Verantwoordelike Vryheid

1 August, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verantwoordelike Vryheid

1 Korintiërs 9:19-23

O, die wonder van ware vryheid! Vlieg hier eendag mos ‘n klein voëltjie in my kombuis in. Toe ek sy noodroep hoor, gaan ek dadelik kyk wat fout is. En daar sit die verbouereerde klein bedremmelde dingetjie teen die venster. Hy spook en spartel om deur die glas te kom, want anderkant sien hy die wye oop wêreld en die tuin. Maar hier is hy vasgevang in ‘n warboel van goed wat sy lewe wil beheer en hom vasdruk. Versigtig probeer ek hom vang, maar dit maak hom net nóg meer verbouereerd, en hulpeloos spartel die arme outjie en hy vlieg kruis en dwars deur die kombuis.

Uiteindelik, met groot moeite kry ek hom tóg gevang, en ek voel die warm, brose ou lyfie in my hande. Ek vat hom buitentoe, en maak my hande stadig oop. Skielik sien hy vryheid. Soos ‘n weerligstraal skiet hy uit my hande en gryp die vryheid met albei vlerke aan.

As jong man was Paulus as’t ware in ‘n tronk. Nou nie een met mure en fisiese kettings nie, maar een met reëls en regulasies, rigiede moets en moenies. Hy het nooit uit hierdie tronk probeer ontsnap nie, maar juis homself al dieper en dieper hier ingegrawe. Stringe en stringe wette het hy uit sy kop geleer, en elkeen daarvan het hy streng en bitter noukeurig nagekom, tot in die fynste detail. Voor daardie dag naby Damaskus toe Jesus hom gekonfronteer het, was Paulus ‘n Fariseër. Eintlik was die Fariseërs nie slegte mense nie, maar baie goeie mense, wat probeer leef het volgens God se wet. In hulle pogings het hulle egter só verstrik geraak in tradisies en mensgemaakte wette, dat hulle totaal die sin van alles - LIEFDE - misgekyk het.

Toe kom maak Jesus daar by Damaskus vir Paulus vry. Hierdie vrymaak-proses het nie sonder sy pyn en trauma gegaan nie. Dit het vir Paulus etlike jare geneem om aanvaar te word en om die ware omvang van sy nuwe vryheid te verwerk.

Vryheid bring egter verantwoordelikheid mee. Toe ek daardie voëltjie losgelaat het, was sy eerste prioriteit om van die gevaar af weg te kom, en veral om die kat te vermy. Vir Paulus het sy vryheid ‘n ander soort verantwoordelikheid meegebring. Sy groot passie in die lewe was om ander mense ook daardie vryheid te gee wat hy gekry het. In hierdie taak het hy ál sy krag en energie gesit. Soms het dit selfs beteken dat hy van sy eie vryheid moes prysgee net om dit vir ander te kon gee.

Ja, Paulus het homself losgemaak van die ou bindende Fariseërspraktyke, want hy het ál te duidelik besef dat dit nie wette is wat red nie maar alleen Jesus. Soms was dit egter nodig dat hy téén sy grein in weer van hierdie praktyke moes beoefen ter wille van vrede. So moes hy vir Timoteus laat besny sodat hy kon toegang kry tot Joodse sinagoges, al het hy nie daarmee saamgestem nie. “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen,” sug Paulus in 1 Kor. 9:20. Dit kon nie vir hom maklik wees om weer die ou juk te moes opneem, terwyl hy dit juis uitgebasuin het dat dit nie nodig is om onder daardie juk gebuk te gaan nie.

Vandag sit baie sendelinge in die sendingveld met presies dieselfde dilemma. Alhoewel hulle preek dat Jesus vrymaak, moet hulle sélf dikwels gebonde wees aan ‘n sekere vorm van kleredrag en rituele, net om nie aanstoot te gee nie. Deur sélf vrywillig gebonde te wees, wen hulle só die respek en vertroue van die mense, en dit maak vir hulle deure oop om die Evangelie te verkondig. So byvoorbeeld gesels ek eendag met ‘n sprankelende jong meisie in die sendingveld by Bambizana. In plaas van die gemaklike klere wat by ‘n jong meisie pas, kom sy aangeloop deur die veld, geklee in ‘n lang rok wat tot op haar voete hang, en toegeknoop is tot onder haar ken. “As ek nie so aantrek nie,” vertel sy, “sal die vroue my verwerp, want ek moet soos ‘n ordentlike vrou geklee wees om hulle respek te wen. Hierdie is hoe al die gerespekteerde vroue van die gebied aantrek.

Ek dink nie dit was maklik vir Paulus toe hy vir die eerste keer varkvleis saam met die heidene moes eet nie. Dit was immers van kleins af in hom ingedril dat jy niks “onrein” mag eet nie. Maar hy moes al sy fiemies prysgee ter wille van die Evangelie. En wanneer iets vir iemand ‘n probleem was, het Paulus daarby aangepas, net om siele vir Jesus te kon wen.

As gelowiges het ek en jy daardie wonderlike vryheid gekry waarvan Paulus praat. Maar saam met die vryheid kom daar ook ‘n sekere verantwoordelikheid. Die Here wil hê dat ons daardie vryheid moet geniet, en hy vra ook nie dat ons weer gebuk moet gaan onder die juk van die wet nie. Maar ons moet bereid wees om soms vrywillig ons vryheid prys te gee ter wille van ander mense. Ek is byvoorbeeld baie lief vir my rooiwyntjie, veral daar langs ‘n vuurtjie in die Bos. Maar as dit vir iemand ‘n probleem is, bly ek liewer daarsonder. En ek sal selfs iets eet waarvan ek gladnie hou nie as dit sou beteken dat ek iemand nie te na kom nie. Jesus is belangriker as my voorkeure!

Gebed:

Here, help my asseblief om my wonderlike vryheid met verantwoordelikheid te gebruik.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026