Lukas 9:1-6
In ‘n keldervertrek in ‘n gebou aan die rand van Welkom se groot sirkel kom ons bymekaar. Ek is opgewonde, maar terselfdertyd baie bang. Almal wat in die kringetjie sit is gelowiges wat erns maak met hulle geloof. Ons het die afgelope paar weke intensiewe opleiding gekry, en nou het die dag aangebreek om dit wat ons geleer het prakties te gaan toepas. Dit was in die tagtigerjare, en Welkom was maar ‘n redelike woeste myndorp met berugte myners van regoor die wêreld wat daar hulle fortuin kom soek het. Dit was veral hierdie groot sirkel wat die manne getrek het. En nou is ons taak om die Evangelie aan hierdie rowwe klomp te gaan uitdra.
Dan breek die oomblik van waarheid aan, en in groepies van drie vaar ons die strate in. As ek die trappies uit die kelder uit opstap, klink die vulgêre gelag van ‘n paar gesuipte manne op van die straat af. Ek wil omdraai, maar dan kom die wonderlike wete dat die Heilige Gees in my is en my die nodige krag sal gee vir hierdie taak wat lyk asof dit jou wil verswelg. Agter my hoor ek die gebede opgaan van die paar wat agterbly - gebede wat ons deur die onseker nag moet dra. Wanneer ons die eerste mense konfronteer met die Evangelie, is my vrees skielik weg, en ek kan met vrymoedigheid praat oor Jesus, my Verlosser.
Twintig jaar later het ek weer in vrees en bewing gesit toe ek my eerste dagstukkie moes skryf en die wêreld instuur. En weereens moes ek baie gou agterkom dat die Here wonderlik voorsien en my die nodige krag en wysheid gee, as ek maar net gewillig is om myself tot Sy diens te stel. Ek het nooit weer teruggekyk nie.
Die twaalf apostels was op daardie stadium nog maar net volgelinge aan Jesus se voete, besig met intensiewe opleiding. Elke dag het hulle vol verwondering toegekyk hoedat Jesus die mees asemrowende wonderwerke voor hulle verbaasde oë uitgevoer het. ‘n Enkele woordjie of aanraking was dikwels genoeg om iemand oombliklik van ‘n kwaal te genees. Selfs blindes kon weer sien en verlamdes loop.
Toe breek die dag aan waar hulle die eerste voorsmakie moes kry van wat dit waarlik beteken om ‘n apostel, ‘n uitgestuurde te wees. Jesus het vir hulle verduidelik dat hulle op hierdie “oefenlopie” sélf die geleentheid sou kry om siekes gesond te maak en duiwels uit te dryf. Ek kan my voorstel hoe die manne daar gebewe het van angs! “Hoe gaan ons dit óóit regkry?” Die ergste was dat die Meester nie eers naby sou wees om te gaan help as hulle sou vasbrand nie! Hulle sou die wye wêreld ingestuur word, ver van Jesus af. En daar moes hulle alleen klaarkom!
Jesus het die twaalf angstige manne volledige instruksies gegee. Hulle was nie toegelaat om énigiets saam te vat nie, nie eers ekstra klere, reissakke of selfs padkos nie. Hulle moes totaal afhanklik wees van die mense se gasvryheid. Op hierdie manier moes die manne op die harde manier leer wat dit werklik sou beteken om totaal van God afhanklik te wees vir alles in die lewe.
Jare later sou die manne eers werklik besef waarvoor Jesus hulle sulke harde bene laat kou het, want hierdie voorbereiding het hulle gebrei vir ‘n lewe wat alles behalwe maanskyn en rose sou wees! Jesus het hulle ook gewaarsku dat hulle nie oral welkom sou wees nie. Almal het nie met ope arms staan en wag vir die Evangelie nie en daar sou beslis ook mense wees wat hulle vyandiggesind sou wees ten spyte van al hulle goeie bedoelings. Wanneer dit gebeur het, moes hulle letterlik die stof van hulle voete afskud as ‘n aanklag teen daardie mense, dat hulle die Evangelie gehoor het en die goeie nuus verwerp het.
In vandag se terme kan ons sê dat jy nie moet sit en tob daaroor as jou boodskap van hoop aan iemand begroet word met ‘n afjak nie. Dit het al menigmaal met my gebeur wanneer ek vir die eerste keer ‘n dagstukkie aan iemand stuur, dat die persoon my lelike woorde toesnou omdat ek die vermetelheid het om van hom ‘n Christen te probeer maak. Ons natuurlike reaksie is om sleg en verwerp te voel oor sulke uitlatings. Onthou net dat dit eintlik niks met jou te doen het nie, want jy is maar net die Here se boodskapper, en dit is nie vir jou as persoon wat hy uitvreet nie, maar eintlik vaar hy teen God uit. Dit is met ander woorde uit en uit ‘n saak tussen hom en die Here en jy is slegs die tussenganger. Dit is dieselfde as om ‘n sekretaresse uit te vloek wanneer jy kwaad is vir haar baas, iets wat nogal dikwels gebeur!
Lukas vertel dat die twaalf manne die wye wêreld ingegaan het en dat hulle nie alleen die Evangelie verkondig het nie maar sélf ook siekes gesond gemaak het. Ek dink niemand was meer verbaas oor hulle nuwe vermoëns as hulleself nie. Al wat die Here van my en jou vra is ons gewilligheid om in Sy diens te staan, Hy sal al die nodige toerusting vir die taak voorsien. Hiervan kan ek uit my eie lewe getuig, want Hy voorsien wonderlik elke dag in die taak wat ek vir Hom verrig.
Gebed:
Here, ek kan nooit genoeg vir U dankie sê vir alles waarin U vir my voorsien nie. Dankie dat U so getrou is.