Johannes 11:17-32
In die dorpie Betanië is alles in rep en roer, want uit die groot stad Jerusalem het mense daarheen gestroom om die twee susters, Marta en Maria te kom troos na die tragiese afsterwe van hulle broer, Lasarus. Dis maar ‘n uur se stap van Jerusalem af, dus is dit darem nie veel moeite om hulle plig na te kom nie. Hulle word ontmoet deur ‘n droewige prentjie, almal huil en kerm en rou. Lasarus is ál wat hierdie twee vroue nog oorgehad het in die lewe en nou is hy dood, reeds begrawe, vir ewig weg!
Iemand kom aangedraf en fluister vir Marta in die oor: “Jesus is op pad!” Haastig staan sy op en loop haar Meester tegemoet. ‘n Entjie buite die dorp kry sy Hom, en groet Hom met ‘n verwyt: “Here, as U hier was sou my broer nie gesterf het nie!” Waarom het Hy nie betyds gekom nie? Sy het tóg betyds ‘n boodskapper gestuur om Hom te laat haal. Waarom het Hy tog so lank getalm?
Petrus wonder saam met Marta. Hy voel skuldig want dalk moes hy harder probeer het om sy Meester aan te por om dadelik te gaan! Marta glo egter steeds heimlik dat Jesus nog iets aan die saak kan doen. Alles kan tog nie totaal verlore wees nie? Maar selfs in haar wildste drome is sy nie voorbereid op dít wat op haar wag nie. As Marta dus vir Jesus sê dat sy wéét dat God vir Jesus sal gee wat Hy vra, bedoelende dat Lasarus steeds gered kan word, dan is daar steeds ‘n sprankie hoop in haar. Die ongeloof weeg egter baie swaarder as die hoop!
Jesus se antwoord is dat Lasarus wél uit die dood sal opstaan. Hierdie gedagte is egter een te veel vir Marta - dit kan tog nie moontlik wees nie? Haar broer is al vier dae dood! Sy liggaam het al begin ontbind in die bedompige klipgraf! Dit sou beteken dat as hy uit die dood herroep word, dat sy liggaam totaal oorgeskep sal moet word. God alleen is die Skepper! Nee, dit is tog totaal onmoontlik! O ja, sy weet natuurlik dat hy eendag met die opstanding weer lewendig sal word. Al die kinders van God sal dan lewendig word wanneer die finale oordeel aanbreek. Sy glo dit want sy is van kleins af so geleer.
Jesus draai om en kyk Marta in die oë. Wat Hy vir haar sê is vandag vir jou en my een van die grootste trooswoorde wat ons óóit kan kry: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?” Hierdie is nie maar net trooswoorde aan Marta oor haar broer nie, maar ‘n dramatiese uitspraak wat weergalm deur die sale van die hemel.
“Glo jy dit?” weergalm dit in Petrus se ore!
“Glo jy dit?” vra Jesus vandag vir jou en my. As jy hierdie uitspraak glo, dan beteken dit steeds nie dat jy die ewige lewe het nie! Die belangrikste is egter dat jy in Jesus glo! Is daar ‘n verhouding tussen jou en Jesus? Het jy vir Hom gesê dat jy onvoorwaardelik in Hom glo en dat Hy jou Verlosser is?
Wat presies behels Jesus se uitspraak? Ons het gister baie duidelik gesien dat die dood vir die gelowige nie die einde van die pad is nie, maar eerder die begin van ‘n splinternuwe lewe - een waar die verskrikking van die dood nie meer ‘n faktor is nie. Ons het gesien dat die dood slegs die poort is na hierdie wonderlike lewe saam met Jesus, waar daar selfs nie eers meer siekte, oudword of pyn is nie, en waar sonde totaal afwesig is.
Maar terug by die verhaal: Marta antwoord Jesus met ‘n onseker “Ja, Here…..” Ja, sy weet dat Lasarus eendag sal lewe, maar nou is hy vir eers dood. Maar dan kom Marta met ‘n groot verrassing vorendag, as sy haar onvoorwaardelike geloof in Jesus uitspreek. Dit is die mees omvattende geloofsbelydenis oor Jesus wat ons in die ganse Evangelie van Johannes kry: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld kom.”
Petrus skrik hom spierwit. Is dit nie presies wat hy oor Jesus bely het nie? En glo hy dit sélf waarlik?
Kan enigeen dit duideliker stel? Selfs die slim Skrifgeleerdes wat vir jare die Bybel bestudeer het en al die uitsprake oor Jesus oor en oor gesien het, het nie ingesien wat hierdie eenvoudige, ongeletterde vrou raakgesien het nie. Of Marta egter mooi begryp het wat sy so pas bely het, is ‘n oop vraag, want ons sal later sien dat sy Jesus probeer keer wanneer Hy Lasarus se graf wil laat oopmaak.
Jesus wil nie verder gaan in die dorp in nie. Hy bly buite Betanië staan. Dalk is dit die spul roubeklaers wat al kermend om Maria saamdrom wat Hom gladnie aanstaan nie. Dus gaan fluister Marta vir Maria in die oor dat Jesus aangekom het. Sy probeer ongemerk uitglip, maar die kermende gespuis tou agter haar aan om haar te gaan bystaan as sy by die graf gaan huil. Dis egter nie waarheen sy op pad is nie - haar grootste Troos het aangekom, en sy gaan val by Sy voete neer. “Here, as U hier was.....” verwyt sy Hom.
Hoe dikwels gaan soek ons nie ook maar troos by Jesus nie en dan verwyt ons Hom: “Here, as U maar net betyds ingegryp het....” Ek praat uit dure ondervinding, want ek het dit al so dikwels in my lewe gedoen. En dan moet ek later in skaamte vir Hom sê: “Here, ek is so jammer - ek het nie besef wat U besig was om vir my te beplan nie.” Sal ons ooit leer om Jesus onvoorwaardelik te vertrou in alle aspekte van ons lewe?
Gebed:
Here, vandag wil ek vra dat U my sal help om volle, onvoorwaardelike vertroue in U te kry. U is almagtig - by U is niks onmoontlik nie. Maar ek besef ook dat U gedagtes baie ver verhewe is bo myne!