Genesis 12:1-3
Het ek dalk gesê Tera en Abram het in die wildernis gaan nesskrop in Haran? Nee, dan het ek seker maar ‘n bietjie oordryf. As jy met Google Earth vlieg tot by Haran, sien jy ‘n wonderlike ding, dalk juis die rede waarom Tera daar anker uitgegooi het. Reg in die middel van die barre woestyn lê Haran, ‘n helder groen kol op die kaart. Een van die sytakke van die Eufraatrivier ontspring hier, en dit vorm ‘n lowergroen landstreek wat vandag totaal oordek is met vrugbare landery-op-landery. Abram moes sekerlik sy bejaarde ou pa se besluit heftig bevraagteken het. In die eerste plek om te wil trek uit die mooi paradys van Ur, en in die tweede plek om hier tussen niks en nêrens te kom kamp maak. Dalk het hy gehoop dat Pa tot sy sinne sal kom en spoedig aanskuif na hulle oorspronklike bestemming in Kanaän. Maar dit gebeur nie, en weldra skiet hulle behóórlik wortel en maak nuwe vriende en versamel rykdom.
Een ding wat Abram nooit vergeet het hier in die vreemde land nie, was die geloofswaarhede wat Pa in hom ingedril het van babatyd af. As hy saans buite sy tent sit en die helder naglug instaar, kyk hy met verwondering na die grootheid van die skepping. Sterre, meer as die sandkorrels in hierdie woestyn om hom, hang daar in die lug. Met die spreek van ‘n enkele woord het God al hierdie hemelligte gemaak. En as Abram sy oë op skrefies trek, sien hy die kleure-skouspel van die heelal. En die wonder is dat hulle ook nie stilstaan nie! Hulle beweeg die hele nag deur. God is groot! God is onbegryplik! En God is so goed vir hom wat Abram is. In die jare wat hy hier in Haran bly, word hy ‘n vermoënde man, skatryk in aardse goedere. Op die vrugbare delta het sy veetroppe aangegroei tot groot getalle, en kon Abram bekostig om talle slawe aan te koop, goeie manne wat in sy diens kon staan.
Op ‘n dag kom Abram ‘n vreemde gewaarwording agter. Dit was asof iemand met hom praat in ‘n onhoorbare stem. Abram was onrustig. Iewers hier in sy binneste sê die stem vir hom dat hy moet trek. Trek!!! Waarheen? Weg, uit hierdie paradys uit? Nog nooit! Hy wat Abram is, sal sékerlik gek moet wees om uit hierdie lushof weg te trek. Deur die jare het hy al vergeet van Ur. Haran het nou sy land geword. Hy skree selfs vir die plaaslike rugbyspan!
Maar die stem het nie weg gegaan nie, maak nie saak hoe hard Abram probeer het om dit te ignoreer nie. “Trek uit jou land uit,” het die stem gesê, “weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek jou sal aanwys.”
Stadigaan het Abram begin besef dat hierdie stem niemand anders s’n is nie as dié van God. Ek is séker dat Abram aanvanklik geprotesteer het. Hierdie is nie ‘n maklike opdrag nie. “Besef die Here ooit wat ek alles sal moet prysgee om hierdie opdrag uit te voer? My besittings kan ek dalk saamvat, Here, en my slawe en my mooi Sarai. Maar wat van al my vriende? En my familie? Pa Tera? Hy is al te oud om nog ‘n trek te kan oorleef. Hy trek darem al hier naby die tweehonderd!”
Om vandag van jou familie af te moet wegtrek is dalk vir baie van ons ‘n groot verligting. Familiebande is nie meer sterk nie. In Abram se tyd was familiebande absoluut onbreekbaar. Dit was seker die héél belangrikste deel van jou lewe. Jy het net eenvoudig nie weggetrek van jou familie af nie, dit was taboe. En nou kry Abram hierdie opdrag van dié God wat hy so liefhet en so respekteer. Dit was seker die swaarste opdrag wat hy óóit in sy lewe gekry het.
Met ‘n swaar hart neem Abram die besluit: “Ek sal doen wat U vra, Here.” Met trane wat stroom oor sy wange gaan deel hy die bitter nuus met Pa Tera. Nee, hy het nie eers die vaagste benul waarheen hy gaan nie, maar die Here sal weldra nog vir hom verduidelik.
En dan kry Abram weer daardie vreemde gewaarwording, dat iemand met hom praat, Iemand baie groter as hy: “Abram,” sê die stem in sy binneste, “Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak.” Die Stem het nog baie ander dinge ook gesê van seën en van al die volke van die aarde wat in hom, Abram geseën sou word, maar hy het nie meer geluister nie, want sy gemoed was te vol. Abram hardloop na Sarai toe en vertel haar wat die Stem in hom gesê het. Wat sou dit beteken? Sou daar tog uiteindelik na al die jare van probeer en nogmaals probeer, ‘n afstammeling vir hulle wees?
“Kom, ons moet oppak!” sê hy vir sy beeldskone liefling. “Ons moet maak soos God sê, al verstaan ons dit gladnie.”
Hoor ek en jy nie dikwels die Stem van God nie, en dan ignoreer ons dit omdat dit nie vir ons sin maak nie? Hoeveel keer het die Here jou nie dalk al gevra om betrokke te raak in jou gemeente nie? Maar ons het verskonings vir elke opdrag. En dan kan die Here nie eers uitkom by die tweede deel, dié deel oor die seën nie, want ons weier om gehoorsaam te wees. Kom ons luister ‘n slag waarlik na Hom, en doen wat Hy van ons vra, al lyk dit soms waansinnig.
Gebed:
O Here, ek bely vanoggend dat ek al so dikwels my ore toegedruk het vir U opdragte. Maak my gewillig om te doen wat U van my vra.