Matteus 9:9-13 & Lukas 5:27-32
Simon loop ingedagte saam met Jesus deur die strate van Kapernaum, saam met hom nog 'n klompie van die gereelde dissipels wat besluit het om Jesus te volg. 'n Paar van hulle, soos sy broer Andreas, Johannes en Jakobus is van dag een af al saam met Jesus. Ander het later bygekom en ander weer het intussen besluit dat dit net eenvoudig te veel gevra is om hierdie Rabbi dag-vir-dag te volg.
In Simon se agterkop maal die gedagte van die gebed wat Jesus hulle gister geleer het steeds. Simon raak sommer opnuut weer gebelgd as hy net daaraan dink dat hy die Romeine moet vergewe – dit is darem te veel gevra van 'n rasegte Jood!
En dan, om sake te vererger sit hier 'n belastingman, 'n tollenaar voor hulle in sy tolhuis. Simon wil liewer anderpad kyk. Hierdie manne is verraaiers! Hulle koop 'n agentskap van die Romeine om belasting in te vorder. Die probleem is, dat as hulle 'n bestaan wil maak, dan moet hulle die mense meer belasting vra as wat hulle verplig is om aan die Romeinse regering oor te betaal. Meeste van hierdie tollenaars buit die situasie uit en hulle pers mens af. G'n wonder dat almal hulle so haat nie!
Tot Simon se skok gaan staan Jesus stil by die tollenaar. Simon trek Jesus aan die mou: “Meester, hierdie ou is nie kosjer nie, kom ons beweeg aan asseblief.”
Maar dis te laat, Jesus het klaar in gesprek getree met die ongure man: “Wat is jou naam, Vriend?”
“Matteus. My pêlle noem my sommer Levi.”
“Matteus, Ek wil graag hê dat jy my volg. Wórd My dissipel!”
Simon skrik hom yskoud! Hy voel hoedat die bloed sy gesig verlaat. Hy voel siek! “Meester, hoe kan U?” fluister hy vir Jesus, “Weet U wie en wat hierdie ellendeling is?”
Maar dan slaan Jesus Simon se voete skoon onder hom uit as Hy vir Matteus sê: “Matteus, Ek en my dissipels kom vanaand by jou eet.”
Simon skud sy kop, hy is bitter ongelukkig. Dit beteken mos dat hy óók moet saampiekel na hierdie verraaier se huis toe! Hoe kán sy Meester? Dis om die minste te sê, vernederend! Dink net hoe gaan sy visserspêlle met hom die spot dryf hieroor! Maar gelukkig is Simon nie alleen in hierdie ramp nie, sy mede-dissipels is nét so geskok en verward oor Jesus se vreemde optrede.
Simon troos hom daaraan dat Jesus tog sékerlik van die geleentheid gebruik sal maak om vanaand behóórlik vir daardie miserabele tollenaar te preek!
Matteus is baie opgewonde. Hy het ál die gerugte oor hierdie Jesus gehoor en hy brand al lankal om met Hom in gesprek te kan tree. Maar hoe kan hy, armsalige tollenaar dan nou met so 'n belangrike Rabbi gaan gesels? Hulle sosiale verskille is hemelsbreed van mekaar geskei. Hy kon sy oë nie glo toe Jesus reguit na hom toe aangestap kom en met hom begin gesels nie! Hy kon sommer dadelik die warmte en opregtheid in Jesus se stem aanvoel. Hierdie was beslis nie sommer aansit nie!
Matteus los sy tolhuis nét so en hardloop reguit huistoe so vinnig as wat hy kan. As Jesus hier kom eet, dan moet hier 'n feesmaal wees wat skrik vir niks!
Met 'n lied in die hart en 'n borrelende wysie op sy lippe hardloop hy. “Levi my ou maat!” probeer een van sy kollegas hom tot stilstand ruk, “Wat's fout? Waarheen is jy so haastig op pad?”
“Daardie beroemde Rabbi, Jesus kom vanaand by my eet!” borrel Matteus.
“Dit mis ek vir niks op aarde nie! Asseblieftog Levi, kan ek saamkom?”
“Ja kom man!” Maar skielik wonder Matteus of hy ooit die regte ding gedoen het.
By die huis aangekom is dit 'n gewoel en werskaf dat dit 'n aardigheid is. Die nuus versprei soos 'n veldbrand en een-vir-een kom al sy gure vriende daar aan om te hoor of daar nie dalk vir hulle ook 'n ou plekkie is nie. Hoe kan hy dan nou vir hulle nee sê?
Simon se mede-dissipels het een-vir-een verdwyn totdat dit nog net die ou paar hardkoppige vasbyters is wat oorbly. Kop onderstebo sleepvoet Simon en sy maters na die tollenaar se huis toe. Dit lyk kompleet soos 'n begrafnisstoet wat die stofstraat afslof. Jesus is die enigste wat spraaksaam en vrolik is.
“Wat gaan ons daar aantref?” wonder Simon bekommerd, “En wat gaan die mense sê?”
Hoe voel ek en jy wanneer ons soms so uit ons gemaksone geruk word? 'n Kultuurskok kan soms baie ernstig wees. Ek het al by verskeie geleenthede oor taal- en kultuurgrense heen die evangelie met mense gedeel. Soms kan dit bitter ongemaklik raak! Dan moet jy maar jou trots sluk, veral waar die verskille baie groot raak.
Ja, en nes Simon van ouds is daar ook die bekommernis: “Wat gaan die mense sê wanneer ek my so met die semels meng?” Maar wat is die belangrikste, mý status, mý vriendskappe, mý gemak? Of Gód se Koninkryk?
Gebed:
Here, ek wil U dien, ongeag die omstandighede!