Verdeeldheid

5 June, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verdeeldheid

1 Korintiërs 1:4-17

VIDEO | SPOTIFY

Paulus rig die brief aan die gemeente van God in Korinte. “Ek dink jy moet vir my nog ’n sinnetjie invoeg by die aanhef. Hierdie brief gaan opslae maak, en dalk gaan baie meer mense as net die gemeentelede in Korinte dit lees.” En dan vra Paulus vir Sostenes om die volgende na “geroepe heiliges” in te skryf: “saam met almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep, hulle Here en ons Here.”

Paulus glimlag: “Ja, ek wonder hoeveel mense ooit hierdie brief sal lees? As ‘n paar honderd mense hierdie brief onder oë kan kry, sal ek ‘n baie gelukkige man wees! Wie weet - dalk doen hierdie brief vir die volgende jaar of drie nog steeds sy rondtes onder gemeentes. Inderdaad kan ál die gemeentes iets hieruit leer!”

Ja, min het Paulus geweet dat hierdie brief vir die volgende tweeduisend jaar nog steeds kruis en dwars reg rondom die wêreld sou gaan, en dat baie miljoene mense dit sou lees en daaruit leer. Daardie “paar honderd” wat hy dalk in gedagte gehad het, het sy stoutste verwagtinge ver oortref! Sou hy dalk die brief anders bewoord het as hy dit geweet het? Ek twyfel!

“Kom ons sluit die aanhef af met ‘n seënwens”, sê Paulus vir sy sekretaris, “Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus!

Paulus dink diep na oor sy seënwens: “Weet jy, ek voel so jammer vir daardie arme mense wat so mislei word. Die morele verval in Korinte is skokkend, en dan is daar boonop die verskriklike verdeeldheid en selfs hofsake tussen gemeentelede. Hoe bitter nodig het hulle nie juis nóú hierdie seënwens nie! Die arme mense het God se vrede en Sy heerlike genade só broodnodig! Dit is my innige gebed dat hulle dit werklik sal ervaar, maar ook ál die ander mense wat hierdie brief lees!”

Sostenes knik instemmend: “Amen!”

Nou volg die gebruiklike danksegging, en Paulus moet eers baie mooi dink of daar werklik iets is waarvoor hy kan dankie sê in die gemeente, veral na al die ontstellende berigte.

Ek dank my God deurentyd oor julle, en vir die genade van God wat aan julle gegee is in Christus Jesus.” begin Paulus half huiwerig. Maar hoe meer hy dink, hoe meer mooi dinge sien hy tóg, ten spyte van die lelike. Kyk, in daardie gemeente is daar 'n oorvloed van kennis van die Woord. En daar is 'n verwagting na Jesus se wederkoms. Boonop is die Boodskap van Christus goed onder hulle gevestig. Ja, inderdaad is daar baie om voor dankbaar te wees!

Want deur Hom is julle in alle opsigte verryk in elke woord en in alle kennis.” dikteer Paulus voort terwyl Sostenes die skerpgemaakte gansveer laat dans oor die perkament.

Met die danksegging afgehandel, haal Paulus 'n slag diep asem. Nou kom hy by die moeilike deel - hy moet die probleme in die gemeente een-vir-een pak en aan die kaak stel! Die eerste groot probleem is die een van verdeeldheid wat dreig om die gemeente uitmekaar te skeur. “Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie.” En dan praat hy oor die onding, dat elkeen agter sy eie leraar aanhardloop. “Is Christus verdeel? Paulus is tog nie vir julle gekruisig nie? Of is julle dan in die naam van Paulus gedoop?” huil hy. Paulus troos hom aan die feit dat hy, buiten vir twee of drie mense, niemand anders in daardie gemeente gedoop het nie, want anders sou hulle dalk nog gesê het dat hulle in sý naam gedoop is!

Verdeeldheid is 'n afskuwelike ding! Ons eie gemeente is oor die afgelope klompie jare by minstens vier geleenthede so byna-byna uitmekaar geskeur, en elke keer het dit aaklige letsels gelaat, waarvan sommige vandag nog steeds nie heeltemal geheel het nie. Dit is iets wat die kerk bitterlike groot skade kan berokken.

Verdeeldheid word dikwels veroorsaak deur “edele” dinge, en persone wat onverbiddelik by hulle standpunte staan, en almal wil dwing om daarby in te val. In die proses probeer hy dan so veel moontlik mense beïnvloed om soos hy te dink.

Die probleem is dat, hoe meer mense hy oorreed, hoe sterker raak die teenstand teen sy gedagtes. En as niemand wil kopgee nie, dan het jy verdeeldheid en dalk selfs totale skeuring.

As ons maar net kan leer om mekaar in liefde te respekteer, en te weet dat mense altyd gaan verskil oor sekere dinge, dan sal daar soveel minder verdeeldheid wees. As ons maar net Jesus se liefdesgebod sal onthou, dan kan daar nie verdeeldheid wees nie. Hy het gesê dat Hy ons 'n nuwe gebod gee, dat ons mekaar moet liefhê – dis nou ons medegelowiges. Maar verdeeldheid kweek haat, en dan is al die liefde daarmee heen!

Moeilike mense sal daar altyd in elke gemeente wees. In plaas daarvan om so 'n persoon sommer net af te skiet, kom ons gaan sit in liefde saam met hom en luister na sy kant ook, en dan probeer ons om iewers tot 'n vergelyk te kom, al beteken dit dan nou ook dat ons die minste moet wees.

Gebed:

Here, help ons asseblief om ten alle koste verdeeldheid te vermy. Gee vir ons ware liefde en baie wysheid!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026