1 Petrus 3:13-17
Kort-kort is daar ’n storie in die koerante van iemand wat die een of ander aller-verskriklikste trauma deurgegaan het. En dan word ‘n instansie (gewoonlik die minister van wet en orde) gedagvaar vir miljoene oor die verskriklike onreg. Die verhaal loop gewoonlik so: die dame is rondgepluk deur ‘n verkeersman nadat hy haar gestop het vir ‘n “geringe” verkeersoortreding. Aan die verslaggewer vertel sy snikkend en neusblasend van die verskriklike trauma waardeur sy moes gaan toe hy haar boonop nog gevloek het, en daarna selfs laat opsluit het! Jy kry die arme weerlose vrou so bitter jammer wanneer jy die droewige verhaal lees. Was die verkeersman se absoluut onnodige aggressie geregverdig?
Later verskyn die verkeersman se kant van die saak in die koerant. Die dame het roekeloos bestuur - iets moes haar verskriklik ontstel het, want sy het geen beheer oor haar motor of haarself gehad nie. Hy het geen ander keuse gehad as om haar van die pad af te trek nie, want sy was ‘n gevaar vir haarself en ander padgebruikers. Daaroor was sy woedend en sy het uit die motor gespring en op hom afgestorm terwyl sy hom met die verskriklikste vuil taal peper. Toe skop sy hom waar dit baie seer maak!
Natúúrlik hét hy haar aan die skouers gegryp en geskud om haar tot bedaring te bring, en natúúrlik hét hy ‘n paar lelike woorde gesê toe sy hom skop. Hy het nie ‘n ander keuse gehad as om haar in hegtenis te neem nie, want hy kon sien hier kom sommer gróót moeilikheid!
Wie was reg? Dis steeds ‘n ope vraag! Dis egter baie belangrik hoe jy verontregting in jou lewe hanteer. Jou optrede nadat jy te na gekom is, wys immers wie die baas in jou lewe is. Jou optrede word gewoonlik bepaal deur ander mense se optrede teenoor jou. Dit is natúúrlik en menslik! As iemand goed en gaaf teenoor jou is, is jy mooi met hom. Dis baie maklik! Die bordjies word egter verhang wanneer iemand op jou tone trap, en dít omdat jy die regte ding doen! Jou reaksie is om dadelik op jou perdjie te spring!
Die oomblik as jy egter aggressief reageer, het jy klaar vir die ander persoon gewys dat jy toelaat dat hy jou afskrik van daardie pragtige voorneme om jou gedrag deur die Here te laat bepaal. Deur te probeer om jouself te vergeld, is jy eintlik besig om die baasskap of seggenskap van die Here in jou lewe weg te neem van Hom en dit te gee aan die mense wat jou verontreg. Die Here vra van jou om aan te hou goed doen, maar as jy jou laat dwing deur slegte mense om terug kwaad te doen, wys jy dat jy hulle die seggenskap in jou lewe gegee het. Daardie heilige eerbied vir Christus die Here alleen (vers 15), wys dan nie meer in jou lewe nie.
Wanneer jy egter aanhou om goed te doen ten spyte van wat ander mense onverdiend aan jou doen, gaan daar ‘n dag kom wat mense begin raaksien dat daar iets anders in jou lewe is. Dat daar ‘n soort kalmte is wat jou dra deur al die aanslae van ‘n onredelike baas of kollega. Mense gaan jou begin vrae vra: hoe kry jy dit reg om so koel en kalm, alles maar net soos water van ‘n eend se rug af te laat rol? Hoekom het jy hom nie al lankal woedend sy fortuin vertel nie?
Dan moet jy gereed wees met ‘n antwoord, want hier val vir jou die wonderlikste getuienisgeleentheid in jou skoot. Jou verhouding met Christus dra jou deur dit alles. Getuig met vrymoedigheid van wat Jesus alles vir jou beteken, want hulle het jou mos gevra om te getuig! Jy moet hier egter ook uiters versigtig wees, want jy is nie verhewe bo enige persoon nie, selfs nie ‘n ongelowige nie. Juis daarom moet jy nóóit uit die hoogte ‘n getuienis lewer, asof jy beter is as iemand anders nie. Jou beskeidenheid moet wys dat dit God se krag is wat hier in jou optrede sigbaar is, en dat jy hierdie dinge uit eerbied vir God doen. Hy is immers die Baas in jou lewe.
Om terug te kom na die vrou en die verkeersman: sy het waarskynlik gekry wat haar toekom, want sy het die wet oortree en boonop die verkeersman beseer! Die verkeersman, aan die ander kant, het die saak totaal verkeerd hanteer. Dinge kon só anders uitgewerk het as hy net kalm en rustig sy plig gedoen het sonder om fisies te raak en te vloek, want só kon hy die situasie ontlont. Sy optrede (alhoewel dit waarskynlik geregverdig was) het die situasie net vererger. Die oomblik as jy terug kwaad doen, het jy nie meer ‘n skoon gewete nie.
Dit gee ook vir mense ‘n lat om jou mee te slaan, en dan verdien jy jou swaarkry. As jy jou egter laat lei deur die Heilige Gees, en die onreg met ‘n vriendelike glimlag beantwoord, sal mense skaam kry oor hulle optrede. En die bonus is dat jy daardeur ‘n ambassadeur word vir Christus.
Gebed:
Here, dit is so bitter moeilik om nie kwaad met kwaad te vergeld nie. Maak my asseblief gewillig om U liefde uit te straal, selfs al word ek deur mense verontreg!