Matteus 6:9-15
Ons kan letterlik boeke skryf oor die vierde bede, waar ons die Here vra om ons sondes te vergewe. Ek het oor die jare al talle briewe gehad waar mense my met trane vra of dit ooit moontlik is dat God hulle groot sondes kan vergewe. Natúúrlik! Lees maar wat ons genadige Vader sê in Jesaja 1:18: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.” Psalm 103:9: “Hy sal ons sonde nie bly toereken nie.” Psalm 103:12: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” Rom 3:23: “Almal het gesondig ...... maar hulle word sonder dat hulle dit verdien vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”
Martin Luther het eenmaal gedroom dat die duiwel ‘n groot vel papier vir hom uitgehou het. “Al jou sondes is hier neergeskryf,” sê hy.
Luther vra hom toe: “is dit al?”
“Nee,” antwoord die duiwel, “hier is nóg twee groot velle vol!” In sy droom gryp Martin Luther ‘n pen en trek ‘n dik swart streep reg deur alles wat geskryf is.
“Wat maak jy nou?” skree die duiwel ontsteld.
“Dit is alles vergewe!” sê Luther triomfantlik vir die duiwel, “Jesus Christus het betaal vir al my sondes!”
As al my sondes dan alreeds vergewe is, waarom moet ek nog vergifnis vra? Baie eenvoudig: ek doen nog elke dag sondes! Ek lewe nie soos wat God van my vra om te lewe nie, en ek moet erken dat ek Hom dikwels baie bedroef. Weereens gaan dit oor my totale afhanklikheid van God. Ek het Hom so bitter nodig om uit die moeilikheid te bly, en ten spyte daarvan dat die Heilige Gees my gedurig waarsku om nie die verkeerde ding te doen nie, doen ek dit nog steeds. Daarom is dit nodig dat ek my kop in skaamte laat sak en sê: “Ek is jammer Here! Vergewe my asseblief weer ‘n slag!”
Daar is egter meer, want in die gebed verklaar ek: “want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree.” Die 1953 vertaling lui: “soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” Hierdie is die moeilike deel, want dit is nie altyd so maklik om ander te vergewe nie. Dikwels loop ‘n gelowige vir jare met ‘n wrok in die hart rond teenoor iemand wat hom te na gekom het. Hoe kan ons van God vra om ons sonde, wat dikwels dik boeke beslaan, te vergewe, as ons nie bereid is om iemand een enkele sonde teen ons te vergewe nie? Om te vergewe beteken dat jou hele houding teenoor daardie persoon moet normaliseer. Jy moet hom aanvaar as ‘n vriend, asof niks ooit skeefgeloop het tussen julle nie.
My Ouma was in ‘n konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog, waar afgryslike dinge met hulle gebeur het. Baie jare later het sy vir my gesê dat sy die Engelse vergewe het, maar vergeet? Nooit! Dit was onmoontlik! Sy het steeds die wrok in haar hart gedra oor die dinge wat hulle haar en haar gesin aangedoen het. Dan het sy hulle nooit waarlik vergewe nie!
Inderdaad is sommige dinge baie moeilik of onmoontlik om te vergeet. Maar dit gaan oor die persoon, dat jou vergifnis volkome is, sonder om iets terug te verwag. Bennie Mostert het dit mooi gestel: as ek ‘n boek vir iemand sou leen, en hy laat die boek wegraak, dan moet my reaksie wees om vir die persoon te sê dat alles in die haak is. Dan gaan koop ek ‘n boek uit my eie sak om dit te vervang, en vergeet daarvan dat hy ooit my boek geleen het.
Die laaste bede handel oor versoekings wat oor ons pad kom. As ons die Here bid om ons daarteen te beskerm, beteken dit dat ons dit aktief sal vermy. Die liedjie uit My Fair Lady lui: “The Lord above gave liquor for temptation, to see if man can keep away from sin. But with a little bit of luck, when temptation comes, you’ll step right in!” ‘n Totale wanpersepsie van versoeking! Daardie kêrel wens eintlik dat ’n ou versoekinkie oor sy pad sal kom sodat hy “per ongeluk” in die strik kan trap. Ons moenie die versoekings gaan soek nie! Ons moet júis van hulle af wegbly! As jy voor jou siel weet dat ‘n sekere sonde vir jou ‘n versoeking kan wees, dan bly jy weg van die plekke of situasies af waar dit voorkom. As dobbel vir jou ‘n versoeking is, kom jy net eenvoudig nie naby ‘n kasino nie. Einde van storie! Net soos wat ‘n alkoholis dit nie sal waag om ‘n druppel drank in sy huis te hou nie, want hy weet dat as daar ‘n krisis kom, gaan hy hom vergryp.
Dit is ook ‘n wanpersepsie dat die Here ons versoek. Die duiwel, die vyand is die versoeker! Dit is hý wat sy bes probeer om ons te laat struikel en weg te lok van God af. En dít is juis waarom ons die laaste gedeelte bid: “verlos ons van die bose.”
Kom ons kyk met nuwe oë na hierdie gebed, en gaan leef dit uit.
Gebed:
Hemelvader, ek loof vanoggend U heilige Naam. Ek wil graag ‘n nuttige burger van U Koninkryk wees. Ek is totaal afhanklik van U en ek vra dus dat U asseblief in my behoeftes sal voorsien. Vergewe my die baie oortredinge teen U en my medemens, en help my om hulle ook te vergewe wat my leed aangedoen het. Help my asseblief om uit die versoekings te bly, en maak my sterk teen die aanvalle van die Bose.