Handelinge 9:32-43
Ons nader nou die einde van ons reeks oor vroue uit die Bybel. Daar is egter nog drie vroue waaroor ek graag wil gesels. Die eerste se naam is Tabita, ‘n vrou wat goud werd was vir haar samelewing. Maar Tabita het ‘n “probleem” gehad, sy was dood!
Gebeur daar vandag nog wonderwerke? Ek wil vanoggend ‘n klip in die bos gooi en sê dat daar elke dag talle wonderwerke gebeur. Dit is nie net by “genesingsdienste” waar hulle plaasvind nie, maar in die alledaagse lewe. Soms is die wonders groot en aanskoulik, en ander kere weer, soos meestal die geval, is dit klein dingetjies wat op die oog af lyk of dit “toevallig” gebeur. As jy egter 'n slag jou oë en hart oopmaak, sal jy die talle wonderwerke raaksien. ‘n Paar jaar gelede was daar ‘n beriggie in die koerant van ‘n man wat deur rowers aangeval is. Die rower het ‘n pistool teen die man se kop gedruk en die sneller getrek. Die skoot het nie afgegaan nie! Toe trek die rower wéér die sneller, en steeds was daar net ‘n klikgeluid. So ook die derde keer. Is dit nie ‘n wonderwerk nie? Male sonder tal gebeur sulke wonderwerke tussen ons, maar ons sien dit nie raak nie.
In Handelinge lees ons van ‘n paar wonderwerke wat gróót opslae veroorsaak het. So het Petrus per geleentheid op ‘n “preektoer” gegaan. Hy het Jerusalem verlaat, en oral op die plattelandse dorpies die woord gaan verkondig. Op ‘n dag kom hy in ‘n dorpie met die naam Lidda, halfpad tussen Jerusalem en die hawestad Joppe. Die verhoog was vir hom opgestel, want daar tref hy ‘n verlamde man met die naam Enas aan. Enas was al vir die afgelope agt jaar bedlêend. God het egter ‘n baie groot plan met hom gehad. Hy moes die instrument wees om ‘n groot menigte mense tot bekering te laat kom. ‘n Hulpelose, verlamde? Hoe kan hy help? Petrus hoor die stem van die Heilige Gees, en hy weet dat hierdie man die onderwerp van ‘n wonderwerk moes word. “Jesus Christus maak jou gesond,” sê Petrus vir die man. Hy kyk Petrus verbaas, half ongelowig aan. “Staan op en maak jou bed op,” gaan Petrus voort. Onmiddellik voel die man die lewe in sy slap bene invloei, en hy spring op. Die omstanders snak na hulle asems: sówat het hulle nog nooit beleef nie! Die storie versprei soos ‘n veldbrand, en van heinde en verre, vanoor die hele Saronvlakte stroom mense saam om te kom sien wat gebeur het. Almal ken tog die arme Enas wat so bitterlik lank moes ly. Voor hulle oë het hy verander van ‘n verlamde na ‘n blakend gesonde man. Só 'n genesing was nie binne die mag van énige mens nie! Deur Enas se siekte en dan veral sy genesing het groot getalle mense gelowig geword.
Maar Petrus se taak as instrument in die hand van God was nog lank nie verby nie. Uit die hawestad Joppe kom twee manne aan met ‘n versoek dat Petrus daarheen moes kom. Teen hierdie tyd was hy al deur die ganse Israel bekend as ‘n groot prediker. Op pad vertel hulle hom van die groot tragedie wat hulle getref het. In Joppe woon daar ‘n baie begaafde vrou met die naam Tabita, oftewel Dorkas, soos die Grieke haar noem. Beide name beteken “Bokkie”.
“Hierdie vrou was ongelooflik,” vertel hulle vir Petrus. “Daar het absoluut niks vir haar twee hande verkeerd gestaan nie. Sy was gedurigdeur besig met die een of ander projek om die armes in die gemeenskap te versorg. Jy moet net die klere sien wat sy vir die behoeftiges gemaak het!”
Dit was twee bedroefde manne wat vir Petrus vergesel het na Joppe om vir Tabita te gaan begrawe. Hulle het spesifiek vir Petrus kom haal, want net die héél beste prediker sou goed genoeg wees om so ‘n besondere mens ter ruste te lê. Niemand was egter voorbereid op wat daar sou volg nie.
Op Joppe aangekom, tref Petrus ‘n groot skare van bedroefde mense aan. ‘n Klomp weduwees, wat maar swaar getref was deur hulle omstandighede, was daar om hulle laaste eer te kom betoon aan dié vrou wat so ‘n groot verskil in hulle lewens gemaak het. “Kyk net die mooi klere wat sy vir ons gemaak het,” snik een bedroefde ou tannie dit uit.
Hulle neem Petrus na die bokamer, en daar tref hy die lyk van Tabita aan, netjies skoon gewas en uitgelê, gereed vir haar begrafnis.
“Laat my vir ‘n rukkie alleen met haar,” versoek Petrus die huilende massas. Hy bid. Dan weet Petrus dat hier vandag iets moes gebeur tot eer van God: “Tabita, staan op!” beveel hy die lyk, in die Naam van Jesus. Dan gebeur die wonderwerk, en Tabita maak haar oë oop. Dadelik sit sy regop, en Petrus help haar op uit die bed uit. Weereens versprei die nuus soos ‘n veldbrand deur die hele stad, en talle mense kom tot geloof. Die Here maak vir Petrus deure oop, en terwyl hy by Simon die leerlooier tuisgaan, kry hy die geleentheid om in vryheid te preek en die evangelie te versprei.
Ja, inderdaad het wonderwerke nie net by Jesus opgehou nie. Maak jou oë oop vir die talle wonderwerke wat elke dag rondom jou afspeel, en laat jou hart aanraak daardeur.
Gebed:
Dankie Here, vir die talle wonderwerke wat U reeds in my lewe gedoen het.