Eksodus 14:1-14
‘n Wildtuinvakansie was nog altyd vir my en my gesin ‘n groot lekkerte waarna ons vir maande uitsien. Die kortste pad Wildtuin toe hier uit Ballito, is deur Swaziland. Daardie oggend van die aanbreek van ons vakansie, is dit bitter vroeg uit die kooi. Alles is opwindend-anders - die padkos, die asemrowende dagbreek op die pad, die nuwe natuurtonele. Alles gaan voor die wind. Maar dan kom die Swaziland grenspos, en jou hart sak in jou skoene as jy ‘n tou motors en vragmotors en boonop nog ‘n toerbus met ‘n paar honderd Hollanders voor jou kry. En een enkele klerkie moet almal se paspoorte prosesseer. “Ons gaan nooit óóit by die wildtuin kom nie!” kerm ons saam. “Dit gaan ure neem! Ons moes liewer rondom Swaziland gery het.......”
In die kamp van Israel heers daar baie groot opgewondenheid. Na vierhonderd jaar van slawerny is hulle vry. “Beloofde Land, hier kom ons!” Die trek is vrolik, en die wonder van God se teenwoordigheid dag en nag in die wolkkolom is so gerusstellend. En dan het hulle so ‘n wonderlike charismatiese leier soos Moses. Darem jammer dat die man so sukkel om te praat.
‘n Paar van die manne loop met groot kommer in die hart oor die rigting wat hulle inslaan - dit is dan gladnie in die koers van Kanaän nie - dit is skoon skuins die woestyn in. En as hulle reg onthou is daar ‘n see tussen waar hulle nou op pad is en Kanaän. Hulle hoop dat Moses iets weet wat hulle dalk nie weet nie. En dan word hulle ergste nagmerries waar as hulle oor die berge kom, en die see lê wyd uitgestrek daar onder, so ver as die oog kan sien. “Hoe kom ons daar deur?” wil ‘n paar leiers van Moses weet. “God sal voorsien!” is al antwoord wat Moses gee. “Ons gaan kamp maak by die see.” kom die bevel. Vir baie van die Israeliete is dit die eerste keer in hulle lewe dat hulle die see sien. Hulle is opgewonde!
Intussen, in Egipte heers daar ‘n baie groot ontevredenheid. Skielik is die ganse Gosenstreek verlate. Hulle hele slawemag is weg, en vir die eerste keer in hulle lewens moet die Egiptenare nou sélf begin werk. Daar word ‘n afvaardiging van amptenare na die Farao gestuur om hierdie saak met hom uit te klaar - so kan dit beslis nie aangaan nie! “Wat gaan ons maak?” wil hulle van die koning weet. Woede kook steeds in sy hart oor sy lieflingseun wat dood is, en dit is alles net daardie Israeliete se skuld!
“Ons gaan hulle haal!” tier hy, “Waar is hulle nou?”
Die minister van verdediging beduie dat hy baie goeie nuus het. Sy verspieders het hom laat weet dat hierdie spul Israeliete skoon koekoes geraak het, en hulle rigting totaal kwyt is. Hulle het onder daardie siniele ou man se leiding hopeloos verdwaal in die woestyn. En die beste nuus van alles is dat hulle hulle nou vasgeloop het teen die Rietsee. Daar is géén manier wat hulle daar kan deur nie, en om rondom te trek, moet hulle eers weer al die pad terugkom. “Hulle is vas! Kom ons gaan kry hulle!” pleit hulle die Farao.
“Span my strydwa in!” kom sy bevel. Hy wil persoonlik daar wees om af te reken met daardie Moses!
Seshonderd strydwaens, elk met ‘n bemanning van drie, trek vroegoggend in ‘n groot stofwolk weg, reguit in die rigting van die Rietsee. Dit is ‘n woedende klomp soldate, want elkeen van hulle rou nog oor ‘n kind wat op bonatuurlike wyse gesterf het - alles die gevolg van daardie Israeliete en hulle God. Haat dryf hulle om vinniger te jaag. En hulle moeite word beloon, want as hulle oor die ruwe berge kom, sien hulle daar onder op die strand teen die Rietsee hoe die Israeliete besig is om kamp op te slaan. “Manne, ons kamp net hier uit vir die nag!” kom die bevel van die generaal.
Intussen, in die Israelitiese kamp, is dit rustig. Hulle geniet die groot lekkerte van die see en die rustige atmosfeer. Ja, dit was ‘n harde trek tot hier, maar hulle is vry - nêrens is daar ‘n slawedrywer met sy bitsige sweep nie. “Pappa, wat maak al daardie mense daar bo-op die berg?” wil een outjie weet. Die pa kyk om en tot sy ontsteltenis sien hy die skilde blink in die laatmiddagson - onmiskenbaar dié van Egiptiese soldate. Die alarm word gegee, en binne minute heers daar algehele paniek in die kamp van Israel. ‘n Klompie woedende leiers gaan trap vir Moses vas: “Wat het jy ons nou aangedoen?” wil hulle weet, “Hier sterf ons vandag in die woestyn! Ons is vasgekeer soos ‘n klomp rotte!” Maar Moses is kalm. Oor die afgelope paar maande het hy telkemale verstom gestaan oor God se almag. Hy het nie die vaagste idee hoe hulle uit hierdie angswekkende penarie gaan kom nie, maar hy is ook nie in die minste bekommerd nie - God sal hulle hieruit red. God het vir hom laat verstaan dat Hy juis hierdie onmoontlikheid wil gebruik om weereens Sy almag te bewys.
Soms is daar ook sulke onmoontlike situasies in ons lewe, waar God vir ons wil sê: “Wees rustig, My kind - Ek wil hierdie situasie gebruik om My almag te bewys.” Kom ons vertrou God, selfs wanneer alles vir ons verlore lyk!
Gebed:
Here, so dikwels staar ek my blind teen die probleme in my lewe, en dan sien ek U nie raak nie. Haal asseblief die skille van my oë af!