrompel gekom. Toe hy hulle sien, het hy in trane uitgebars. Sy hele liggaam het geruk soos hy aanmekaar snik: "Ek het my Here verloën! Ek het my Here verloën! Sal Hy my óóit daarvoor vergewe?"
Op ‘n vraag, waar Jesus nou is, het Petrus beduie dat Hy voor die Joodse Raad is. “In die nag? Wil iemand weet. “Maar dis mos onwettig!” Johannes is geskok om te hoor dat sy Meester in die nag verhoor word. Dit is iets wat slegs in daglig mag gebeur!
Kort na dagbreek kom iemand uitasem aangehardloop. “Julle moet kom! Die Raad het Jesus na Pilatus toe gestuur!”
Johannes word spierwit. Dis slegte nuus! Dit kan net één ding beteken, dat die Joodse Raad Jesus tereggestel wil hê. Hulle mag dit mos nie self doen nie. Soos een man spring hulle op en hardloop in die rigting van Pilatus se luukse huis. Langs die pad hoor hulle die nuus so stukkie-stukkie, dat die Raad vir Jesus skuldig bevind het, en dat daardie Romein, Pilatus, bitter ongelukkig is dat die Jode hom so vroeg in die oggend kom pla het.
Die Goewerneur oor Judea, Pontius Pilatus is ‘n gewelddadige, onbuigbare, onbarmhartige, korrupte man! Die volk haat hom met ‘n passie, want hy maak die lewe vir almal baie suur, seker maar oor hy sélf in vrees leef vir die Keiser!
Van ver af sien Johannes al hoe die Joodse leiers buite Pilatus se paleis saamdrom. Hulle wil nie in hierdie heiden se woning ingaan nie, want dit sal beteken dat hulle onrein word. En dis amper tyd vir die Pasga! Dit sal natuurlik beteken dat hulle nie deel kan hê aan hierdie belangrike fees nie.
Johannes-hulle wil nie te naby kom nie. Maar die nuus bereik gou hulle ore. Die Raad hou Jesus as ‘n misdadiger voor. “Hoe kan hulle? Na alles wat Hy gedoen het? En Hy het alles in die openbaar gedoen sodat almal dit kon sien!” Johannes is bitter verontwaardig.
Johannes hoor iemand sê dat Pilatus glo vir Jesus gevra het of Hy die “Koning van die Jode” is. Daarop het Jesus net geantwoord dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie. Toe Pilatus aanhou vra, het Jesus geantwoord dat Hy wél ‘n Koning is. “Wat presies sou dit beteken?” wonder Johannes.
Die Jode het ‘n Messias verwag wat die skoene van Sy voorvader, Dawid sou volstaan en regeer as koning oor Israel. Maar eers sou Hy die swaar juk van die Romeine van die onderdrukte volk se seer skouers afgooi, en hulle sodoende na vryheid lei.
Wat sou gebeur het as hierdie Messias-koning oor die Jode kom regeer het? Vir hoe lank sou hulle vrede hê, tot die volgende wêreldheerser net eenvoudig weer oor hulle sou loop? Nee, God se reddingsplan het totaal anders gewerk. Die ware Messias se regering sou nie op geweld gebaseer wees nie, maar op liefde. Dit sou ook nie beperk wees tot slegs die Joodse volk nie, maar sou strek oor die ganse wêreld. Sy volgelinge sou ook nie veg met ysterswaarde nie, maar met die swaard van die Waarheid en die Woord van God. Die belangrikste is egter dat hierdie Koninkryk wat gevestig word, nie op die aarde gebaseer is nie, maar in die hemel.
Pilatus kom baie gou agter dat Jesus geen gevaar inhou vir die magtige Rome nie. Pilatus besef maar al te goed dat Jesus onskuldig is, en desperaat probeer hy om Jesus vry te laat deur ‘n plaasvervanger te laat teregstel, die rower, Barabbas. Daar is ‘n ou verhaal wat sê dat Barabbas se eerste naam ook Jesus was, en dat Pilatus sou vra: “Watter Jesus moet ek vrylaat - Jesus Barabbas of Jesus van Nasaret?” Die Jode het egter die verkeerde Jesus gekies! Barabbas was vir hulle ‘n held, want al was hy ‘n rower, was hy ‘n bendelid van ‘n vryheidsbeweging, wat probeer het om hulle van die Romeine te bevry.
As gelowiges moet ons ook baie versigtig wees dat ons nie van Jesus Iemand probeer maak wat Hy nie is nie. So dikwels is Jesus vir ons slegs daar vir noodgevalle. Wanneer ons in die moeilikheid is, weet ons baie gou waarheen om te hardloop. Wanneer ons die wind van agter het, vergeet ons gerieflikheidshalwe van Hom. Jesus is ons Koning, te alle tye en in alle omstandighede! Ons héél eerste prioriteit is om Hom te dien met alles wat in ons is. Hoe dien ons Hom? Deur Sy liefdesgebod uit te leef, nie alleen teenoor God nie, maar ook teenoor ons medemens, en dan veral teenoor ons medegelowiges.
Gebed:
Here Jesus, U is my Koning. Ek wil U dien met my hele lewe!