Teenstand!

24 March, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Teenstand!

Nehemia 2:11-20

VIDEO | OUDIO

“Toe Sanballat, Tobija en Gesem hoor.....”

Nét daar begin Nehemia se moeilikheid! In vers 10 lees ons: “Hulle het dit as ‘n ramp beskou dat iemand gekom het wat iets goeds vir die Israeliete wou doen.” Jy moet mos bly wees dat daar goed gedoen word aan iemand, maar hierdie drie manne was kwaad daaroor! Dit het Nehemia genoop om uiters versigtig te werk te gaan!

Nehemia was skaars drie dae in Jerusalem toe hy alreeds sy planne agtermekaar gehad het. Natuurlik het hy baie mooi geluister na wat die Here hom op die hart gelê het. In die grootste geheimhouding roep hy ‘n klein handjievol betroubare manne bymekaar. Hulle wag totdat dit pikdonker is, en dan klim hulle op hulle rydiere en onder dekking van die nag sluip hulle deur die Dalpoort na buite die stad sonder dat enigiemand hulle sien. Versigtig, in doodse stilte ry hulle al langs die buitekant van die stadsmuur af verby die Jakkalsfontein tot by die Ashooppoort. Terwyl hulle so ry, doen hulle noukeurig inspeksie van die toestand van die mure en die afgebrande stadspoorte. Van die Ashooppoort af is hulle verder tot by die Fonteinpoort en die koning se dam. Maar daar kon hulle nie verder nie want hulle pad was versper. Hulle was verplig om maar weer terug te keer na waar hulle begin het by die Daspoort.

Nehemia het nie geweet wie hy kon vertrou nie, dus vertel hy niemand buiten die paartjies wat saamgegaan het van sy doen en late nie, selfs nie eers die stadsleiers nie!

Eers toe hy klaar sy inspeksie gedoen het en die omvang van die skade aan die stadsmuur bepaal het, roep hy die stadsleiers bymekaar. “Julle besef seker dat ons in groot moeilikheid is? Ons mure is vervalle en die stadspoorte is almal afgebrand! Ons is ‘n bespotting van almal rondom ons! Kom ons herbou die mure!”

Toe vertel Nehemia die leiers van sy ervaringe met God, en hoedat Hy Nehemia gelei het en voorsien het op die mees asemrowende manier. Hy vertel hulle ook van die koning se wonderlike reaksie toe hy hoor wat aan die gang was. Nie alleen het hy ingestem dat Nehemia kon gaan nie, maar hy het Nehemia amptelik gestuur en hom boonop nog toestemming gegee om hout te kry vir die bouwerk uit die koning se bos!

Almal was sommer dadelik baie entoesiasties, en soos één man stem hulle in om te begin om die mure te herbou.

Maar......

Sanballat van Goron, Tobija, die Ammonitiese amptenaar, en Gesem, die Arabier het van hulle besluite te hore gekom! Hierdie drie slinkse sakemanne was gladnie beïndruk met die verloop van sake nie: “Ons moet hierdie onding sommer dadelik in die kiem smoor!” besluit hulle. Hulle eerste taktiek is om die spot te dryf met die manne, want hopelik sal dit hulle lus vir die werk baie gou smoor: “Wat probeer julle nou aanvang? Julle dink tog sekerlik nie dat julle hierdie reuse mure sal kan herbou nie? En boonop – weet die koning ooit van hierdie konkelwerk waarmee julle besig is? Dis mos opstand, is dit nie? As hy hiervan te hore kom, gaan hy julle vermorsel!”

Nehemia het hulle bloot geantwoord: “Die God van die hemel, Hy sal ons sukses laat behaal. Ons, sy diensknegte, sal gereedmaak en herbou. Maar julle het geen deel aan, geen reg op, of geen nalatenskap in Jerusalem nie.” (Neh. 2:20).

Die teenstand wat Nehemia ondervind, word telkens ingelui deur die woordjie “hoor.” Dit begin in 2:10: “Toe Sanballat en Tobija dit hoor..... was dit vir hulle ‘n ramp.” “Maar toe Sanballat, Tobija en Gesem dit hoor..... het hulle gespot.” (2:19). “Toe Sanballat hoor..... was hy ontsteld” (4:1). “Toe Sanballat, Tobija, die Arabiere, Ammoniete en mense van Asdod hoor ..... dat dit vorder, het hulle baie kwaad geword.” (4:7). “Ons vyande het gehoor dat hulle plan aan ons bekend is.” (4:15).

Hulle strategie het ‘n patroon gevolg: Eers beskou hulle dit as ‘n ramp. Dan dryf hulle die spot. Later word hulle teenstand so erg dat die bouers onder gewapende begeleide moet werk (hoofstuk 4). Toe niks werk nie, probeer hulle om Nehemia permanent uit te skakel (hoofstuk 6).

Dis tóg interessant dat Nehemia hom nie op die koning se mandaat beroep nie, al was dit die koning wat hom amptelik gestuur het. Vir Nehemia was dit egter van kardinale belang dat almal sou weet dat hy hom slegs op God beroep “omdat die goeie hand van my God oor my was!”

Die vraag is: waar lê my krag as gelowige? By God alleen!

Gebed:

Here, ek wil U loof en prys omdat ek my altyd op U kan beroep. U is my Lig en my Krag!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026