Twee Swaarde

29 November, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Swaarde

Lukas 22:35-38

VIDEO OUDIO

Dit is die jaar 1099. Triomfantlik marsjeer ‘n leërmag van kruisvaarders Jerusalem binne en vermoor ‘n groot aantal van die inwoners om die stad oor te neem in die naam van die Christendom. Die opdrag om hierdie bloedige daad uit te voer het gekom van niemand anders nie as die hoof van die kerk, Pous Urbanus II. In hulle opmars na Jerusalem uit Europa laat hulle ‘n bloedspoor agter so ver as hulle gaan. Verskeie stede word eenvoudig vermorsel, alles in die naam van die kerk. Hulle kan moor soos hulle wil want hulle het volle kwytskelding van hulle dade. Dit was die eerste bloedige kruistog! Daarna volg nog talle en dit duur voort vir byna 200 jaar tot 1272 met die einde van die laaste kruistog.

Jesus se laaste gesprek met Sy dissipels voor Sy teregstelling is al dikwels baie verkeerd verstaan, selfs deur Sy dissipels, en later is duisende mense doodgemaak deur oorywerige Christene wat die Evangelie met die swaard op mense wou afdwing.

Dit beklemtoon net weereens die feit dat jy nie ‘n hele leerstelling kan bou rondomn enkele sinnetjie in die Bybel nie! Jy moet dit in die konteks lees van die gedeelte waarin dit geskryf is en dan jou verstaan daarvan toets aan die boodskap van die res van die Bybel.

Toe Jesus aanvanklik Sy dissipels uitgestuur het op ‘n “proeflopie” om hulle daaraan gewoond te maak om die Evangelie te verkondig, was Sy opdrag dat hulle absoluut niks moes saamneem nie, selfs nie eers kos of klere nie. Hulle moes ondervind dat Hy in alles vir hulle sou voorsien. Hulle moes dus hulle volle afhanklikheid van Hom prakties ervaar.

Die situasie sou egter totaal verander, want Hy sou nie meer fisies by hulle wees nie. Hulle sou dus totaal op hulle eie wees en op hulle eie voete moes staan. Dus moes hulle begin leer om selfvoorsienend te wees. Hulle sou afhanklik wees van ander mense se gasvryheid. Aanvanklik sou dit nie ‘n probleem wees nie want mense het ‘n groot agting vir Jesus gehad en hulle het gehelp waar kulle kon. Maar daar was ‘n muur van vyandigheid wat besig was om op te bou teen Jesus en later ook Sy volgelinge. Van daardie eens-oormatige gasvryheid sou daar uiteindelik weinig oorbly en mense sou hulle sien as vyande en ‘n “sekte” wat die ganse Joodse volk sou bedreig. Kyk maar net hoe fanaties Paulus later was om hierdie “siekte” onder die volk uit te roei, totdat Jesus hom uiteindelik in sy spore gestop het by Damaskus.

As hulle dus wou oorleef, moes hulle sorg dat hulle selfvoorsienend kon wees. Paulus het hierdie beginsel later dan ook uitgeleef, deur sy beroep as tentmaker te beoefen tydens sy sendingreise om so sy reise te finansier.

Die tweede aspek wat Jesus noem, en wat totaal verkeerd verstaan is, is dat hulle ten alle koste wapens oftewel swaarde moes bekom. Ons wil dadelik reageer dat dit gladnie sin maak nie want al Jesus se uitsprake het daarop gedui dat liefde en beslis nie geweld nie die antwoord is! Wat het daarvan geword? Jesus het dan juis gesê dat as iemand ons aanval, dan moet ons die ander wang draai sodat hulle maar daar ook kan slaan!

Wat Jesus hier vir Sy dissipels gesê het, het Hy simbolies bedoel. Hy wou hulle voorberei op die geweld wat sou kom. Daardie selfde nag nog is Hy gewelddadig gevange geneem en die vervolging wat kort daarna begin het was skrikwekkend. Die manne moes besef dat hulle sou moes vlug voor die swaard van die Joodse leiers wat hulle ten alle koste sou wou uitroei. As ons Lukas se verhaal in Handelinge lees, sien ons ook hoedat hierdie einste manne telkemaal in die tronk gestop, gegésel en mishandel is, en telkens met die dood gedreig is! Ons sien hoedat gelowiges dikwels gestenig is - wreedaardig met klippe doodgegooi is! Stefanus was die eerste wat op hierdie verskriklike manier met sy lewe moes boet terwyl Paulus goedkeurend toegekyk het. Later het Paulus sélf ook die geweld van die klippe op sy eie lyf gevoel!

Here, kyk hier is twee swaarde!” Die dissipels was tevrede dat hulle alreeds voorbereid was soos Jesus natuurlik aanbeveel het. Ek dink dat Jesus menslik gesproke stomgeslaan was deur die manne se onvermoë om te verstaan wat Hy vir hulle wou probeer tuisbring. “Ons laat dit daarby,” het Hy bloot geantwoord, want om te probeer verduidelik - daar was nie meer tyd nie! Getsemane het gewag!

Later het hulle dit wél verstaan, maar eers nadat die Heilige Gees in hulle lewens gekom het. Inderdaad het hulle liefde ten volle uitgeleef, en só vir ons vandag die voorbeeld gestel van hoe jy waarlik jou liefde kan uitleef. Die swaard is nie die antwoord nie, al voel jy soms dat jy die gebroedsel wil uitmoor! As gelowige moet ons liefde uitleef in sy volheid - dit was Jesus se opdrag regdeur Sy bediening. Dit beteken dat ons steeds vriendelik sal bly, selfs al kasty die wêreld ons. Dit beteken dat ons liefde sal uitstraal selfs deur die grootste vervolging. Stefanus het vir sy moordenaars gebid!

Gebed:

Here, vul my hart - my ganse lewe met U wonderbare liefde sodat dit sal uitstraal en die wêreld Jesus deur my sal sien.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026