Lukas 19:11-27
Die opgewondenheid is baie groot in die skare wat stadig saam met Jesus beweeg. In die verte doem die indrukwekkende mure van die pragtige stad Jerusalem op. Fluisteringe gaan onder die mense op, dat die Koninkryk van God gaan kom sodra hulle Jerusalem bereik. Jesus praat tog immers kort-kort van Jerusalem, en daar is die afgelope weke al so ‘n verskriklike dringendheid by Hom om betyds by Jerusalem uit te kom. Wie weet, dalk is Hy rêrag die Christus! En nou gaan God Hom ophef tot Koning oor Israel. Hy gaan op die troon van Sy voorvader Dawid sit, en Hy gaan Israel verlos van die oorheersing van die haatlike Romeine. Die verwagting onder die mense bereik breekpunt. Enige oomblik nou gaan die Koninkryk kom!
In ‘n sekere sin was hierdie mense hééltemal reg - Jesus was (is steeds!) die Christus, die Messias na wie hulle so uitgesien het. Ja, en Hy sou op die troon van Dawid sit en heers as Koning! Maar nie alleen oor Israel nie. Hy sou heerskappy verkry oor die ganse heelal! In ‘n sekere sin was hulle ook reg oor die verlossing, maar die verlossing wat hierdie Koning hulle sou bied, sou totaal anders wees as die een wat hulle verwag. Wat hulle ook nie besef het nie (of wóú besef nie), is dat hierdie Koninkryk-koms gepaard sou gaan met verwerping, lyding en vervolging. Hierdie dinge was alles ‘n integrale deel van God se Meesterplan van verlossing.
Jesus het die fluisteringe gehoor, en toe vertel Hy hulle ‘n gelykenis om die koms van die Koninkryk so ‘n bietjie meer in perspektief te stel, en om te verduidelik dat daar ook ‘n groot verantwoordelikheid rus op die skouers van die mense wat so wag vir die Koninkryk om aan te breek. Jesus se boodskap aan Sy volgelinge is in kort, dat die Evangelie aan húlle toevertrou word, en dat húlle daarmee moet woeker om vir God ‘n goeie opbrengs te lewer.
As ons Jesus se storie gaan ontleed, sien ons ‘n paar baie interessante dinge - waarhede wat nie alleen bedoel was om die mense van daardie tyd te inspireer nie, maar wat vandag, tweeduisend jaar later steeds vars is en met elkeen van ons praat.
In die eerste toneel sien ons ‘n man van adellike afkoms wat sou weggaan om sy koningskap te ontvang. Hierdie Man is natuurlik Jesus. Jesus beskryf dan ook dat die Man gehaat is deur Sy landgenote en dat hulle selfs ‘n afvaardiging gestuur het om te laat weet dat hulle Hom nie as koning wou hê nie. Hoe tragies het hierdie “profesie” nie waar geword nie! Die oorgrote meerderheid van Jesus se landgenote, die Jode, baklei selfs tot vandag toe nog teen Sy koningskap, iets wat Hy ontvang het ten spyte van hulle verwerping.
Die opdrag wat die Man sy slawe gegee het, was om die goue muntstukke wat Hy aan hulle uitgedeel het goed te gaan gebruik. Hulle moes handel dryf daarmee en nog muntstukke genereer.
Slegs enkele maande na hierdie uitspraak van Jesus, was die eerste resultate van die opdrag alreeds sigbaar. Die Apostels was die “organiseerders” in die gemeente, en die gelowiges het gewoeker met die “goue muntstukke” (die Evangelie) wat hulle ontvang het. Elkeen waarmee hulle in aanraking gekom het móés net eenvoudig luister na hulle storie, en die resultaat was ‘n ontploffing van die Evangelie in Jerusalem. Kort voor lank raak die Joodse kerkleiers baie bekommerd oor hierdie veldbrand wat hulle nie gekeer kry nie, en toe begin hulle met ‘n vervolgingsveldtog. Die gevolg was dat die gelowiges die wye wêreld in gevlug het. Maar steeds het hulle aangehou woeker met hulle “goue munte”. En so spoel die Evangelie soos golwe ook oor die buitewêreld.
Jesus se storie vertel van daardie slawe wat hard gewerk en gewoeker het en resultate opgelewer het. Maar die tragiese is dat daar ook een was wat sy goue muntstuk gaan begrawe het. Ai! Hoeveel gelowiges begrawe nie vandag hulle muntstukke nie! In die tyd van die Nuwe Testament is mense wreed vervolg omdat hulle met die Evangelie gewoeker het. Nogtans het hulle voortgestoom. Vandag word ons nie werklik daaroor vervolg nie. Waarom is ons dan so bitter bang om met die Evangelie te woeker? Is ons dan banger vir mense se verwerping as vir God? Ek sê nie hiermee dat ons in vrees en bewing vir Hom moet leef nie, maar as ons weier om die eenvoudige opdrag wat Hy ons gegee het uit te voer, kan ons beslis nie seën op ons lewe verwag nie. In Mat. 28:18-20 spel Jesus hierdie opdrag uit: “Gaan dan na al die nasies toe en maak hulle My dissipels....”
Ek weet nie van jou nie, maar ek wil beslis nie in die posisie wees waar die Here vir my moet sê: “Jy is ‘n slegte slaaf!” nie. Hy het my die ewige lewe gegee, en daarom wil ek graag dinge doen om te wys dat ek dankbaar is en lief vir Hom. Daarom sal ek ook woeker met my “goue muntstuk.”
Gebed:
Here, gee my asseblief ‘n passie vir die Evangelie. Gee my die ywer om dit uit te dra en uit te leef.