Johannes 13:1-17
Ingedagte sit die stokou man, Johannes en skryf. Hy is tevrede met die eerste deel van sy boek. Hier het hy geskryf oor die drie jaar van Jesus se openbare optrede. Hy wou die boodskap duidelik tuisbring, dat wie in Jesus glo, die ewige lewe het. Johannes is séker daarvan dat hy beslis in sy doel geslaag het. Die Heilige Gees het hom immers die leiding gegee oor wat om te skryf!
Johannes dink ‘n oomblik na voordat hy die volgende afdeling van sy boek aanpak. Hy skryf immers aan die Kerk, dus sal dit goed wees as hy die een en ander skryf oor hoe Jesus Sy kerk hanteer het. Dalk moet hy begin by daardie aangrypende dag toe Jesus……
“Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan.” skryf Johannes. “Ek móét skryf van Sy liefde!” peins hy. “Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.
Jesus en sy dissipels was aan tafel.”
Johannes glimlag. Ja, hulle het rondom die tafel gesit, eintlik eerder gelê op kussings toe die Meester hulle almal totaal onkant gevang het! Dit was in Sy héél laaste dae voor Sy kruisiging. Intieme oomblikke, daardie! Maar die duiwel was daar ook hard aan die werk. Judas Iskariot het toe alreeds sy plannetjies klaar agtermekaar gehad om vir Jesus te verraai.
In sy geestesoog sien Johannes nog hoedat hulle almal heerlik uitgestrek rondom die tafel gelê het. Natúúrlik was hulle almal se voete vuil en stowwerig van die heeldag se loop. Dit sou darem só lekker gewees het as hulle ‘n slaaf kon bekostig om almal se moeë voete ‘n bietjie te pamperlang. Maar só ‘n luuksheid is hulle nie beskore nie!
Maar dan staan Jesus op. Hy bind ‘n doek om Sy lyf en kom die vertrek ingestap met ‘n wasskottel. Johannes het duidelik gehoor hoe die manne na hulle asems snak, toe Jesus buk en die eerste man se voete begin was. Dit word net eenvoudig nie gedoen nie! Bitter onwillig en uiters ongemaklik, hou die manne hulle voete. Maar Petrus weier soos ‘n steeks donkie: “Nooit in der ewigheid nie!” Ai! Ou Petrus! Hy was maar altyd dwars van die gereg! Vir hom was dit ‘n geval van Jesus, sy Meester wat verneder word om slaaf te speel. Petrus wou géén deel hê aan sy Meester se vernedering nie! Johannes onthou nog hoedat Jesus maar weer mooi moes verduidelik sodat Petrus kon verstaan. En toe skielik gaan daar vir Petrus ‘n liggie op. As Jesus dan nou wou was, dan moes Hy asseblief sommer sy hele lyf was! Ai tog! En weereens moes Jesus baie mooi verduidelik dat dit nie nodig was nie.
Waaroor het dit alles gegaan? Wat wou Jesus vir hulle sê? Daardie dag het Hy gedemonstreer dat Sy volgelinge se waardesisteme totaal verskil van dié van die wêreld. Eintlik het Hy met hierdie handeling totaal die gelowiges se waardestelsels omvergegooi! God se liefde en Sy mag lê juis in opoffering en nederigheid. Hier het Hy, die Seun van God, Skepper van die heelal en Opperste Heerser dit prakties kom demonstreer deur Sélf Slaaf te word en die nederigste van alle werke te kom doen.
Wat leer ons vandag hieruit?
Twee gedagtes kom na vore. Die eerste, dat die voetwassery simbolies is van ons vuil sondige verlede wat skoongewas word deur Jesus. “As ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie,” het Jesus vir Petrus gesê. Om enigsins deel te kan hê aan Jesus, móét ons toelaat dat Hy ons sondes afwas (vergewe). Hoe doen Hy dit? Hy het die volle straf gedra vir ons sondes met Sy kruisdood op Golgota. Ons moet hierdie geskenk van vergifnis aanvaar en ons eie maak, dan is ons outomaties skoon gewas.
Tweedens, dat ons Jesus se voorbeeld moet navolg. As Hy wat so hoog bo ons verhewe is, bereid was om die nederigste werk te doen, moet ons ook bereid wees om die minste te wees. Dit is nie maklik nie!
Jou lewe verander drasties die dag wanneer jy Jesus se vergifnis en verlossing kry. Dit is egter maar net die begin. Hierna moet ons Jesus se voorbeeld navolg. Ons kan nie maar gaan sit en ontspan nie. In hierdie gedeelte sê Jesus dit dan ook baie duidelik dat een van die maniere waarop ons Hom moet volg, is ook daardie selfde opofferende diens aan mekaar te bewys soos wat Hy gedoen het. Ja, ons wil almal graag leiers wees en die dinge doen wat edel en aanskoulik is. Min gelowiges sien egter kans vir die “vuil werk”, daardie dinge wat vernederend is om te doen. Om op ‘n parkbankie langs ‘n vuil, stinkende boemelaar te gaan sit en sommer net te gesels, is darem baie ver onder ‘n man se waardigheid. Hoe ver is ek en jy bereid om te daal sodat Jesus, die Koning, verheerlik kan word?
Gebed:
Here, ek bely dat ek nog so styf vasklou aan my waardigheid. Help my asseblief om U wonderlike voorbeeld na te volg.