Van Verlore na Gered

30 May, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Van Verlore na Gered

Efesiërs 2:1-10

VIDEO * OUDIO

Ons kan Efesiërs 2:1-10 kortliks in dié sinnetjie opsom: Ons was dood as gevolg van ons sondes, maar God het ons in Jesus herskep, daarom moet ons die goeie werke doen wat Hy van ons verwag. Kort en saaklik!

Ek dink egter nie ons besef aldag die volle omvang van hierdie kort gedagte nie. Laat my toe om te probeer verduidelik. Iemand kom na my met ‘n versoekie: hy het ‘n boek geskryf en nou wil hy hê dat ek dit vir hom moet druk. Eenvoudig! Voordat ek dit egter kan druk, moet sy skryfwerk egter eers geredigeer word, want sommer met die intrapslag sien ek al ‘n paar spelfoute. Die eerste stap is om die manuskrip te verwerk sodat dit in drukbare vorm is en dan druk ek een eksemplaar uit. My Mosbolletjie is die taalkenner en sy kry die eerste gedrukte boek. Nou begin die groot taak om die boek woord-vir-woord deur te lees, rooi pen in die hand en elke foutjie te merk. Dit kos weke se noukeurige, tydrowende hard-konsentreer leeswerk, want letterlik elke kommatjie moet nagegaan word.

Wanneer sy uiteindelik by die laaste bladsy kom, word ek nadergesleep. Nou gaan ons die boek saam deur en bespreek elke fout en maak reg. Wanneer ek almal reggemaak het op die rekenaar, word hy weer ‘n slag uitgedruk en dan lees sy hom ‘n tweede keer noukeurig deur om te soek vir foutjies wat dalk iewers oorgeslaan is. Eers wanneer sy hiermee klaar is, kan daar begin word om die boek finaal op te stel en te druk en bind. Dan word ‘n omslag ontwerp en omgesit en die boeke moet netjies gesny word met ‘n reuse papier-snymasjien. Harde werk! “Druk gou-gou vir my ‘n boek!” raak ‘n reuse taak wat maklik ‘n maand kan duur!

Wat moes alles gebeur sodat ek, verlore sondaar, omskep kon word in ‘n vrugdraende gelowige? Dit is soos om die proses te beskryf waar ruwe kakaobone omskep word in hemelse Belgiese sjokolade! Dit gebeur nie sommer maar net só nie! Maar die resultaat…….. Ai!

Dink so ‘n bietjie terug aan jou eie lewe: Voor al hierdie dinge gebeur het was jou lewe héél anders. Jy het jou laat mislei deur Satan, al sou jy dit dalk vir geen oomblik wou erken nie! Jou sondige begeertes het jou lewe só oorheers dat jy doodeenvoudig net gedoen het wat jy wou. Jy het daagliks die verdoemenis in die gesig gestaar en dikwels gelag daaroor. Wanneer jy in sonde leef, kan jy nie slegs die duiwel al die krediet gee daarvoor, soos wat Eva gedoen het nie. Jy sondig omdat dit lekker is en omdat jy jou deur jou begeertes laat mislei. Kom ons maak ‘n bietjie ‘n lysie van wat jou ware omstandighede eers was:

Jy was deur God vervloek.

Jy was dood as gevolg van jou sondes.

Jy het die hoofstroom gevolg.

Jy was geestelik dood.

Jy was God se vyand.

Jy sou deur God gestraf word.

Jy was in diens van Satan.

Jy het jou laat mislei deur jou sondige natuur.

Ja, en toe gebeur daardie wonderlike ding in jou lewe en uit God se groot genade red Hy jou uit hierdie moeras van verlorenheid. Nou lyk die lysie iewat anders:

Jy is nou die voorwerp van God se liefde.

Jy is saam met Christus lewendgemaak.

Jy kies Christus se pad.

Jy leef vir ewig.

Jy is ‘n kind van God.

Jy is uit genade gered.

Jy is in diens van Christus.

Jy laat jou lei deur die Gees.

Om egter hierdie oorgang van die een na die ander toestand te vermag, het ‘n proses gekos wat die hemel tot in sy fondamente geskud het. Dit het gekos dat die Skepper van die heelal Sy troon moes verlaat en Hom kom verneder tussen die vuil, sondige, Satan-dienende gebroedsel. Hy, die Een wat die hoogste gesag van alle tye beklee, het Homself vrywillig kom onderwerp aan die spot, vloek en selfs marteling tot die dood om sodoende die volle prys te kon betaal vir jou en my redding. Dit is suiwer genade, ‘n gawe van God wat Hy gratis, vry en verniet gee. Géén mens kan dus óóit roem om te sê: “Ek het my lewe verander van ‘n verlore, sondige lewe na ‘n geredde, God-gesentreerde lewe” nie. Alles, alles is genade!

As ek dan sien wat God met my lewe gedoen het, sonder dat ek enigiets daarvan verdien het, mag dit alleen tot één ding lei: om oor en oor dankie te sê, nie maar net met woorde nie, maar met my hele lewe! Dit behoort ‘n natuurlike reaksie te wees om daardie God wat my uit die kloue van Satan gered het te dien en loof deur alles wat ek doen. Met ander woorde, nie te werk vir ‘n beloning nie, maar suiwer omdat ek dankie wil sê en omdat ek Hom innig liefhet!

Gebed:

Dankie, dankie, dankie Jesus, vir wat U alles vir my gedoen het, en dat U my gered het! Leer my om my dankbaarheid prakties uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026