Van Weeskind tot Koningin

5 May, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Van Weeskind tot Koningin

Ester 2:8-10

Video

Audio

Ester se mond hang onbeskaamd oop wanneer sy die stad Susan binne loop. Oral waar sy kyk staan daar groepies jong meisies rond, almal haar ouderdom. En die een wil mooier wees as die ander! ‘n Amptenaar begelei haar na ‘n groot gebou van kunstige klipwerk, versier met marmer en goud, en oral is daar die mooiste beeldhouwerke. Wanneer die reuse swaar deure aan hulle kunstige koperskarniere oopswaai, oorweldig die ware skoonheid van die gebou haar. Sy snak na haar asem. Silwer kandelare met olielampe verlig die kollosale vertrek met sy marmervloere en rye beeldhouwerke. Haar mond hang skaamteloos oop!

Hulle stap deur eindelose gange tot hulle te staan kom voor ‘n swaar deur met twee wagte wat die ingang bewaak. In ‘n weelderige vertrek sit ‘n man druk besig agter sy lessenaar. “Dit is Hadassa” kondig die amptenaar aan.

Die man agter die lessenaar kyk gesteurd na Ester, en dan verskyn ‘n glimlag van waardering op sy gesig. “Ek is Hegai. Al die koning se vrouens is onder my sorg.” Hegai bekyk Ester van alle kante af, voel hier, druk daar, totdat sy later voel soos ‘n skaap op die mark wat deur sy kopers geïnspekteer word. “Hmm, niks wat ‘n bietjie olietjies en kruie nie kan regmaak nie. Vat haar na die vrouekwartiere toe, sy is ‘n baie goeie kandidaat!”

Ester wod geneem na ‘n groot saal met ‘n klomp beeldskone meisies, almal kandidate vir die kompetisie. Die volgende oggend vroeg word Ester wakkergeskud: “Die matrone soek jou!” Wanneer sy in die vertrek instap, wag daar nie minder nie as sewe paleisbediendes vir haar om haar te versorg. Sy word verskuif na nuwe luukse kwartiere. Maar Ester het skaars tyd om haar te vergaap aan al die mooi, want sy moet sommer dadelik begin met haar eerste skoonheidsbehandeling. Sy word van kop tot tone gemasseer met mirre-olie. Nog nooit in haar lewe het Ester so spesiaal gevoel nie. Die geur van die olie vul die hele vertrek - ‘n geur amper soos mos. Sy kan eintlik voel hoe die olie haar soepel vel nog meer ferm maak.

Mordegai, ‘n eenvoudige Jood getrou aan sy Joodse tradisie, se lewe was gekenmerk deur talle krisisse. Toe ‘n naby familielid en sy vrou skielik sterf, kry hy die taak om hulle dogtertjie, klein Ester groot te maak. Hy het baie lief geword vir hierdie kind. En nou word hy alweer in ‘n krisis gedompel wanneer die koninklike amptenaar haar kom haal vir die skoonheidskompetisie. Vir Mordegai was dit een te veel, en hy besluit om agterna te gaan, hy wil sien dat hulle sy meisiekind goed behandel!

En so stap Mordegai dag-vir-dag op en af voor die paleisdeure, in die hoop om tog net iets van sy kind te hoor.

Wat Mordegai egter nie besef nie, is dat sy meisiekind met ‘n doel van hom weggeskeur is. God het ‘n reuse taak wat vir haar wag. Maar Mordegai, die doodgewone ou Jood, was eweneens met ‘n baie groot doel agter haar aangestuur na die paleis, al het hy dit dalk nie so ervaar nie. Hy was daar om gesprekke te hoor en sy lojaliteit aan die heidense koning uit te leef, want alleen só kon sy volk gered word.

Inderdaad gebruik die Here doodgewone mense om Sy heilige raadsplan uit te voer, nie konings, professore en staatshoofde nie, maar doodgewone mense. Ester was nie alleen ‘n verfoeide Jodin nie, maar boonop ‘n weeskind. Mordegai was ‘n krygsgevangene in ‘n vreemde land, sonder enige regte. Wat van jou en my?

intussen, in die luukse vrouekwartiere van die paleis is die taakspan hard aan die werk om Ester voor te berei vir die groot dag van die kompetisie. Sy en die ander meisies word vir ‘n volle jaar behandel met mirre olie, allerhande skoonheidsmiddels en reukolies. Boonop is al die meisies op ’n streng dieet om hulle soepel te maak en die vel ’n glans te gee. En al die tyd was ou Mordegai pligsgetrou op sy pos by die poort van die koning se paleis!

Dan breek die groot dag uiteindelik aan. Die meisies kon self kies waarmee hulle die koning wou beïndruk. Die haremopsigter, Saäsgas se raad aan Ester is egter: “Vergeet al die tierlantyntjies, wees net jouself, jy is mooi genoeg!”

Wanneer Ester se beurt kom, volg sy Saäsgas se raad. Die skoenlappers baklei wild in haar maag, maar sy hou haar kop hoog en doen alles wat sy geleer is. Soos ‘n ligte briesie sweef sy die troonsaal binne. Almal snak na hulle asems as hulle die beeldskone meisie so vol selfvertroue en grasie sien binnekom. Die héél belangrikste gebeur egter: sy slaan Koning Ahasveros se voete skoon onder hom uit! Dit is liefde met die eerste oogopslag!

Die huwelik word voltrek en Ester word gekroon as Koningin oor die magtige Persiese Ryk.

God plaas mense waar hulle nodig is. Hy het vir Ester en Mordegai op presies die regte plek geplaas. Hy plaas ook vir jou en my op presies die regte plek. Wees gereed vir die dag wanneer die Here jou vir ‘n spesiale taak wil gebruik. En wanneer die dag aanbreek - pak jou taak aan met grasie en selfvertroue soos Ester.

Gebed:

Here, dankie dat U ook vir my ‘n taak het. Gee my asseblief die ywer om dit met grasie uit te voer.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026