Markus 9:2-8
Dit was nie ‘n baie goeie week vir Petrus nie. Jesus se woorde maal gedurig deur sy kop: “Moenie in my pad staan nie, Satan!”
“Waarom sê ek dan altyd die verkeerde dinge op die verkeerde plek? Sal my Meester my ooit vergewe?” Maar hierdie is nie ál wat vir Petrus pla nie. Hy het eintlik ‘n seer knop op die krop van sy maag oor Sy lyding. Die Jode gaan verskriklike dinge met Hom doen. En hulle gaan Hom doodmaak! Petrus wil so amper dink dat hy tóg reg was om die Meester oor Sy uitlatings te berispe!
Petrus kyk op en dan sien hy Jesus se vriendelike gesig. Sy oë soek dié van Petrus. Hy wink Petrus nader. “Kom Petrus, kom saam!”
Hy sien Jakobus en Johannes by Jesus staan. “Waarheen gaan ons?”
“Ons gaan teen hierdie berg opklim, net ons vier.”
Die ander manne kyk hulle vraend agterna: “Waarom gaan ons dan nie saam nie? Wat gaan julle daar bo doen?”
“Ek weet nie, ek dink die Meester gaan alweer bid.…!”
Die klim is nie maklik nie. Los klippertjies gly gedurig onder Petrus se sandale uit en dreig om hom te laat val. In stilte streep die vier die steil berg op, met Jesus vooraan. Wanneer hulle feitlik héél bo is, gaan staan Jesus. Petrus kyk terug oor die asemrowende uitsig. Die stilte is oorverdowend, weg van die gedurige skares mense wat sy ore laat tuit. Alleen, net hulle vier. “Hier is ons seker baie naby aan die hemel,” wil hy sê, maar dan bedink hy hom - netnou sê hy weer die verkeerde ding!
En dan raak Petrus bewus van iets wat besig is om te gebeur. Hy kry die gevoel dat God hier baie naby hulle is, so asof hy op heilige grond staan. “Ja, so het Moses seker gevoel toe hy daardie dag op die berg by die Here gestaan het!”
Wanneer Petrus omdraai, skrik hy hom yskoud. Sy Meester se gelaat het totaal verander, Sy gesig is skitterblink, en Sy klere - dit is onbeskryflik skielik witter as wit en glansend blink! Niemand het Hom nog óóit só gesien nie! Die drie manne staan sprakeloos en hulle monde hang onbeskaamd oop.
“Wat is aan die gang?”
“Ek weet nie, maar hier is iets baie groot besig om te gebeur!”
Die manne bewe van angs, of dalk onsekerheid, verwondering, verbasing. Hulle verstandjies is te klein om te kan begryp wat besig is om te gebeur.
Maar dis nog maar net die begin! Die grootste kom nog!
Skielik, uit die niet verskyn twee baie ou, wyse manne en gaan staan weerskante van Jesus. Petrus moet homself knyp om seker te maak dat hy nie droom nie – alles is só onwerklik! Die twee ou gryse manne lyk soos hemelwesens, en hulle het die voorkoms van wyse manne. Hulle klere gee die voorkoms dat hulle profete moet wees. Dan wéét Petrus: “Dis niemand anders nie as Moses en Elia daar saam met Jesus!” Die drie dissipels staan verdwaas en toekyk hoe die twee wyses met Jesus staan en gesels asof hulle ou vriende is!
Petrus is die eerste een wat sy spraak terugkry: “Rabbi, dit is baie goed dat ons hier is!” Hy babbel onbedaard met ‘n stem wat bewe van aandoening en verwarring. “Laat ons drie hutte hier bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia!”
(Markus se kommentaar op Petrus se uitlating, is dat Petrus beslis nie geweet het wat hy sê nie, want hy en sy twee maats was totaal verskrik.)
Maar nóg is dit nie die einde nie, want terwyl hulle verdwaas daar staan en kyk na die hemelse toneel wat voor hulle afspeel, hang daar skielik ‘n swaar wolk oor hulle wat sy skaduwee oor hulle laat val. Dan kom daar ‘n gesagvolle stem uit die wolk: “Dit is My geliefde Seun!”
Die manne krimp ineen van vrees! Hulle besef onmiddellik dat dit die stem van God is, en hulle bewe van angs. “Sal ons dit ooit oorleef?”
Dan gaan die stem voort: “Luister na Hom!”
Meteens is alles verby. Die wolk is weg; die stem is weg; Moses en Elia is weg. Slegs die oorverdowende stilte van die berg bly oor. En die herinneringe aan die onvergeetlike dag se gebeure wat met vuur in die manne se geheue ingegrafeer is. Hoe kan hulle dit óóit vergeet!
Jesus wou die gordyne van die hemel net so ‘n skrefie ooptrek vir die binnekring van Sy dissipels. Hulle moes finaal besef dat Hy nie daardie Messias was wat die Jode verwag het nie. Húlle verwagting was ‘n besondere Mens en sterk Leier. Jesus was egter véél meer as dit! Met Elia en Moses, twee baie gerespekteerde mense uit die Ou Testament wat alreeds in die hemel was, wou Jesus vir hulle wys dat Hy tuis was in die hemelse atmosfeer. En dan, daardie stem van God uit die wolk - daarmee wou God Persoonlik vir hulle kom sê dat Jesus baie meer was as net ‘n aardse Messias. Hy is inderdaad die Seun van God! Nou is daar absoluut géén twyfel meer nie. Maar daar was ook ‘n baie duidelike opdrag: “Luister na Hom!”
Die boodskap van hierdie gebeurtenis is eenvoudig: Jesus is nie alleen die Lydende Messias wat moes sterf vir ons sondes nie. Hy is óók die Seun van God wat triomfantlik op die troon sit. Hy is in die hemel, en Hy regeer oor die heelal. Maar Hy is tegelyk ook in Sy alomteenwoordigheid hier op die aarde by ons. Vir Petrus se verstand was dit net te groot om te begryp. Ek verstaan dit ewe min en dit maak dat my verstandjie vasvries. Maar ek aanvaar dit in geloof.
Gebed:
Here, U Wese is gans te groot vir my verstand om te kan verstaan. Maar ek glo, Here!