Markus 15:1-15
Die hoëpriester het gemengde gevoelens wanneer hy vir Jesus na Pilatus stuur. Die veragtelike Romeine het die magte van die Joodse Raad ingekort, sodat hulle byvoorbeeld nie aan iemand die doodsvonnis kan oplê nie, al het die beskuldigde dan ook hóé erg oortree. Slegs die goewerneur of prokurator wat deur die Romeine aangestel was, het daardie bevoegdheid gehad. Nou moet die hoëpriester, wat veronderstel is om al die mag in Israel te hê, homself verneder deur Jesus na daardie onrein heiden, Pontius Pilatus te neem.
Pilatus was beslis nie die Jode se liefling nie! Hy was gierig, gevoelloos en so hard soos klip, en boonop het hy natuurlik absoluut niks vir God omgegee nie! Per geleentheid wou hy ‘n waterleiding laat bou, en toe Joodse aristokrasie weier om dit te befonds, het Pilatus eenvoudig die fondse uit die skatkis in die tempel laat haal! Natúúrlik was daar ‘n opstand oor hierdie blatante skending. Pilatus het sy soldate, vermom soos Jode en gewapen met knuppels onder die mense ingestuur en gemaai onder die niksvermoedende Jode. Talle het gesterf!
Jesus het egter só ‘n obsessie vir die hoëpriester en die Joodse Raad geword, dat hulle selfs bereid was om saam met hierdie gehate man te werk om Hom uit die weg te ruim. Hulle dilemma was egter dat Pilatus hulle sou uitlag as hulle na hom toe sou gaan met die aanklag waarop húlle Jesus skuldig bevind het, oor Jesus se bewering dat Hy die Christus, die Seun van God is. Hulle sou ‘n politieke aanklag moes fabriseer om énigsins Pilatus se aandag te kon trek. Jesus móés gesien word as ‘n bedreiging vir die Romeinse Ryk.
Die Jode het die verwagte Messias gesien as iemand wat waarlik ‘n bedreiging sou wees vir die Romeinse Ryk, want Hy sou die Jode bevry van die Romeinse juk. Nou kom formuleer die Hoëpriester en sy trawante júís die aanklag só, dat Jesus Homself sou voordoen as daardie Messias, die Koning van die Jode, en dat Hy dus polities uiters gevaarlik sou wees!
Dis nog baie vroeg in die oggend as die belangrike manne met Jesus by Pilatus se asemrowende paleis opdaag. Pilatus is gewoond dat géén ordentlike Jood ooit sy voete in daardie paleis van hom sal sit nie, uit vrees dat hulle dalk die een of ander onreinheid kan optel. Hy’s immers ‘n heiden! Hy verkies dit in elkgeval so, want hy wil beslis nie sy drumpel deurgetrap hê deur ‘n spul simpele Jode nie!
Pilatus stap op sy balkon uit. Dan skrik hy, want daar onder staan nie net die Sanhedrin nie, maar die helfte van Jerusalem. Hy kan sien dat hierdie klomp sommer baie omgesukkel is! Hy lag in sy mou: “Kajafas, die ou jakkals! Hy’t natuurlik weer die skare opgesweep om agter hom te staan!”
‘n Soldaat bring hom ‘n nota van die Sanhedrin af. “Wat is die aanklag?” Voor Pilatus staan Jesus in boeie. Pilatus lees en dan kyk hy met ‘n vraagteken op sy gesig na Jesus: “Is jy die Koning van die Jode?” Hy kan nie glo dat hierdie Man só ‘n aanklag kan regverdig nie! Hy’s nie aggressief nie en beslis nie iemand wat die regering sou wou omverwerp nie.
“Dit is soos u sê.” Jesus ontken nie die aanklag nie. Ja, natúúrlik is Hy Koning, maar baie beslis nie in die sin wat die Jode bedoel nie!
Pilatus besef baie gou dat hierdie ‘n opgemaakte storie is van Kajafas, en dat Jesus eintlik onskuldig is. Dis suiwer die priesterhoofde se afguns wat Jesus hier voor hom laat staan. Hy kan mos nie hierdie onskuldige Man só veroordeel nie? Sy oë dwaal oor die skare wat steeds al hoe groter aangroei. Dalk is hulle nie so ongenaakbaar soos hierdie klomp priesters nie. Dan dink hy aan ‘n briljante idee: As hy vir hulle die keuse sou gee tussen Jesus en daardie geharde moordenaar, Barabbas, sal hulle tog sékerlik eerder vir Barabbas in die tronk wou sien as Jesus? “Wie moet ek vrylaat, Jesus of Barabbas?” vra hy vir die skare.
“Laat Barabbas vry!” skree hulle soos een man. Kajafas glimlag tevrede, dit het gewerk!
“En wat wil julle hê moet ek met hierdie Man maak, die een wat julle die Koning van die Jode noem?”
“Kruisig Hom! Kruisig Hom!” skree hulle.
Pilatus wil nog probeer vra wat Jesus dan so vreeslik verkeerd gedoen het, maar dit eggo deur die klowe van die Kidronvallei: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”
Dis tóg ironies, dat die eerste mens wat vrygemaak word deur Jesus se kruisdood, die moordenaar, Barabbas was! Jesus het gekom om Sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie. Selfs vóór Sy kruisiging neem Hy alreeds die plek in van ‘n moordenaar. En terwyl Hy nog aan die kruis hang, word ‘n tweede moordenaar, Sy mede-gekruisigde óók vrygespreek van God se straf. Jy kan ook vrygespreek word!
Gebed:
Jesus, dankie dat U ook in my plek die straf gedra het.