Handelinge 28:1-15
Vir die 276 mense saam met Paulus op die gedoemde skip, was hulle nagmerrie-seereis uiteindelik verby. Almal kom veilig op die eiland aan en as hulle dan van die plaaslike inwoners ontmoet, moet hulle verneem dat hulle op die eiland Melite, vandag bekend as Malta is. Hulle is dus ‘n volle duisend kilometer van waar hulle vertrek het. Lukas verwys na die inwoners van hierdie eiland in 28:2 as “barbare”. Hulle was van Fenisiese afkoms en daardie jare was almal wat nie Grieks of Latyn kon praat nie, "barbare" genoem.
Dit was winter en bitter koud. Die manne besluit om ‘n groot vuur aan te pak sodat hulle darem die nag warm kon deurbring. Daar word hout bymekaargemaak en almal moes help en dit het natuurlik ook gegeld vir Paulus. En dan gebeur die verskriklike ding: Uit die vuurmaakhout seil ‘n giftige slang en hy byt niemand anders nie as Paulus aan die hand.
Verskrik trek die manne hulle asems op as hulle grootoog terugsteier. Die slang los nie sy greep nie en bly hang aan Paulus se hand. “Hy moet ‘n moordenaar wees,” hyg iemand, “en nou kry die gode hom daarvoor terug!”
Paulus skud die slang doodluiters in die vuur af en almal sit en wag dat hy nou moes dood neerslaan of dan minstens verskriklik begin opswel. Daar gebeur egter niks met Paulus nie en dit lyk nie of iets ernstiger as ‘n muskiet vir Paulus gehap het nie. Hoe langer hulle wag, hoe groter raak hulle verwondering. “Hy moet ‘n god wees,” fluister iemand in verwondering. “Slegs ‘n goddelike wese kan so ‘n ervaring oorleef!”
In ‘n kort tydjie het mense se opinie van Paulus verander van ‘n “moordenaar” na ‘n “god”.
Die mense het daardie tyd geglo dat die gode jou altyd terugkry vir jou sondes. As dit dan nie deur middel van skipbreuk is nie, dan is dit letterlik en figuurlik aan die hand van ‘n giftige slang!
Vandag is dit nie veel anders nie en mense het dikwels die een of ander goddelike verklaring gereed vir dinge wat met ons gebeur. Slegte dinge wat oor jou pad kom, het een van twee oorsake. Dis God se straf omdat jy iets verkeerd gedoen het of anders is dit sékerlik die werk van die duiwel! En goeie dinge? Dit is natuurlik God se seën op ons goeie werke!
Kom ons sê dit nou maar reguit: dis gevaarlik om so te redeneer! Ek en jy kan nie in God se raadsplan inkyk, sodat ons die dinge wat hier op aarde gebeur kan verklaar nie. Daar is ook nie ‘n reglynige verband tussen verkeerde dade en straf of tussen goeie dade en seën nie. Gaan lees maar gerus die boek Job. In sy verhaal wil dit vir jou lyk asof absoluut niks sin maak nie. Wanneer ons die Evangelies lees, sien ons dat Jesus dit ook baie duidelik gemaak het dat Hy nie gekom het om ons te straf of om ons terug te kry vir ons sondes nie. God werk net eenvoudig nie so nie. Dit is eers eendag met die eindoordeel dat ons volkome sal verstaan wat alles beteken het.
Lukas vertel dat Paulus ná hierdie episode vir drie dae tuisgegaan het by Publius, die hoofman van die eiland. Publius se pa was siek aan koors. Paulus het vir hom gebid en hy is genees. Die woord het baie gou versprei en kort voor lank was al wat ‘n sieke is na Paulus gebring en hy moes hulle gesond bid. Uit dankbaarheid was Paulus oorlaai met geskenke toe hulle uiteindelik van die eiland af vertrek het.
Kom ons kyk ‘n bietjie in perspektief na die hele seereis-ondervinding: As die kaptein van die skip vroeër na Paulus geluister het, sou hulle veilig gewees het en nooit die skipbreuk beleef het nie. Hy was egter ongehoorsaam en almal moes duur betaal daarvoor. God het egter hulle ongehoorsaamheid gebruik om Sy doel te bereik. Nie alleen het Hy hulle beskerm nie, maar Hy het ook hulle nagmerrieondervinding gebruik om die bewoners van die eiland Malta die geleentheid te gee om die Evangelie in aksie te sien. So kan God selfs mense se hardkoppigheid gebruik tot uitbreiding van die Koninkryk!
Drie maande lank moes hulle op Malta bly tot die ergste winter verby was. Teen die middel van Februarie het hulle op ‘n skip geklim van Aleksandrië wat op Malta oorwinter het. Hiermee het hulle die laaste been van hulle seevaart na Rome aangepak. Hulle het eers by twee hawens aangedoen voordat hulle in Puteoli, vandag bekend as Napels, aan land gegaan het. Daar bly Paulus-hulle vir sewe dae oor by gelowiges wat hulle daar raakloop. Die laaste 200 kilometer lê hulle te voet af.
Paulus se koms na Rome was groot nuus vir die plaaslike gelowiges. Oral langs die pad het groepe gelowiges hom ingewag en dit was vir Paulus ‘n riem onder die hart om die gelowiges van Rome te ontmoet. Sy groot ideaal was uiteindelik verwesenlik. So opgewonde en bly was Paulus dat hy God gedank het en met vreugde die laaste paar kilometer afgelê het, selfs al het groot swaarkry in Rome vir hom voorgelê.
Wanneer daar ‘n groot swaar vir jou voorlê, dan word jou las sommer baie ligter as daar mense is wat wys dat hulle vir jou omgee. Ons moet oefen om mekaar só by te staan!
Gebed:
Here, dankie vir dierbare mense wat altyd daar is om te bemoedig wanneer die nood druk. Help my om ook ‘n ware omgee-lewe te lei!