Tweede Kans

24 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Tweede Kans

Genesis 4:25-6:4

Abel is vermoor deur sy eie broer en Kain het sy ouers en God verlaat. Maar weereens sien ons God se genade: Hy gee vir hulle ‘n derde seun en hulle noem hom Set. Hierdie slag sien ons dat Set en sy seun Enos begin om die Here te dien. Daar is dus ‘n splinternuwe geloofsgemeenskap gebore. Duisende jare later sou die Messias, Jesus Christus uit dieselfde geloofsgemeenskap gebore word.

Dan volg daar weereens ‘n ellelange geslagsregister, oftewel familiegeskiedenis. Hierdie lys name het al oor die eeue baie mense laat kopkrap, want die mense wat hier beskryf word, wil nie vandag vir ons sin maak nie. Die eerste ding wat ons opval, is die geweldige hoë ouderdomme. Keer op keer draai hulle hier by die duisend jaar rond, met die uitsondering van een, Henog wat slegs die skamele ouderdom van 365 jaar bereik.

Die eerste vraag wat ons wil vra, is of die mense werklik so oud geword het? Dikwels kom die antwoord dat jare in daardie tyd anders bereken was, en dat dit dalk maand-jare was. Dit sou dan beteken dat Henog slegs 30 jaar oud geword het, en dit maak beslis nie sin nie. Die antwoord kom in Gen. 6:3, waar God uiteindelik die mens se lewensduur tot 120 jaar beperk.

Die vraag is of dit dan onmoontlik sou wees dat mense so oud kon word? Wel, is enigiets vir God onmoontlik?

Kom ons neem dan aan dat hierdie ouderdomme werklik jare is soos ons dit vandag ken. Dan ontstaan die vraag: waarom sou God mense so verskriklik oud laat word? Die een moontlikheid is dat God hiermee dalk die mens die geleentheid wou gee om die aarde te vul, want die kinders wat hier vermeld word, was nie die enigste wat gebore is nie. Ons kan aanneem dat die mense baie vrugbaar was en dat talle kinders gebore is uit elke gesin.

Wanneer ons ‘n bietjie begin wiskunde doen met die getalle wat hier gegee is, kan ons interessante afleidings maak. Soos byvoorbeeld dat Adam so kort duskant ‘n duisend jaar oud geword het en so ook Metusalag asook Noag. Volgens ons berekeninge het Adam nog die geboorte van sy nasaat Metusalag beleef. Op sy beurt het hy weer die geboorte van Noag beleef. Noag het nog geleef tot kort voor die geboorte van Abraham. Dus van Adam tot Abraham slegs drie leeftye!

Dit is egter gevaarlik om bloot sulke afleidings te maak en op hierdie manier te wil bepaal presies wanneer Adam geskep is. Dit was nooit die bedoeling van Genesis om sulke berekeninge te wil weergee nie. Genesis, en spesifiek die oergeskiedenis, het ‘n totaal ander doel gehad. As ons dit wil gebruik om berekeninge te maak, mis ons die boodskap wat God vir ons uit hierdie gedig wil gee.

Wat lees ons dan in hierdie ellelange familiegeskiedenis? In die eerste plek, dat God besig was om vir Hom ‘n geloofsgemeenskap te vorm, en dít te midde van die verskriklike verval waarvan ons gister gelees het. Hier lees ons van absoluut géén opspraakwekkende dinge soos wat ons sien in die geskiedenis van Kain nie. Hier is egter iets van véél groter belang, naamlik dat hulle begin het om die Here te aanbid.

Dit is belangrik om te sien dat God Adam geskep het na Sy beeld (Gen. 5:1). Net daarna lees ons dat Set na die beeld van Adam was, “een soos hyself” (Gen. 5:3). Dit beteken dus dat Set óók volgens die beeld van God geskep was. Hierdie beeld van God word dus van geslag na geslag oorgedra, sodat ek en jy vandag ook kan weet dat ons steeds volgens die beeld van God is. Dit maak nie saak of jy man of vrou, mooi of lelik, ryk of arm is nie. Elke mens is ‘n beelddraer van God.

In hierdie geskiedenis is daar ook ‘n paar dinge opgeteken waaroor ons vandag net kan raai. Die eerste is die geval van Henog. Hy word vir ons beskryf as iemand wat baie naby aan God geleef het. Daar was dus ‘n besonderse verhouding tussen hom en God, nét soos die verhouding tussen Adam en God voor die sondeval. En dan lees ons die verrassende in vers 24: “en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na hom toe weggeneem.” Wat sou dit beteken? Sou dit beteken dat hy nooit gesterf het nie, maar dat hy direk hemel toe is, na God toe? Of sou dit dalk beteken dat hy wel gesterf het, maar dat hy (sy gees) na God is? Daar is vir ons geen duidelikheid nie, maar die mees verklaarbare is dat hy nooit gesterf het nie, en reguit hemel toe is.

In Genesis 6:1-4 lees ons ‘n verdere onverklaarbare stukkie geskiedenis. Daar word vertel van hemelwesens wat met die dogters van die mens getrou het. Oor die eeue is daar reeds baie bespiegel hieroor. Was hierdie hemelwesens engele? In die volgende verse word weer gepraat van reuse.

Hierdie twee hou waarskynlik verband met mekaar. Wanneer ons ander gedeeltes in die Bybel vergelyk hiermee, sien ons dat dit hoogs onwaarskynlik is dat dit engele kon wees. Die antwoord moet dalk eerder gaan soek word in die sogenaamde vergoddeliking van mense. In die tyd toe Genesis op skrif gestel is, was dit alreeds praktyk dat mense van hoë aansien gesien is as goddelik en selfs as half-gode. Van die Romeinse keisers het hulleself later as gode gesien. So het Daniël byvoorbeeld in die leeukuil beland toe hy geweier het om die koning te aanbid.

En vandag: Wat van sport- en musieksterre wat vergoddelik word en letterlik aanbid word?

Gebed:

Here, ek wil ook graag naby aan U leef soos Henog.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026