Vark in die Nag

3 October, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vark in die Nag

Hebreërs  4:12-13

VIDEO | LUISTER

Diere is in ‘n sekere opsig so ontstellend voorspelbaar. As jy deur die wildtuin ry, dan sal jy dadelik weet, sonder om eers te kyk, wat die rooibokke doen: hulle loop en wei, en paartyd brul die ramme soos leeus en baklei van sonop tot sononder en dan boonop reg deur die nag ook. Leeus slaap. So lyk dit, ten minste, want al wat jy leeus óóit sien doen is slaap. Hulle spandeer tot soveel as 20 uur per dag aan slaap! Ek dink dis 'n mite dat leeus bokke vang. Het jy al ooit 'n leeu 'n bok sien vang? Dit gaan my verstand te bowe hoe die ouens wat die natuurflieks maak die leeus so vêr kry om te jag - my leeus slaap! ’n Visarend sit in ‘n boom en mooi lyk. Soms gaan vlieg hy 'n draai daar hoog in die lug, maar meestal sit hy net. Visvang? Nog nooit een gesien wat visvang nie! Diere is so voorspelbaar!

En dan is daar vlakvarke: Hulle grawe vir wortels of knip die kort grassies nog korter. En as hulle skrik, dan wapper hulle vlaggies aan ‘n lugdraad. Hulle rol ook graag in die modder. Interessante diere, want hulle het nogal ’n groot repertoire! Snags sien jy hulle natuurlik nooit, óóit, want dan kruip hulle weg in ‘n gat. Vlakvarke is só voorspelbaar!

Maar is hulle rêrag so voorspelbaar?

Een aand sit ons by ons kampvuurtjie in die bos - dis al pikdonker, en die leeus is lekker aan die gesels daar onder langs die Krokodilrivier (o ja, leeus brul in die nag - so hulle slaap darem nie áltyd nie!) Selfs die ou wolf-met-die-mank-been is al hard besig om sy droewige lied te sing vir ‘n maat wat iewers op soek is na ‘n stukkie oorskietvleis. Alles is rustig hier om die vuur - baie rustig. Dan skielik is daar ‘n geritsel - ‘n takkie wat kraak. My hart mis ‘n slag of twee, en Mosbolletjie gryp na die flitslig. Wat kan dit wees? Uit die digte bos loer die lelikste gesig wat ek al óóit in my lewe gesien het, met twee opkrultande en bloedbelope oë wat tussen die vuil, rowwe plooie deur vir ons loer. Hy gee ‘n ongeërgde snork en stap verby na waar daar ‘n paar mieliepitte op die grond lê. ‘n Vlakvark! In die nag?! Hierdie vark het beslis ‘n duister kant aan hom - hulle loop mos NOOIT snags rond nie! Duikertjies, ja, húlle loop snags - ons het juis ‘n hopie mieliepitte en oorryp vrugte vir die duikertjie uitgegooi - ‘n skattige ou bokkie - so skaam en skugter, en altyd bang dat iemand besig is om hom te bekruip uit die donkerte.

Die verskrik-gevreet vark gee ‘n snork, kyk ‘n slag arrogant na ons, en dan takel hy die vrugte. Slurp-slurp vreet hy dit oopbek op. En dan kom die duikertjie se hopie mielies aan die beurt - mieliepit-vir-mieliepit word hulle opgetel deur die wielneus. En wanneer dit lyk asof daar niks meer oor is nie, dan suig hy nog ‘n paar pitte uit die stof op. Ek gril! Hy gee ‘n paar treë in ons rigting en staar ons aan. Ek vererg my vir die ongemanierde vark, tel ‘n stuk hout op en gooi hom. Dis raak maar hy maak asof hy dit nie gevoel het nie. En dan, soos hy gekom het, so verdwyn hy weer die nag in…...

En ek wonder…. Mens dink jy ken iemand, maar eintlik weet jy niks van hom af nie!

Maar wag nou eers ‘n bietjie - moenie die fout by ander gaan soek nie - dalk moet ek eers by myself begin. Almal dink hulle ken my – hierdie vriendelike, lieftallige ouderling. Maar weet hulle rêrag wie ek is? Weet hulle van die donker kant van my lewe? Weet hulle dat daar agter hierdie vriendelike lag ‘n donderwolk in my binneste hang? Ene met blitsende weerligstrale? Nee, natúúrlik sal hulle nooit weet nie, want ek kan dit baie goed wegsteek! Net ek en ekke alleen weet daarvan. My geheim is veilig, baie, baie veilig……..

Maar is my geheim ooit so vreeslik veilig weggesluit in my Fort Knox kluis? Die Hebreërskrywer waarsku: “Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.” En dan gaan hy voort deur te sê dat absoluut niks vir die Here onsigbaar is nie, en dat alles oop voor Hom lê, en die ergste, dat ons sal moet rekenskap gee!

Ons bly nou maar eenmaal mense, propvol swakhede. Versoekings kom oor jou pad, en partymaal val jy pens en pootjies binne in hierdie versoeking. Sondes ry ons bloots, en al probeer jy ‘n vroom gesiggie opsit voor die mense, is daar tóg die sondes in jou donker binneste waarvan niemand anders weet nie. Die sielkundiges praat van die skadukant van die mens - Freud noem dit die Id (die DIT) - die dier in ons. Dalk daardie vlakvark? Natuurlik wil ons almal sekerlik maar ‘n heel mens wees - ‘n mens verlos van die duistere dinge in jou wat jou dinge laat doen wat onaanvaarbaar is.

Het ek nou ‘n verskriklike donker prentjie geskilder? Inderdaad! Maar dalk is dit nodig dat ons van tyd tot tyd introspeksie doen en weer tot besinning kom. Maar gelukkig is dit nie waar die Hebreërskrywer eindig nie - hierdie is die inleiding om vir ons die wonderlike nuus te gee van Jesus se ingryping in die donker situasie. Maar daaroor berig ons DV in die volgende dagstukkie. Moenie dit misloop nie!

Gebed:

Here, U alleen ken my hart - die duister dinge wat ek met my saamdra. Dankie dat ek dit vir U mag bring. Vergewe my asseblief, en was my skoon!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026