Plegtig word die groep van 34 weggestuur na 'n uitreik in Mosambiek. 'n Klein Indiërgemeente in Shakaskraal organiseer die uitreik elke paar maande. ‘n Klompie lidmate van ons eie gemeente gaan saam, asook 'n Baptiste gemeente in Phoenix en nog etlike ander kerke. In 'n baie emosionele seremonie word ons die hande opgelê en word daar vir ons gebid. Hierdie sou baie beslis nie 'n vakansie op die goue strande van Mosambiek wees nie! Die gebied waarheen ons gaan is bitter arm en daar is géén luukshede nie, nie eers 'n warm stort saans nie! Daar is geen krag, geen lopende water, geen winkels en geen huisvesting nie.
Maar ons het 'n groot taak wat op ons skouers rus, want die nood is baie groot in die gebied wat ons besoek. Kos en klere is daar baie luukse items, om nie eers te praat van Bybels nie! Bitter min van die mense daar het die voorreg om 'n Bybel te besit. Boonop is die evangelie slegs in 'n klein gebied daar versprei, en lê daar steeds 'n groot braakland oop waar die Woord nog nie gehoor is nie.
Daar is 'n berg klere en tonne kos ingesamel wat moet saamgaan. 'n Reuse pak medisynes en pleisters moet help om die mense wat waarskynlik nog nooit in hulle lewe die binnekant van 'n kliniek gesien het nie, se eina's en kwale te help verlig. En natuurlik 'n paar kaste Bybels, want daarsonder sou die uitreik betekenisloos wees.
Uitgeput na 'n uitmergelende uitreik keer ons 'n week later terug. Die groep moet kom verslag lewer aan die gemeente. Dit is 'n groepie borrelende, stralende mense, sommige nog skoolkinders, wat nie uitgepraat kan raak oor die wonderlike ondervinding, waar meer as 70 mense hulle harte aan die Here gegee het. Boonop is die lewens van diegene wat die uitreik meegemaak het vir ewig verander.
Paulus was oorstelp van blydskap toe Titus destyds uit Korinte terugkom. Hy was al bekommerd dat Titus dalk die hasepad sou kies, want die probleme in die gemeente was oorweldigend. Titus het egter die toets met onderskeiding geslaag, en nou stuur hy hom wéér. Hy is immers reeds wél bekend in Korinte, en dinge loop daar nou weer normaal. Hierdie keer is dit sy taak om die geld wat ingesamel is vir Jerusalem, te gaan haal. Dit is ‘n baie verantwoordelike en uiters gevaarlike taak, want hy kan so maklik in die hande van rowers val. Boonop kan mense hom dalk wantrou, want wie sal ooit weet as hy van die geld vir homself hou? Daarom stuur Paulus nog twee betroubare manne saam met hom.
Jare gelede kuier ons in Marloth Park. Die oggend gaan ek en Mosbolletjie ‘n ent stap om voëls te gaan kyk. Dis warm, en ons los die vensters wawyd oop sodat vars lug deur die huis kan trek. Hierdie aksie van ons het egter gesorg vir ‘n reuse versoeking. In Marloth Park loop die wilde diere oral rond tussen die huise, onder andere ook bobbejane. By ‘n oop venster kan ‘n ordentlike Kees net eenvoudig nie verby stap nie. En boonop is hulle klein skelm ogies so skerp dat hulle ‘n oop venster op ‘n kilometer kan herken.
Die diefwering het hulle nie gekeer nie, want toe gaan hou Kees & Kie gróót makietie in ons huis. Hulle stroop die koskaste, en wat hulle nie kon eet nie, strooi hulle oor die meubels en vloer. Meelblom en mieliemeel het vir vet pret gesorg! Dié het hulle rondgegooi om reuse wit wolke in die huis te maak wat alles in ‘n wit sneeulaag getooi het.
Toe ons terugkeer van ons wandeling, laat spaander hulle, en laat vir ons die huis in chaos! Dit was baie ure se werk om alles weer leefbaar te kry!
Wie se skuld sou jy sê, was hierdie ramp? Die skelm bobbejane? Nee, dit was my eie skuld want ons het die Adoonse in die versoeking gelei! As ons die vensters toegemaak het, sou niks ooit gebeur het nie!
Paulus het nie verniet die twee betroubare manne saam met Titus gestuur om die geld te hanteer nie. Al het Paulus ook vir Titus met sy lewe vertrou, kon hy nie die risiko loop dat iemand dalk ‘n vinger wys nie. As gelowiges, moet ons baie versigtig wees om nie versoekings op iemand se pad te plaas nie. As die persoon in die strik trap, dan was ek die oorsaak dat hy in die sonde beland het.
Ek het al so dikwels gehoor dat iemand sê dat sy huiswerker so betroubaar is, dat hulle maar geld oop en bloot in die huis kan laat, en wéét dat niks ooit sal verdwyn nie. Deur dit te doen, stel jy egter vir daardie persoon, wat dikwels in finansiële nood verkeer, in ‘n baie groot versoeking.
Deur matrieks aan die einde van hulle skooljaar alleen saam met hulle pêlle see toe te stuur vir ‘n vakansie, is ‘n reuse versoeking. Ek sien jaarliks in Ballito hoe die kinders in groot getalle sneuwel onder groepdruk, terwyl hulle ouers salig onder die indruk is dat hulle verantwoordelik vakansie hou. Drankmisbruik, wilde partytjies, dwelms en seksorgies is die norm - almal doen dit mos! Liewe ouers, moenie julle kinders aan daardie gevaarlike versoekings blootstel nie!
Gebed:
Here, gee my asseblief ‘n verantwoordelikheid teenoor ander, sodat ek niemand ooit in ‘n versoeking sal stel nie.