Nehemia 2:1-10
‘n Mens dra gewoonlik sy gemoedstoestand op sy gesig, dis maar net natuulik! Jy kan egter aanleer om dit nie te doen nie, maar eerder vriendelikheid en liefde uit te straal. Dit doen beslis iets aan die mense wat jy ontmoet, maar dit doen ook iets aan jou eie gemoed, selfs wanneer jy neergedruk voel.
Nehemia het sy bes probeer om nooit sy bekommernisse te wys as hy voor die koning was nie. Die nuus oor Jerusalem se verval was egter net een te veel vir die arme Nehemia, en al het hy ook hóé hard probeer, het die kommer op sy gesig gewys toe hy daardie dag vir die koning sy wyn moes aangee. “Wat’s fout, Nehemia? Ek kan sien dat iets jou pla! Is jy siek? Jy lyk hartseer!”
Nehemia se knieë het sommer lam geraak – hy het hom yskoud geskrik! Hoe kon hy toelaat dat hy voor die koning sy kommer kon wys? Maar dit was te laat om dit te probeer wegsteek, toe kom hy maar met die hele sak patats na vore en vertel hom van wat in Jerusalem aan die gang was.
“Nehemia, is daar dalk iets wat jy my wil vra?”
Skielik sien Nehemia die Here se antwoord op sy ernstige gebed van vroeër. Die Here het ‘n groot deur wawyd oopgegooi vir hom, en nou moes hy baie vinnig dink. Die koning wou weet wat hy wou hê, en hy moes dit baie vinnig met albei hande aangryp. Daar was nie nou tyd om eers te gaan sit en beplan oor presies hoe hy die saak moes hanteer nie. Natuurlik sou die regte ding wees om eers te gaan bid oor die saak om die Here te raadpleeg, maar daarvoor was óók nie nou tyd nie! Dus doen Nehemia die enigste ding wat vir hom reg was – hy stuur ‘n skietgebed op!
Op daardie oomblik het Nehemia presies geweet wat om vir die Koning te vra! “As dit die koning behaag, stuur my dan asseblief na Juda toe sodat ek die stad waar my voorouers se grafte is kan herbou.” Deur te praat van sy voorouers se grafte, het hy die koning se simpatie ontlok, want die Persiese gebruik was om mense wat gesterf het bloot vir die aasdiere te los! Slegs koninklikes het ‘n behoorlike begrafnis gekry.
Die koning het nie eers teëgestribbel nie: “Wanneer gaan jy terug wees?”
Toe Nehemia die gaping sien, vat hy hom en vra sommer vir briewe aan die goewerneurs sodat hy sonder moeite kon reis waar hy moes, asook briewe om hom toestemming te gee om hout te kry uit die koninklike bos vir al die bouwerk. Dan maak Nehemia die opmerking: “Die koning het die briewe vir my gegee, omdat die goeie hand van my God oor my was.” (Neh. 2:8b).
Deur hierdie hele gesprek sien ons hoedat Nehemia God vertrou in alles. Voordat hy die koning vra om hom te stuur, raadpleeg hy eers die Here, al is dit net in ‘n skietgebed. En dan, wanneer alles presies uitwerk volgens plan, gee hy ál die eer aan God, want dit is immers die Here wat dit so bewerk het! Let wel dat hy nie verlof vra om te kan gaan nie, maar hy vra die koning om hom te stuur! Hy gaan dus as ‘n amptenaar van die koning, en daarom met die koning se gesag. Maar nog meer, die koning het selfs die bevelvoerders van die leër en 'n ruitery saam met hom gestuur om hom by te staan. Vir hoeveel meer kon hy vra? God se voorsiening in alles slaan jou asem skoon weg!
Die vraag is: waarom het alles so vlot verloop? Die koning het nie eers sy versoek bevraagteken nie! Daar is verskeie redes, waarvan die héél belangrikste is dat God se hand oor hom was, en dat Hy dinge in die guns van Nehemia laat werk het. In die eerste plek was Nehemia ‘n vertroueling van die koning. Dan was die koning boonop die spesifieke dag in ‘n baie goeie bui hy het selfs die koningin aan sy sy gehad (vers 6.) Dit was slegs toegelaat wanneer die koning in ‘n gemoedelike stemming was. Was dit bloot toevallig? Beslis nie! “Die goeie hand van God was oor hom!” (vers 8).
Uit die verloop van die verhaal wil ons verwag dat alles verder net seepglad sou verloop. Maar só maklik was dit nie, want die Bose sou dit nooit toelaat nie!
Sanballat uit die dorp Bet-Goron, noordwes van Jerusalem, was die Streekgoewerneur van die provinsie Samaria. Saam met hom was Gesem die Arabier en die Ammonitiese amptenaar Tobija beslis nie gelukkig toe hulle hoor van die toedrag van sake nie. Hulle het uitgebreide ekonomiese belange gehad in die streek, en die vervalle toestand van Jerusalem het hulle baie goed gepas. Dit het beteken dat hulle nie werklik kompetisie gehad het nie. Sou Jerusalem herstel word en weer finansieel lewensvatbaar word, sou dit vir hulle kompetisie beteken en hulle winsgrense sny. Dit wou hulle ten alle koste vermy!
Van hierdie drie manne sou Nehemia nog baie moeilikheid kon verwag, dus moes hy sy beplanning uiters versigtig doen. Nehemia het egter geweet dat hy in God se opdrag optree, en dat hy slegs op Hom hoef te vertrou.
Gebed:
Here, ek staan elke keer in verwondering wanneer ek sien hoedat U op wonderbaarlike maniere voorsien wanneer alles hopeloos lyk. Dan besef ek net weereens dat U die almagtige God is!