Lukas 7:1-17
Die nuus van Jesus se genesingskrag het al verder en verder versprei, totdat dit uiteindelik ook die kwartiere van die Romeine bereik het. Na Jesus se groot bergpreek is Hy terug na Kapernaum, waar hulle een oggend ‘n groepie Joodse familiehoofde aantref. Die manne het by Jesus kom pleit oor ‘n Romeinse offisier se slaaf wat dodelik siek was. Die offisier was in bevel van ‘n honderd soldate. Hy het egter besef dat hy eintlik ‘n buitestaander was in die Joodse gemeenskap omdat hy ‘n Romein was en dat Jode maar baie ongemaklik gevoel het as heidene te naby aan hulle gekom het, want hulle reinheid was aangetas. Hy wou nie dinge kom deurmekaarkrap en self daar aangestap kom nie, dus maak hy maar gebruik van tussengangers om die situasie te beredder.
Vir die familiehoofde was dit ‘n plesier om namens die offisier te gaan onderhandel met Jesus, want hy het baie invloed gehad, en hy het nie geskroom om dit uit te oefen om iets vir die gemeenskap te beteken nie. Hy het selfs vir die Jode ‘n sinagoge laat bou, iets wat jy beslis nie van ‘n Romeinse offisier sou verwag nie!
Ten spyte van die Romein se hoë posisie en sy goedhartigheid, het hy een baie groot probleem gehad, die groot afstand tussen hom en die God van Israel. Hy was nie ‘n Jood nie, dus het hy nie toegang gehad tot daardie God van Wie hy al so baie gehoor het nie. Jesus was die enigste Weg om daardie gaping te oorbrug.
Sonder versuim het Jesus dan ook die moeite gedoen om nie bloot die offisier te laat haal nie, maar Sélf na die man se huis te gaan.
Op pad daarheen stuur die offisier iemand om Jesus te stop, want hierdie invloedryke man het homself totaal onwaardig gevoel in Jesus se geselskap. Hoe durf hy, wat geen reg het op die God van die Jode nie, daardie God se heilige “Profeet” na sy huis laat kom?
Jesus was verstom dat hierdie man so hardnekkig bly glo het! Hy maak dit duidelik dat selfs Romeine en ander heidene ook deel is van die Koninkryk van God. Sonder verdere seremonie word die slaaf gesond.
Kort na hierdie episode vertrek Jesus na ‘n dorpie met die naam Nain. Sy dissipels was soos gewoonlik saam met Hom, gevolg deur ‘n groot skare aanhangers. Naby die dorp kom hulle op ‘n begrafnis af. Dit was ‘n baie droewige storie, en die arme vrou wie se seun leweloos op die draagbaar gelê het, was troosteloos. Vir haar het die ganse wêreld om haar ineengestort: haar man - haar versorger - het sy reeds aan die dood afgestaan. Dit het haar as weduwee alreeds baie weerloos gelaat. En nou moes sy boonop haar enigste seun ook kom begrawe. Die ganse dorp se mense was daar, en ‘n ge-weeklaag het sekerlik die lug om die dorpie gevul. Haar situasie was absoluut hopeloos!
Jesus se eerste reaksie was dat Hy dadelik die vrou se groot nood raakgesien het en baie jammer gevoel het vir haar. Dit bly egter nie maar net by ‘n blote emosie van jammerte nie, maar Hy doen iets daadwerklik aan die situasie. Hy gaan staan by die draagbaar en raak daaraan. Hy waag sy eie reinheid deur aan hierdie “onrein” lyk te vat, iets wat volgens Joodse beskouings taboe was. Dit het weereens net gewys hoeveel Jesus werklik omgegee het. Hy was bereid om alle sosiale taboes te verontagsaam ter wille van ‘n vrou se smart. En dan gebeur die wonder wanneer Jesus haar seun beveel om op te staan. Hy het onmiddellik regop gesit en begin praat. Nie alleen het die weduwee haar geliefde seun terug gekry nie, maar sy word ook sosiaal en ekonomies deur hierdie wonderdaad gered.
Hierdie wonderwerk het groot opslae veroorsaak oor die ganse Israel. Mense het dit as ‘n daad van God gesien, en Jesus is as die Messias erken.
In die eerste perikoop word klem gelê op die geloof van die Romeinse offisier, en dat sy geloof Jesus aangespoor het om die wonder te verrig. In die tweede perikoop is daar egter geensins van geloof eers sprake nie. Hier sien ons bloot Jesus se groot deernis en barmhartigheid. Geloof was nie ‘n voorwaarde vir die wonder nie.
Waar ons dikwels ons eie goeie lewe of ‘n groot geloof wil sien as ‘n voorwaarde vir God se genade oor ons, is dit vir ons ‘n openbaring om te sien dat ons welsyn nie van ons geloof of goeie dade afhanklik is nie, maar dat dit suiwer God se barmhartigheid en genade is wat ons deur die lewe dra. Hy weet alreeds wat ons behoeftes is nog lank voor ons iets vir Hom vra!
Maar is dit dan ooit nog nodig om te bid?
Inderdaad! Deur gebed wil ons bevestig hoe afhanklik ons werklik van Hom is, en dat ons vir geen oomblik kan bestaan as dit nie vir Sy genade is nie.
Gebed:
Here, vanoggend wil ek net weereens bevestig dat ek totaal van U afhanklik is.