2 Korintiërs 7:2-16
Sondagmiddag op die plaas. Ek sug swaar, ek is vrek-verveeld! Al die grootmense lê pens in die lug en snork, en hier moet ek rustig wees en met my tone lê en speel. Ek mag nie dít nie en ek mag nie dát nie, nie eers gaan swem nie, want dis mos Sondag. Ek’s verveeld, dóódverveeld!
Ek hoor die honde blaf, en ek wéét sommer dat hier buite iets aan die gebeur is. Ek hol uit, en dan sien ek die baaisiekels in die stofpad aangery kom. My hart gee ‘n dubbel bollemakiesie. Dis ‘n paar van my pêlle wat van die dorp af gery het om die Sondagmiddag ‘n bietjie sports te kom maak hier op ons plaas buite Waterval Boven. Ek hardloop hulle tegemoet: “Hoezit, hoezit?” Dis somer en dis warm, veral na die harde trap oor die steil bulte van ons plaaslike berg, Suid Heuwel.
“Kom ons gaan koel eers af in die dam,” kom die versoek van die blasende outjies. My hart gee ‘n paar wilde spronge. Pa het uitdruklik gesê dat ek NIE vandag sal gaan swem nie! Dis mos Sondag, en mens swem nie op ‘n Sondag nie! Ek wil nog teëstribbel, maar die dorpsjapies is al klaar op pad af dam toe. En wat kan ek dan nou maak? Die klere word sommer so in die hardloop al afgestroop, en teen die tyd dat ons die dam bereik is almal lankal poedelkaal. Maar wie gee nou om? Die grootmense lê hoeka mos nog en slaap, en boonop - wie het nou erg aan ‘n klomp kaal seuns?
Dit gaan jolig in die gronddam, en dit raas en skree en swem en duik en gooi mekaar met modder. En weg is al die Sondag-blues. Bo al die geraas verbeel ek my ek hoor iemand roep na my dáár bo van die huis af. Eers steur ek my nie daaraan nie, maar as die stem dringend raak: “Louis, kom onmiddellik hier!” Dan kry ek skielik so ‘n verskriklike knop op my maag. Ek gryp my broek en trek hom so in die hardloop aan. Ek wéét sommer dat ek hierdie slag diep in die gemors is. Pa het uitdruklik gesê ek mag nie swem nie, en .......
Pa raak nie sómmer kwaad nie, maar die gesig wat voor my opdoem gee my yskoue rillings. Pa bedoel bésigheid! In die dam hoor ek nog steeds my maters lag, en dit maak seer. “Gaan pluk ‘n lat,” kom die bevel.
“Pa….?” So ‘n opdrag het ek nog nooit in my lewe gekry nie. Huil-huil loop ek die veld in. Ek weet presies watter boom die beste kleilat maak, en ek wéét watter een die seerste kan slaan, die kweper! Dis bitter moeilik, want nou moet ek ‘n lat vir my éie bas pluk! Rou snikke skeur deur my borskas.
En dan kom die ergste: die preek! Dit was byna sewentig jaar gelede, maar ek onthou dit nog woord-vir-woord. Die loesing was eina, maar die woorde het baie seerder gemaak. Daarna gaan lê ek in my kamer en tjank. My maters is stil-stil weg. En ek lê en ruk van die huil wat my binneste stukkend skeur. “Dis onregverdig!” snik ek vir myself, “bitter, bitter onregverdig!”
In die skemer kom Pa my kamer binne, waar ek steeds lê en sanik. Hy praat mooi met my, en dan verduidelik hy waaroor dit gegaan het. En ek verstaan. Dit is asof ‘n donderwolk skielik lig en oopmaak, en die helder sonskyn verlig my hart. Ek was gekneus, maar nou maak die lewe weer sin, en ek voel goed daaroor. Alles is verby, en ek kan weer lag. Pa wás toe al die tyd reg!
Daar was bitter trane in die gemeente in Korinte na Paulus se harde brief aan hulle. Dit het ook vir Paulus seer gemaak om die brief te skryf. Dae en weke en maande om het hy in angs geleef om te hoor wat gebeur het nadat Titus die brief gaan aflewer het.
“Waar draai Titus dan so lank?” het Paulus sékerlik gewonder. En dan, op ‘n mooi dag, sien hy vir Titus in die stofpad aangehuppel kom. En dan wéét Paulus sommer dat alles uiteindelik goed uitgewerk het in Korinte. Sy brief was bitter kras, maar dit het die regte uitwerking gehad, en nou verstaan hulle mekaar. Titus is opgewonde, en Paulus kan weer lag. En die Korintiërs? Hulle het dinge reggestel, en ná Paulus se skrobbering, wat baie seer gemaak het, is hulle nou ook weer gelukkig.
In die kerk is ons dikwels bitter bang vir konfrontasie wanneer dinge skeef geloop het. Persoonlik skram ek weg van enige vorm van konfrontasie, want dit is nie lekker nie. Iemand gaan seerkry in die proses. Ons moet egter onthou dat énige vorm van tugtiging moet voldoen aan ‘n paar vereistes. In die eerste plek móét dit Skrifgebonde wees. Tweedens moet dit met die grootste liefde en deernis gebeur, en die persone wat dit uitvoer moet dit biddend doen en gedurig die leiding van die Heilige Gees soek. Jy moet ook altyd onder die besef bly waaroor die tugtiging gaan. Tug beteken nie om iemand te “straf” nie, maar om iemand wat in sonde geval het te probeer help om uit die gemors te kom en terug te keer na die Here. Jy moet ook dóódseker maak dat daardie persoon dit in dieselfde lig sien.
Tug is vir niemand lekker nie, maar dikwels is dit noodsaaklik. Ons durf nie nalaat om dit uit te voer nie, anders staan ons sélf skuldig!
Gebed:
Here, gee ons asseblief wysheid en durf om weer tug toe te pas volgens U heilige Woord!