Toevallig Raakgesien?

4 May, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Toevallig Raakgesien?

Ester 1:9-2:7

Video

Audio

Soms voel dit asof jy oorweldig word omdat jy tot ‘n minderheidsgroep behoort. Die lot van baie vroue is dat hulle bloot as eiendom beskou word!

In die koninkryk van Persië is daar egter ‘n vrou wat haar kop hoog hou. Koningin Vasti het haar eie fees beplan wanneer Ahasveros al die belangrike manne onthaal. Aangesien al die vrouens uitgesluit is in die fees van die manne, hou sy spesiaal iets vir die vroue van die koninkryk.

Daar word vertel dat Vasti ‘n beeldskone vrou was. Maar uitsonderlike skoonheid het soms nadele, en dikwels is dit juis daardie skoonheid wat veroorsaak dat jy soos ‘n skoudier geparadeer word.

Koning Ahasveros is baie vrolik van al die wyn, en hy wou darem ook ‘n bietjie spog met sy beeldskone vrou. Hy vaardig sewe paleisbeamptes af om vir Vasti te gaan haal om haar skoonheid aan die manne te kom vertoon. Eintlik het dit beteken dat sy met slegs die kroon op haar kop vir al die dronk manne moes kom wys hoe mooi Ahasveros se vrou is. Sy vrou was bloot deel van sy uitstalling van prag en praal!

Wanneer Vasti hierdie boodskap kry, is sy die elegante gasvrou by haar eie onthaal. Talle vooraanstaande vroue sit daar by haar glansryke feesgeleentheid. Wát ‘n vernedering om nou voor almal aangesê te word dat sy voor die honger oë van ’n klomp dronk mans soos ‘n goedkoop straatvrou geparadeer moet word! Vasti daag Ahasveros se magsmisbruik uit, en sy weier om aan sy versoek te voldoen. Ahasveros is woedend! “Wat moet ek doen?” vra hy sy raadgewers.

Hulle raad? Dis ‘n reuse krisis! Die gesag van die koning wat uitgedaag word deur sy eie vrou. Na al sy magsvertoon, weier sy vrou om na hom te luister. Dit maak hom belaglik voor sy onderdane! Dit wil sê dat sy groot mag eintlik net ‘n leë dop is! Sy moet afgedank word as koningin en vervang word deur iemand anders wat haar dalk beter sal gedra!

Die vraag is, wie eintlik die mag het? Die koning? Of dalk eerder sy amptenare? Maar agter dit alles sien ons dat dinge besig is om “toevallig” vir die volk van God in plek te val. Dit is geen “toevalligheid” nie, want God gebruik juis hierdie mense se magsbeheptheid om Sy raadsplan te laat uitwerk.

Vier jaar gaan verby nadat Koningin Vasti die deur gewys is. In die hofsale van die koning se paleis is die amptenare baie bekommerd. Maande lank sit die koning net daar en bejammer homself. “As ons nie baie gou iets doen nie, gaan ons koninkryk ten gronde!” fluister die manne vir mekaar, “wat gaan ons maak om weer die ou vrolikheid op sy gesig te kry?”

“Ons moet dringend ‘n nuwe jong vrou in die koning se lewe inbring. Maar hoe maak ons om iemand vir hom te kry waarvan hy gaan hou?”

Dan kom iemand met ‘n blink idee: “’n Skoonheidskompetisie!”

En so word ‘n reuse “Mej. Wêreld” kompetisie regdeur die magtige Persiese koninkryk geloots.

Ons toneel verskuif nou na die ander uiterste, na Mordegai, ‘n Jood wat in ballingskap weggevoer is uit sy geliefde vaderland, en nou in die vreemde, tussen vreemde mense en onder ’n vreemde koning, sonder ‘n huis en sonder ‘n land sit. Sy een groot vreugde in sy lewe, is die pragtige meisiekind in sy huis na wie hy omsien, Hadassa oftewel Ester, ‘n weeskind. Mordegai het die taak gekry om haar groot te maak na haar ouers se dood.

Wanneer dit bekend word van die groot skoonheidskompetisie, dan bereik dit ook Mordegai se ore. Sou sy beeldskone meisiekind dalk ‘n kans staan om in hierdie kompetisie te kan deelneem? Maar dan besef hy dat hulle mos Jode is, en ‘n Jood het geen status in hierdie vreemde land nie. Dit is dus vir Mordegai ‘n groot verrassing as die amptenaar wat in sy streek die kompetisie loots, vir Ester raaksien. Ester is dadelik baie opgewonde, maar wat gaan Pa Mordegai hiervan sê?

Wanneer sy vir Mordegai vertel dat sy ontbied is na Susan vir die kompetisie, kan hy nie sy opgewondenheid beteuel nie. Maar dan raak hy ernstig: “Ester my kind, jy moet altyd onthou waar jou wortels is. Onthou: jy is deel van die volk van God. Maar jy mag vir niemand vertel dat jy ‘n Israeliet is nie, want dit sal jou beslis benadeel.”

En so vertrek Ester na die glansryke stad Susan. Wat sal alles daar op haar wag?

Die Here werk soms op verrassende maniere. Hy het ‘n groot taak gehad vir Ester wat sy slegs kon uitvoer in die Persiese koning se paleis. Hy bereik dit deur ‘n hele reeks gebeure. Dit begin by mense se magsbeheptheid wat Hy teen hulleself gebruik. Hy gebruik selfs ‘n skoonheidskompetisie! En so word ‘n totaal onbekende weeskind uit ‘n onbenullige landjie, weggesteek in ‘n veragte ou man se huisie “toevallig” raakgesien en na Koning Ahasveros se paleis gebring. Asemrowend! Ons dien ‘n almagtige God wat die totaal-onmoontlike moontlik maak!

Gebed:

Here, U het ‘n wonderlike plan vir Ester se lewe gehad. Ek weet ook dat U ‘n wonderlike plan vir my lewe het. Hou my asseblief altyd bewus daarvan.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026