Handelinge 16:1-5
Silas is baie opgewonde om saam met Paulus te gaan op sy volgende sendingtog. Hy het baie gehoor van die dinge wat Paulus en Barnabas deurgemaak het op hulle eerste reis, en hy besef maar ál te deeglik dat hierdie nie 'n Sondagskoolpiekniek is nie! Dit kan selfs lewensgevaarlik wees!
Dan breek die groot dag aan, en in die jaar 50nC vertrek hulle. Weereens is die hele gemeente bymekaar om hulle af te sien. Plegtig word die twee aan die genade van die Here toevertrou en geseën vir die moeilike taak wat op hulle skouers rus. Hierdie slag reis hulle nie per skip nie, maar hulle pak die tog te voet aan. Hulle sou so byna 2000 kilometer ver moes stap voordat hulle sou omdraai huiswaarts, 'n uitmergelende staptog oor berge, in versengende hitte, bittere koue, son, wind en reën.
Wat Paulus egter op daardie stadium nie besef het nie, was dat hierdie nie maar net sy tweede sendingreis sou wees, wat opgevolg sou word deur 'n derde en dalk 'n vierde nie. Van nou af is hierdie vir hom 'n totale leefwyse! Wanneer hy aan die einde van hierdie reis terugkeer na Antiogië, is dit eintlik slegs 'n kortstondige besoek aan die gemeente tussen sy sendingwerk deur, en nie werklik die einde van die tweede sendingreis nie. Tradisioneel praat ons van 'n derde sendingreis, maar in werklikheid is daar nie 'n derde sendingreis nie, want dit is steeds deel van sy voortgaande sendingwerk wat sou voortduur tot aan die einde van sy lewe. Ons kan dus sê dat daar wel 'n eerste sendingreis was, maar daarna was hy voltyds in die sendingveld!
Paulus is dus van nou af 'n selfstandige sendeling en kerkplanter wat met behulp van 'n uitgebreide netwerk van helpers sy werk verrig. Hy begin ook gebruik maak van 'n stelsel van briefwisseling om in kontak te bly met al die gemeentes wat hy gestig het. Hy lei mense op om as leiers en selfs leraars te dien in sommige gemeentes.
Paulus en Silas se reis neem hulle deur Paulus se geboortestad, Tarsus en dan is die eerste plek waar hulle aandoen Derbe. Weereens meld Lukas gladnie wat in Derbe gebeur nie, maar ons kan maar aanneem dat Paulus die gelowiges daar versterk en vir hulle preek.
Dit is egter in Listra waar daar iets plaasvind wat 'n geweldige impak sou hê op Paulus en die kerk. 'n Jong kêrel vang dadelik Paulus se oog. Hierdie mannetjie is borrelend en aan die brand vir die Evangelie. Sy naam: Timoteus. Sy ma is 'n Jodin, maar sy pa is 'n Griek. Volgens die Joodse tradisie is hierdie eintlik 'n onwettige huwelik, want 'n Jood mag nie met 'n heiden trou nie. Maar die Jode het nogtans vir Timoteus aanvaar as 'n Jood bloot omdat sy ma 'n Jodin was. Daar was egter 'n voorwaarde: daardie seun moes besny word nes enige ander klein Joodjie. Timoteus was egter nooit besny nie.
Nou sit Paulus met 'n groot dilemma. Hy hou so baie van hierdie jong man, dat hy dadelik besluit om hom saam met hulle te neem as reisgenoot. Timoteus kan vir hulle van onskatbare waarde wees. Maar wat maak hy nou wanneer hulle in 'n sinagoge moet gaan preek? Dan moet Timoteus buite bly, want hy is nie besny nie, en dit wil Paulus beslis nie hê nie!
Die antwoord is voor die hand liggend: Timoteus moet besny word! Maar nou druis dit weer in teen die besluit van die kerk in Jerusalem, wat bepaal het dat dit nie nodig is vir 'n heiden om besny te word nie. Boonop het hy sélf al per geleentheid gesê dat as jy jou laat besny, dan wil jy daarmee eintlik sê dat die genadegawe wat Christus gee, niks beteken nie.
Paulus is in 'n tweestryd: Wat moet hy maak? Dan besluit Paulus: as Timoteus besny word, het dit mos absoluut niks te make met geloofsake nie! Dit is suiwer 'n praktiese reëling om hom toegang te gee tot die sinagoges.
Dan roep hy vir Timoteus nader: “Ou Seun, ons het 'n probleempie. Ek wil jou baie graag saam met my neem op die reis verder, maar dan sal jy besny moet word, anders sal hulle jou nóóit toelaat in die sinagoges nie.”
Timoteus huiwer nie vir 'n enkele oomblik nie: “Ek sal énigiets doen om te mag saamgaan. Om besny te word is 'n klein opoffering vir só ‘n groot voorreg!” En só ondergaan Timoteus daardie bitter ongemaklike operasietjie vir die Evangelie. En Paulus se hart swel van trots, want hy wéét sommer dat Timoteus vir hom vorentoe nog báie gaan beteken!
Natúúrlik gee Paulus met hierdie besluit geensins sy beginsels omtrent die besnydenis prys nie. Inteendeel, hy neem slegs ander mense se sienings in ag, soos hy tereg ook later aan die gemeente in Korinte skryf, dat hy vir die Jode 'n Jood word en vir die Grieke 'n Griek. Hy sal enigiets in sy vermoë doen om die evangelie by mense te laat tuisbring, selfs al vra dit baie groot opoffering.
Hierdie is 'n baie goeie voorbeeld vir my en jou vandag, om uiters sensitief te wees vir ander mense se gevoelens en standpunte. Ons moenie altyd op ons eie regte wil staan nie, veral wanneer dit gaan oor geloofsake waar daar grys areas is. Wees dan liewer die minste, al is jy oortuig dat jy reg is!
Gebed:
Here, leer my om sensitief te wees vir ander se gevoelens en standpunte. En wanneer ons van mekaar verskil, laat ek dan die minste wees!