Matteus 10:16-33
Johannes sit en peins, daar op die eiland Patmos. Dit is alreeds meer as sestig jaar gelede wat hierdie dinge gebeur het. So baie water het in die see geloop en soveel dinge het gebeur. Hy is die enigste een van die twaalf manne wat oorgebly het. Al sy ou maters het grusaam gesterf, is vervolg, gemartel, dis nou almal buiten natuurlik Judas wat sy eie lewe geneem het. Maar Jesus het dit mos presies so voorspel! Hy onthou nog daardie dag baie goed, toe Jesus hulle vir die eerste keer uitgestuur het. Sy woorde was dat Hy hulle soos skape tussen die wolwe instuur.
Maar dit was nie net hulle twaalftal nie, baie ander is deur dieselfde lot getref. Die Jode wat die Christelike geloof aangeneem het, is deur hulle eie mense verag en uitgeskel as verraaiers omdat hulle die Joodse geloof prysgegee het. In baie gevalle is hulle wreed vervolg. Kyk maar byvoorbeeld hoe Paulus voor sy bekering rondgegaan het en mense links en regs in die tronk laat stop het, en selfs betrokke was by die moord op Stefanus. Ja, jy kan dit niks anders as moord beskryf nie! Johannes onthou nog hoe die gelowiges in vrees geleef het vir Paulus! Later moes die einste Paulus presies dieselfde paadjie loop, en per geleentheid is hy selfs gestenig en laat lê vir dood. Die gelowiges het baie swaar gekry, want hulle het hulle hele aansien in die samelewing verloor, en daarom in baie gevalle ook hulle inkomste.
Vandag verstaan Johannes Jesus se woorde maar ál te goed. Tóé was dit ‘n ernstige waarskuwing, maar vandag is dit vir hom ‘n troos in sy omstandighede waar hy as uitgeworpe balling op Patmos sit. Toe Jesus destyds vir Johannes en sy maters uitgestuur het, was Sy waarskuwing nie net oor Martelaarskap wat sou kom nie, maar veral oor God se bewaring wanneer dit wél gebeur.
Johannes glimlag wanneer hy weer terugdink aan daardie dag toe hy en Petrus voor die Joodse Raad gedaag is, en die Raad hulle probeer intimideer het om nie verder die Evangelie te verkondig nie. Hulle verweer was: “Dit is onmoontlik om nie te praat van die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” Snaaks genoeg was hy daardie dag gladnie bang nie! Hulle twee het nie ineengekrimp van vrees nie, maar hulleself bloot totaal aan die Heilige Gees oorgegee. Die woorde en die krag, wat beslis nie hulle eie was nie, het van êrens vandaan gekom. G’n wonder dat die raadslede so verbaas was oor hulle nie. Hulle het nie die geleerdheid gehad van daardie raadslede nie, hulle was maar eenvoudige, ongeleerde manne wat moes visvang vir ‘n lewe.
Vandag moet ons besef dat hierdie verhale tweeduisend jaar gelede opgeteken is. Sedertdien het omstandighede natuurlik baie verander, maar selfs vandag nog sien ons dieselfde dinge gebeur waarvan Matteus en Lukas en Johannes skryf. Vandag dien hulle boodskap steeds vir ons as troos in dikwels moeilike omstandighede. Dit is veral in die Moslem-oorheersde lande waar die Christen vandag bitter swaar kry en dikwels uitgelewer word ter wille van sy geloof.
Wanneer ons die verhale lees, wil dit amper lyk asof die Joodse Christene ‘n klomp moeilikheidmakers was. Dit is egter gladnie die geval nie, en virséker wil die Here nie hê dat jy jouself doelbewus ‘n martelaar maak nie. Dit is net eenvoudig nie natuurlik om doelbewus lyding te begeer nie. Wanneer lyding egter onvermydelik is, moet ons met waardigheid optree, en juis daardie geleentheid gebruik om die Evangelie eerlik en opreg te verkondig.
Vat nou maar byvoorbeeld die geval toe Paulus en Silas in die tronk was: hulle was eers stukkend geslaan en toe vasgeketting onder in ‘n stinkende, vuil kerker. As dit ek was sou ek sekerlik daar gesit en kerm het en bitter jammer vir myself gevoel het. Wat het hulle egter gedoen? Hulle het lofliedere gesing! Daarmee het hulle twee dinge reggekry: eerstens het dit hulle ‘n bietjie laat vergeet van hulle eie pyn, en het dit hulle beslis beter laat voel. Tweedens was hulle daardeur ‘n getuienis, nie alleen vir hulle mede-gevangenes nie, maar ook vir die owerhede, soveel só dat die tronkbewaarder en sy hele gesin daardie nag nog tot bekering gekom het en Jesus ontmoet het as Verlosser.
Wanneer ons vandag hierdie gesprek tussen Jesus en Sy dissipels lees, is ons geneig om ons blind te staar teen die vervolgings en lyding en selfs doodsdreigemente. Maar eintlik gaan dit hier baie meer oor God se bewaring, bystand, liefde en onderskraging indien hierdie dinge op ons pad sou kom. Dit gaan ook verder daaroor dat, wanneer jy ter wille van jou geloof vervolg word, jy jou nie moet verset, en met geweld die evangelieboodskap beklemtoon nie. Gee jouself eerder aan God se genade oor. Dra Jesus se dienende, oorredende liefde uit, selfs tot op die punt van lyding en martelaarskap.
Gebed:
Here, baie dankie vir die bevestiging ook weer vandag dat U in alle omstandighede ons sal dra, selfs ook wanneer ons vervolg word ter wille van die Evangelie. Dankie vir U wonderlike troos.