Volhard Deur Ontbering

12 April, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Volhard Deur Ontbering

2 Timoteus 3:10-13

VIDEO | OUDIO

In die Skrifgedeelte wat ons gister gelees het, noem Paulus vir Jannes en Jambres. Ongelukkig kon ek nie daarby stilstaan nie. Ou Joodse tradisie was dat dit twee towenaars was wat saam met Moses voor Farao gestaan het en ook Moses se wonderwerke nagedoen het. Hulle het ‘n skynbekering ondergaan en saam met die Israeliete getrek. Hulle was egter ook die aanstigters van die opstand by die Sinai berg waar die goue kalf gemaak is. Of dit ’n ware storie is, sal ons nie weet nie. Paulus gebruik hierdie storie om te wys dat skyn-Christendom ook op die lappe sal kom. In teenstelling hiermee wil Paulus dan nou vir Timoteus wys wat die verskil moet wees tussen so ‘n skyngelowige en die ware volgeling van Jesus.

Ek was geskok om te verneem van die sogenaamde “Ontluikende Kerk” (Emerging Church). Hierdie beweging beweer onder meer dat ander godsdienste soos Boeddisme ook maar reg is en dat ons daarvoor plek kan maak in ons eie geloof. Hulle laat alle grense val en selfs geloof in Jesus is nie noodsaaklik nie! En dit is nie iets wat net daar ver in Amerika en Australië gebeur nie. Baie prominente predikante en teoloë in Suid-Afrika is ook voorstanders van hierdie nuwe “geloof”. In Joh. 14:6 het Jesus gesê: “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” Maak nie saak hoe mooi en edel en tegemoetkomend hierdie nuwe siening is nie, Jesus se woorde sal vasstaan! Hy is en bly die Enigste Verlosser! Google dit gerus maar.

Geloof kom nie goedkoop nie! Paulus skryf vir Timoteus dat hy wéét dat Timoteus anders is as die skyngelowiges want hy kan dit sien in sy leer, lewenswandel en lewensdoel. Sy geloof, geduld, liefde en volharding is sigbaar, selfs wanneer daar vervolging is! Timoteus het hierdie dinge by Paulus geleer. Ja, Timoteus was maar ‘n baie jong gelowige toe Paulus tydens sy eerste sendingreis in Antiogië, Ikonium en Listra sendingwerk gedoen het. Daar het hy vir die eerste keer vir Timoteus raakgeloop. In Timoteus se tuisdorp Listra, het ‘n woedende skare vir Paulus gegryp en gestenig. So erg is hy met klippe bestook dat almal gedink het dat hy dood is. Paulus het egter nog vir baie jare daarna gepreek! Hierdie gebeurtenis moes seker ‘n onuitwisbare indruk op Timoteus gemaak het.

Om die waarheid te sê, moes hierdie insident ‘n groot indruk op baie meer mense gemaak het. Nie lank voor hierdie insident nie, het Paulus in die Sinagoges van Antiogië en Ikonium vir die Jode gepreek en vertel van Jesus se opstanding uit die dood. Daarvoor het hulle hom uit die stad gejaag en agtervolg en uiteindelik selfs in Listra gestenig sodat hy daar “morsdood” voor hulle gelê het. Ek dink hulle verbasing was baie groot toe die einste “dooie” Paulus die volgende dag springlewendig in die strate van Listra geloop het. Hy het Jesus se opstanding gedemonstreer!

Wanneer Paulus vir Timoteus herinner aan die verskriklike swaarkry van daardie tyd, is dit nie om simpatie te wek nie maar dit is om op die almag en grootheid van God te wys. Hy is immers die Een wat hom daardie dag uit die kloue van die dood gered het asook by baie ander geleenthede daarna.

Swaarkry is nie noodwendig ‘n slegte ding vir ‘n gemeente nie. Eintlik is dit iets wat júis dikwels die kerk suiwer. Daar is ‘n ou spreekwoord wat lui: “Is die kerke van hout, is die lidmate van goud. Is die kerke van goud, is die lidmate van hout!” Jubel dus in die Here as dit swaar gaan in jou gemeente, want dit is in sulke tye wat mense waarlik vir God leer ken en op hulle knieë kom!

Swaarkry, vervolging en verleiding van die kerk sal voortgaan. In werklikheid word dit al hoe erger namate ons nader aan die einde van die tyd kom. Skyngelowiges dring oral in - in die politiek en selfs in die kerk. Goddelose mense sal ook van krag tot krag gaan en dit lyk vir ons so onregverdig! Paulus waarsku vir Timoteus oor hierdie dinge en maak hom bedag daarop dat vervolging en ontbering nie sal ophou vir die ware gelowige nie. Ja, later sou Timoteus sélf die pynlike waarheid van hierdie uitspraak besef toe hy ook in die tronk beland. Hiervan kan jy lees in Hebreërs 13:23 .

Ek en jy moet realistiese Bybelse verwagtinge hê, of ek nou ‘n “gewone” lidmaat of ‘n leier is in my gemeente. Dit is veral die geestelike leiers wat die implikasies van ons geloofslewe baie duidelik moet besef en gereed staan om lidmate te begelei wanneer die swaar tye en die vervolging kom. Dit is só maklik om moed te verloor wanneer dinge nie gaan soos wat jy verwag nie. In sulke tye gryp mense na énige strooihalm, veral die verkeerde soort strooi! Die eienskappe wat Paulus hier bo genoem het, naamlik liefde, volharding, geduld ensomeer is dan júis in sulke omstandighede van uiterste belang, want daarvan het jy hope nodig om ander mense mee by te staan, dikwels terwyl jy sélf swaar gebuk gaan onder dieselfde verdrukking. Paulus was hierin vir ons die model-voorbeeld, want terwyl hy die ergste vervolging denkbaar moes deurstaan, het hy nooit vir ‘n enkele oomblik opgehou om ander te bemoedig, te vertroos en te versterk nie!

Gebed:

Here, gee my asseblief altyd ‘n blye gemoed en ‘n glimlag om ander te inspireer - selfs deur my eie swaarkry-tye!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Hy Leef!
30 April, 2024
Kruisig Hom, Kruisig Hom!
29 April, 2024
Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024