Daniël 2:24-49
Het jy al by so ‘n situasie in jou lewe gekom, waar jy bid vir leiding om ‘n sekere ding te doen, maar wanneer dit by die uitvoer daarvan kom, dan twyfel jy? Natúúrlik het jy - dit het my al vele kere oorgekom! Ek vra die Here om vir my wysheid te gee, maar dan vertrou ek die Here nie genoeg in die saak nie, en wanneer dit by die doen van die ding kom, dan bewe my broek skielik, en my woorde raak weg. Dis verskriklik! Maar die ergste hiervan is dat jy eintlik vir God sê: “Ek vertrou U nie......” ‘n Suksesvolle sakeman laat eenmaal sy seuntjie op die dak klim, en toe sê hy vir hom: “Spring Seun, Pappa sal jou vang.” Die seuntjie het gespring, en sy pa staan eenkant toe sodat die outjie hom ten barste val. Toe die outjie al huilend uit die stof opstaan, sê die pa: “Goed Seun, dit was jou eerste les in die sakewêreld - hier moet jy nie eers jou eie pa vertrou nie!”
God is anders: Hom kan jy ten volle vertrou. Dit het Daniël geweet, en hy het onvoorwaardelik sy vertroue op God geplaas. Na daardie droom van hom, het hy nie eers gewonder of dit werklik God was wat hom ‘n visioen laat sien het, en of dit maar net sy verbeelding was nie. Vol selfvertroue stap hy na Ariog toe, en sê vir hom: “Vat my na die koning!” Onthou: Daniël het geweet dat as hy hier sou verbrou, dan was nie alleen sy eie lewe nie, maar ook dié van al die ander raadgewers s’n op die spel. ‘n Reuse las het op Daniël se skouers gerus toe hy agter Ariog aanstap na die magtige Nebukadnesar toe.
Ariog sien hier ook vir homself ‘n geleentheid en wanneer hulle by die koning kom, sê hy nie vir hom dat dit Daniël se versoek was nie. Hy probeer die kalkig steel deur aan te kondig: “Ek het 'n man gevind onder die ballinge van Juda wat die uitleg aan die koning bekend kan maak.”
Nebukadnesar, aan die ander kant, wonder in die stilligheid of hierdie Judeërtjie werklik kan doen wat al sy slim manne nie kon regkry nie. “Die dróóm sowel as die uitleg wil ek hê!” herinner hy vir Daniël.
Wanneer Daniël begin praat, val hy nie sommer met die deur in die huis nie, maar hy maak dit eers baie duidelik dat dit nie binne sy vermoë is om drome te kan uitlê nie. Dit is nie iets wat mense kan doen nie. Die raadgewers was daar hééltemal reg, maar hulle het gesê dat slegs die “gode” sulke magte het. Daniël sê egter nou vir die koning dat slegs die ware God (die God in die hemel) daardie mag het.
Dan begin Daniël vir die koning sy droom vertel. Hy stel dit duidelik dat hierdie eintlik ‘n visioen is. Ek dink ou Nebukadnesar se mond het oopgehang toe die mannetjie haarfyn vir hom vertel wat hy gedroom het. “Hoe het hy dit geweet?” het hy sekerlik gewonder. Daardie droom het bly knaag aan hom - die ongewone, reuse, blink standbeeld met ‘n kop van goud, bors en arms van silwer, maag en heupe van brons, bene van yster en dan die voete wat ‘n mengsel was van yster en klei. En dan daardie skrikwekkende toneel, waar die groot klip asof uit die niet verskyn en aangerol kom – onstuitbaar! Nebukadnesar ril by die gedagte. Die klip tref die standbeeld dáár waar dit die swakste is, teen sy onstabiele voete. Grootoog sien hy weer hoe die voete verkrummel, en dan disintegreer die ganse groot standbeeld, sodat dit soos stof wegwaai. Aaklig!
Nebukadnesar word teruggeroep tot die werklikheid: “U is die groot koning!” hoor hy vir Daniël sê. Dan verduidelik Daniël van die verskillende koninkryke en die geleidelike agteruitgang, totdat God uiteindelik die ganse ryk vernietig. Nebukadnesar is duidelik baie beïndruk - soveel só dat hy vir Daniël en sy vriende aanstel in die top poste in die koninkryk.
Die vraag wat onmiddellik by jou opkom is: waarom hierdie eienaardige verhaal? Jy vertel mos nie ‘n storie om dowe neute nie? Jy vertel dit vir vermaak of om iemand te beïnvloed. Jy kan dit ook vertel om iemand te laat nadink. In hierdie verhaal staan die almag van God en die ondergang van wêreldryke só voorop dat ons dit nie kan ignoreer nie! Die ondergang van die vierde ryk word só beklemtoon, dat dit duidelik bedoel was om die gelowige Jode van daardie era hoop en troos te gee!
‘n Goeie verhaal is egter nie tyd- en kultuurgebonde nie. Hierdie is juis een van daardie tydlose verhale wat selfs vandag nog vir ons van groot betekenis is. Dalk voorspel dit nie spesifieke gebeure in ons eie era nie, maar dit sê vir ons dat God nog steeds almagtig is. Dit sê vir ons vandag in geen onduidelike terme, dat politieke maghebbers - hoé magtig hulle ookal mag voorkom - steeds in die hand van God is, en dat hulle baie beslis nie die enigste sê in die lewe het nie. In Suid-Afrika leef ons moontlik in die tyd waar die regering se voete ‘n mengsel van yster en klei is. Die verdeeldheid en twis gee ons nagmerries! Dit is egter Gód wat in volle beheer is van die situasie! Hy is die Een wat sal bepaal wat die uiteinde gaan wees. Ek en jy kan dus maar net rustig en in verwondering toekyk, met die wete dat ook óns lewens in Sy bekwame hande is!
Gebed:
Here, dankie dat ek my nie hoef te bekommer oor die toekoms nie, maar dat ek ten volle op U kan vertrou!