2 Korintiërs 5:11-21
Versoening het ‘n baie groot woord geword. Ons het dit beleef in ons eie mooi Suid-Afrika in 1994 tydens die groot verkiesing. Mense was kwaad vir mekaar, maar terselfdertyd was hulle bang vir mekaar. Sommige het in woede gereageer en wraak gesweer. Ander weer het weggekruip en kos opgegaar, of selfs landuit gevlug omdat die einde van die land aangebreek het. Baie mense was verbitter oor onreg wat oor baie jare teenoor hulle gepleeg is. Sommige wou met geweld geregtigheid laat geskied, terwyl ander weer net vrede begeer het.
Jy onthou seker nog hoe die bemiddelaars met die wysheid van Salomo gespook het om al die partye rondom dieselfde tafel bymekaar te kry om ‘n oplossing te vind. Sommige het die bemiddelaars uitgekryt as verraaiers wat die land weggee, terwyl ander hulle weer opgehemel het as engele van vrede.
1994 Was nie die laaste versoeningspoging nie. Selfs vandag is daar die vredemakers wat dag en nag werk om rebelle en regerings by mekaar uit te bring om die verskriklike bloedvergieting te probeer stop. Soms is hulle suksesvol, meer dikwels misluk hulle tragies, en moet iemand anders maar weer probeer. Die konflik tussen Rusland en die Oekraïne is hier ‘n goeie voorbeeld, asook die oorlog in die Midde-Ooste.
Hoe moet iemand lyk wat versoening kan bewerkstellig? Wat moet sy uitkyk in die lewe wees? In die eerste plek moet hy ‘n 100% geloof hê in die saak waarvoor hy stry. As daar by hom die minste twyfel is, is die kanse dat hy gaan misluk, groot. In die tweede plek moet dit vir hom gaan om versoening alleen, en daar kan nie bysake wees nie. As hy dit doen om sélf iets daaruit te kry, gaan dit op ‘n ramp uitloop. In die derde plek moet hy die geduld van Job hê, want versoening is ‘n proses wat baie lank kan neem, en die partye het dikwels die mees absurde voorwaardes. En elke keer nes dit nou lyk asof daar ‘n deurbraak is, dink iemand weer nóg ‘n struikelblok uit om in die pad te gooi. ‘n Versoener moet ook bereid wees om dinge eenvoudig te hou, en nie allerhande foefies te gebruik nie, want later gaan dit net weer probleme veroorsaak.
Wanneer Paulus skryf oor die bediening van versoening, dan is dit nie alleen tussen mens en mens nie, maar terselfdertyd ook tussen mens en God. Die probleem is dat die een nie waarlik sonder die ander kan geskied nie. Om met God versoen te kan raak, behels terselfdertyd ook ‘n versoening met jou medemens. Jy kan tog nie sê dat jy nou skielik vir die Here baie lief is, maar jy haat nog jou naaste nie?
Hoe moet hierdie versoener tussen mens en die Here lyk? In die eerste plek moet sy geloof in die saak onwrikbaar wees. Jy kan tog nie vir iemand gaan sê dat hy in Jesus moet glo, as jy self nie ten volle oortuig is nie? In die Gereformeerde kerk in Nederland is een van die leraars ‘n Ateïs. Nou verstaan ek gladnie: hoe kan hy geloof preek as hy sélf gladnie glo nie? Dit maak net eenvoudig nie sin nie! Hiermee wil ek nie sê dat iemand wat nog maar jonk en onseker in die geloof is, nie die Evangelie kan uitdra nie. Inteendeel: die Here wil juis hê dat jy moet getuig van die oomblik af wat jy tot geloof kom. Dit beteken egter ook dat jy hard moet werk daaraan om jou geloof sterk te maak sodat jy ‘n meer effektiewe getuie kan word.
Tweedens moet dit vir jou suiwer gaan om versoening alleen. Daar mag géén bysake aan gekoppel wees nie. Wanneer ek hierdie dagstukkies skryf, verkondig ek nie die NG Kerk of die een of ander doktrine nie. Dit gaan oor Jesus alleen! Moet my dus asseblief nie uitvra oor allerhande leerstellings waaroor kerke verskil nie. Dit is bysake!
Derdens mag dit nie vir my gaan oor wat ék daaruit kan kry nie. Jesus het die versoening gratis en suiwer uit genade vir ons aangebied, en daarom durf ons nie op enige manier probeer wins maak daaruit nie. Dit wil egter nie sê dat ons nie ons leraar moet betaal nie. Inteendeel: Dit is juis ons plig om hom ‘n goeie lewensonderhoud te gee sodat hy ál sy tyd aan die opleiding van lidmate en die verkondiging kan gee, en nie nog soos die arme Paulus dikwels tente moes maak om aan die lewe te bly nie. Terloops, Paulus het ook ‘n lewensonderhoud in sekere gemeentes ontvang, wat hom meer tyd gegee het vir die Evangelie.
En dan moet jy baie beslis die geduld van Job hê as jy die Evangelie uitdra. Mense kom met die mees absurde verskonings om nie ‘n besluit te neem nie. Twee dinge moet ons onthou: ons moet so ‘n persoon tyd gee om sélf ‘n besluit te neem. Jy durf hom nie in ‘n besluit inboelie nie. Tweedens is dit nooit my eie oorredingsvermoë wat hom laat besluit nie, maar die Heilige Gees wat in hom werk.
Ten slotte: Hou dit eenvoudig en Skrifgebonde. Moenie met allerhande foefies kom nie, want later gaan dit dinge vir jou baie kompliseer. En werk met groot ywer! Elke gelowige (ja, ook ek en jy!) is ‘n evangelis!
Gebed:
Here, hou asseblief die vuur vir die Evangelie brandend in my!