Handelinge 21:17-26
Ek kan my verluister na die sanger: Chris Chamelion. Die verskeidenheid van musiekstyle wat hy aandurf is ongelooflik, en dan kan hy boonop sy stem in ‘n oogwink verander om die mees asemrowende klanke voort te bring. Ja, inderdaad het hy vir homself die regte verhoognaam gekies, want nes sy naamgenoot, die verkleurmannetjie, verander hy sy kleure na willekeur.
Maar as jy nou werklik iets wil sien wat kan kleur verander, dan is dit ‘n seekat. Binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde verander sy kleur, en selfs sy hele veltekstuur, om perfek aan te pas by sy omstandighede. Van ‘n gladde, soepel slak (ja, inderdaad is ‘n seekat ‘n slak!) kan hy sy vel verander na die growwe, stekelrige tekstuur van ‘n alg-begroeide rots, en sy kleur kan wissel van feitlik spierwit na pikswart, en ‘n reënboog van kleure tussenin, nog voordat jy jou oë kan knip.
Ou Paulus was ook so ‘n “verkleurmannetjie”, maar om totaal ander redes. Op sy sendingreise het hy saam met die heidene op die stadsplein gesit en redeneer, en waarskynlik dikwels by hulle oorgeslaap. Dit was natuurlik iets wat enige ware Jood beslis die horries sou gee! Nogtans was hy steeds ‘n Jood in murg en been. In sy jongdae was hy natuurlik ‘n Fariseër. Hy was beslis baie bekend met elke moontlike en onmoontlike Joodse gebruik. Paulus het ook empatie gehad met die Joodse gelowiges in Jerusalem wat baie noustrop getrek het, en daarom het hy geld ingesamel by al die “heidense” gemeentes om te help in Jerusalem se nood.
Die Joodse gelowiges het Paulus egter gewantrou, en daar was selfs van die gemeentelede wat geweier het om die geld te aanvaar, om die blote rede dat dit uit die nie-Joodse geledere kom. Hulle kon hulleself net eenvoudig nie versoen met die gedagte dat alle gelowiges een in Christus kon wees nie.
Paulus was bereid om alles in sy vermoë te doen om die vrede te bewaar en versoening te bewerkstellig. Met sy aankoms in Jerusalem gaan gesels hy dadelik met Jakobus en die ander leiers van die gemeente. Hy vertel opgewonde vir hulle van die wonderlike dinge wat daar in die sendingveld gebeur het. Maar hulle was meer bekommerd oor die huidige situasie en oor die gerugte van Paulus se “liberale” bediening wat die rondte gedoen het. Volgens hierdie gerugte sou Paulus die Jode geleer het om van die wet van Moses te vergeet, en om nie hulle kinders te besny of Joodse gebruike na te kom nie. Natuurlik was hierdie ‘n verdraaiing van die waarheid. Paulus het hierdie gebruike binne die Joodse gemeenskap gerespekteer. Hy het egter wél baie hard en duidelik gesê dat die onderhouding van die wet ‘n mens nie in die regte verhouding met God kan bring nie. Gaan lees maar gerus Galasiërs 3 en 4, waar Paulus hierdie hele probleem in diepte bespreek.
Die kerkleiers in Jerusalem kom toe met ‘n oplossing. Paulus sal sy ware Joodse kleure baie vinnig moet vertoon om sy beeld by die gemeente te herstel. Om sy lojaliteit te bewys, moes hy die Nasareërgeloftes van vier behoeftige gemeentelede vir hulle by die tempel gaan betaal. Dit klink egter eenvoudiger as wat dit werklik is. Hierdie was nie eenvoudig maar net ‘n geval van betaal nie. Die probleem was dat Paulus uit die heidenwêreld gekom het, en dat dit hom ongelukkig “onrein” gemaak het. Gevolglik kon hy aan geen godsdienstige aktiwiteite deelneem nie. Eers moes hy sélf deur ‘n reinigingsritueel gaan, wat behels het dat hy by die priester moes aanmeld. Op die derde dag word hy met water besprinkel deur ‘n priester, en eers op die sewende dag kon hy rein verklaar word.
Hier sien ons nou ‘n totaal ander Paulus as die een waaraan ons gewoond is. Op die sendingveld lyk dit asof hy alle Joodse tradisies oorboord gooi om die vertroue van die heidene te wen. Maar wanneer hy in Jerusalem kom, dan is hy weer die tipiese Jood wat deelneem aan al die Joodse gebruike en rituele, bloot om nie enigiemand aanstoot te gee nie.
Dit is bitter moeilik vir ‘n mens om uit jou gemaksone te beweeg. Om binne jou vriendekring en binne die situasie waaraan jy gewoond is oor die Evangelie te gesels, is baie maklik. Wanneer jy egter in totaal ander omstandighede nog steeds vrymoedig dieselfde gesprek wil voer, raak jy ongemaklik, veral as dit ‘n gemeenskap is met ‘n ander kultuur as waaraan jy gewoond is. Om in so ‘n situasie in te pas en die mense se vertroue te wen, moet jy jouself met hulle kultuur vereenselwig. Beweeg jy uit ‘n gegoede situasie na ‘n behoeftige gemeenskap, sal jy absoluut niks uitrig as jy uit die hoogte met hulle praat nie. Jy moet op dieselfde vlak as hulle wees. Jy moet dus as’t ware een van hulle wees om waarlik hulle vertroue te kan wen. Paulus het hier vir ons ‘n baie goeie voorbeeld gestel oor hoe die ding gedoen moet word. Die resultate wat Paulus behaal het was absoluut verstommend. Die rede was dat hy bereid was om homself prys te gee vir die een enkele saak: Jesus Christus. Is ek en jy bereid om dit te doen?
Gebed:
Here, ek bely vanoggend my hoogmoed, en ek vra dat U my daarvan sal bevry sodat ek bruikbaar kan wees in U Koninkryk.