Handelinge 19:1-10
Wanneer Paulus in die groot stad Efese aankom, gaan soek hy sy twee goeie vriende, Priscilla en Akwila op. Sommer dadelik word hy genooi om by hulle te kom bly vir so lank as wat hy in Efese is. En natuurlik kan hy en Akwila mos lekker saam werk om tente te maak! Hy vra uit oor Apollos, en dan vertel hulle hom van hierdie wonderlike charismatiese prediker. “Maar op die oomblik is hy nog in Korinte. Die berigte wat ons ontvang, is dat hy veral onder die Jode daar baie vrug op sy arbeid het.”
Paulus is die volgende dag na die sinagoge, waar hy met ope arms ontvang word. Die mense onthou nog baie goed van sy vorige besoek, en hy kan met groot vrug met hulle redeneer.
Wanneer hy 'n los tydjie het, gaan stap Paulus deur die groot stad om dit te verken. Oral probeer hy praatjies aanknoop met mense oor die Evangelie. “O ja, ons is ook gelowiges,” sê een paartjie opgewonde vir hom, en dan word hy uitgenooi om sommer dieselfde aand nog met hulle groep te kom gesels.
Daardie aand ontmoet Paulus 'n groep van twaalf gelowiges wat saam aanbid. Hulle wag in groot afwagting op hierdie prediker om iets met hulle te kom deel. Wanneer Paulus sy oë laat gaan oor die groepie, hoor hy 'n stem in sy binneste: “Vra hulle uit oor die Heilige Gees.”
“Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” Hy het ‘n breë glimlag op sy gesig want natuurlik ontvang alle gelowiges mos die Heilige Gees!
Paulus is geskok as hy hulle antwoord hoor: “Die Heilige Gees? Het Hy dan al gekom?” Paulus kan sy ore nie glo nie!
Nou begin hy wonder of hierdie mense ooit iets weet: “En die doop? Is julle al gedoop?”
“O ja,” vertel een kêrel, “Apollos het ons almal gedoop. Ons het bely dat ons sondig is, en die doop was die teken dat ons ons sondes voor God bely het en dat ons tot bekering gekom het.”
Paulus wil sy klere skeur uit frustrasie. Hierdie mense het nie eers die vaagste idee waaroor dit alles gaan nie! Daar lê vir hom groot werk voor om eers al hulle wanpersepsies te besweer en dan van voor af te begin om die Evangelie vir hulle duidelik te maak. “G'n wonder dat hulle na al hierdie tyd nog steeds slegs twaalf is nie!” Paulus sug swaar en dan begin hy te verduidelik dat die doop wat hulle ontvang het, lankal uitgedien is. Hulle is met 'n boetedoop gedoop, die doop wat Johannes die Doper bedien het. Hulle moet nou die Christelike doop ontvang as teken dat Jesus hulle die verlossing gegee het. En die Heilige Gees moet deel wees van hulle lewens.
Die twaalf is hierna in die Naam van Jesus gedoop en Paulus het hulle die hande opgelê. En dan gebeur die wonderwerk: Hulle is almal vervul met die Heilige Gees! Daarna het die twaalf manne, vol van die Heilige Gees, met groot vrymoedigheid die Evangelie verkondig in Efese. Baie gou besef Paulus: Hier is sommer baie werk!
Vir drie maande lank is hy gereeld in die sinagoge om daar met die Jode te redeneer oor die Koninkryk van God. Daar is baie Jode in die stad, en 'n goeie aantal van hulle kom tot geloof in Jesus. Maar daar is natúúrlik ook die hardkoppiges wat net eenvoudig nie wil verstaan nie. Uiteindelik begin hulle dit vir Paulus moeilik maak. Hulle loop en vertel allerhande stories oor hierdie nuwe Godsdiens wat Paulus verkondig, en hulle probeer om dit belaglik te maak in die openbaar.
Naderhand kan Paulus dit nie meer hanteer nie. Hy sal nou 'n ander plan moet maak. Hy kan dit maar net nie kleinkry dat dit altyd die Jode is wat so hardekwas is nie! Onder die heidene is daar talle wat tot geloof kom, maar die Jode bly hulleself verhard! Hy gesels met Akwila en Priscilla oor sy dilemma.
“Tirannus het 'n saal waar hy kinders oplei in retoriek. Jy weet seker dat die kuns van openbare gesprekvoering 'n groot ding is hier in Efese?”
“Ja, maar ons kan tog nie die saal gebruik terwyl hy besig is met klasse nie?”
“Paulus, het jy vergeet dat ons elke dag tussen 11-uur en 4-uur siësta tyd het? Dan is almal besig met sy middagslapie. Ek is séker daarvan dat Tirannus nie sal omgee as ons sy saal gebruik in daardie tyd nie. Dan kan ons ‘retoriek’ beoefen saam met die gelowiges!”
Paulus is in sy noppies met die idee! Hiervoor gee hy sommer maklik sy middagslapie op! En Tirannus stem in. Nou het die gelowiges 'n permanente saal waar hulle elke middag kan bymekaarkom om diep geestelike gesprekke te voer in die tyd wanneer al die ander mense 'n middagslapie geniet.
Is ek en jy bereid om opofferings te maak vir die Here? 'n Sondagoggend is mos 'n baie lekker tyd om bietjie in te lê of te ontspan. Dan voel baie gelowiges bitter lui om die erediens te gaan bywoon en daar betrokke te raak. Dit is baie belangrik dat ons nie sonder baie goeie rede 'n erediens sal mis nie. Dit gaan nie net oor die boodskap nie, maar belangriker nog, dat ons daar saam met medegelowiges die Here verheerlik.
Gebed:
Here, maak my asseblief getrou in my diens aan U. En leer my om innoverend te dink wanneer daar struikelblokke op my pad kom en om te luister na die Stem van die Heilige Gees!