1 Tessalonisense 2:17-20
Verlange - dis ‘n baie groot woord daardie! Hierdie woordjie durf nie ligtelik opgeneem word nie!
Ek onthou die grootste verlange van my lewe soos gister. Dit was in November 1973 - sal ek dit óóit vergeet? Ek het ‘n paar maande tevore die groot liefde in my lewe ontmoet, en die liefde het geblom! En toe kom die nuus in die vorm van ‘n amptelike weermag briefie: Dit het tyd geword dat die Uwe weer vir ‘n kamp moet gaan sodat die regering kan seker maak dat ek die dinge onthou wat hulle my geleer het van oorlog maak, en dat ek darem nog paraat is. Dinge was al klaar nie lekker daar in Angola se rigting nie! Gelukkig stuur hulle ons net na Potchefstroom toe.
My hart sak in my skoene: hoe sal ek so lank sonder my ou Mosbolletjie kan uithou? Waar ons heen gaan, daar in die grammadoelas, is daar nie telefone of enige vorm van kommunikasie nie. Ek pak vir my ‘n dik skryfblok en ‘n paar penne in.
Die afskeid in Durban se stasie was innig en lank en tranetrekker-swaar. Die trein was al lankal om die draai, toe hang ek nog by die venster uit om tog maar net in haar rigting te tuur, al kon ek haar lankal nie meer sien nie. Daardie eerste nag op die trein, stort ek alreeds my verlange op ‘n vel papier uit. Dis bitter swaar.........
Op die stowwerige kampterrein ‘n ent buite Potchefstroom staan ek angstig saam met die manne en wag. Die posbode moes al lááánkal terug gewees het met die pos! En dan, uiteindelik slaan daar ‘n stofstrepie uit op die grondpaadjie wat na die kamp toe oploop. “Daar kom hy!” skree iemand opgewonde. Die manne maal om eerste by die kêrel te kom, nog voordat hy behoorlik kan stilhou. Een-vir-een word die name uitgelees. Ek staan ongeduldig en rondtrippel. “Louis Nel!” hoor ek my naam, en dit klink soos die mooiste musiek in my ore.
Met bewende hande skeur ek die koevert versigtig oop. Ek drink die heerlike geur van haar parfuum aan die brief in. Ek lees die brief oor en oor en oor want ek wil nie ‘n enkele woordjie mis nie. Die manne spot my, maar ek gee nie om nie. Die groot verlange na die een wat ek innig liefhet is so effens bevredig. Vanaand stort ek weer al my hartsverlange uit op ‘n velletjie papier om vir haar te stuur, want ek weet sy wag vir my.........
Wanneer Paulus hierdie brief skryf aan sy “kinders” in Tessalonika, loop hy oor van verlange. Hy was maar net ‘n kort rukkie daar, maar daar het hy hulle leer ken en leer liefkry, en nou raak die verlange vir hom te veel. Hy brand om hulle te gaan sien, maar omstandighede verhinder dit. Paulus kry darem so ‘n klein bietjie bevrediging as hy vir Timoteus stuur om te gaan kyk hoe dit met hulle gaan. Liewe ou Timoteus! Wat sou hy tog sonder hierdie jong man gedoen het?
Waarom is Paulus se verlange juis vir hierdie gemeente so groot? Paulus sien in hulle iets van die wederkoms van Jesus. Hy weet dat hulle vir hom ‘n bron van blydskap en trots sal wees by die wederkoms! Is dit nie ‘n wonderlike getuienis van ‘n gemeente nie! Die lewe van die gemeentelede het ‘n ou man se hart brandend gemaak van verlange vir Jesus se wederkoms, want hulle leefwyse het getoon dat Jesus waarlik leef en dat Hy terugkeer om Sy kinders te kom haal om saam met Hom te wees.
Vir Paulus was die werklike beloning van sy werk nie geld of eer of roem nie. Sy grootste beloning was om te kon sien hoedat Jesus Christus deur die gelowiges in ‘n gemeente werk wanneer hulle Hom waarlik as Hoof erken het. Paulus skryf in vers 19 dat hierdie gemeente die kroon is op sy werk.
Waarin vind jy jou grootste blydskap? Is dit ook wanneer jy uitvind dat iemand vir wie jy gebid het, of met wie jy die evangelieboodskap gedeel het vir Jesus gevind het, en nou lewe tot Sy eer? Sal dit nie wonderlik wees as ek en jy ons lewenstaak in ons gemeente só kan inrig dat dit by almal met wie ons te doene kry die verlange sal kweek vir Jesus se wederkoms nie! Ek dink dat elkeen van ons as gelowiges die taak het om saam te werk sodat die gemeente waarvan ons deel is op hierdie wyse die boodskap van hoop kan uitdra. Die mense daar buite moet kan sien dat dit vir my heerlik is om ‘n gelowige te wees, en dat ek die werk wat ek in die gemeente doen diep uit my hart uit geniet. My taak moet nie vir my ‘n las wees nie, maar ‘n vreugde.
Maar my blydskap moet ook die res van die gemeente aansteek. In ons eie gemeente in Ballito werk dit beslis! Almal wat hier kom kuier van ander gemeentes af, praat van die liefde en blydskap wat hulle kan sien blom in ons gemeente. Ja, inderdaad is daar nog baie liefdeloosheid en tweedrag waaraan ons moet werk, maar dit is reeds ‘n goeie begin.
Hoe lyk jou eie gemeente? Wil jy nie daar die vuurtjie begin aansteek sodat dit by almal ‘n sterk verlange kweek om terug te kom na die gemeente toe nie, en dat dit ook die verlange na Jesus kweek nie?
Gebed:
Here, kweek asseblief by my daardie blydskap wat maak dat buitestaanders sal verlang na U.