Filippense 4:4-7
Sit ons toe mos ewe salig een pragtige oggend en ontspan op die stoep in Marloth Park. Dit is ‘n heerlike rustige oggend, en alles is mooi en vreedsaam. Dalk moet ek dit vreetsaam noem, want ons het appels aan die bome opgehang, en die houtkappertjies, spreeus en neushoringvoëls val behóórlik weg aan hierdie meelopertjie. Tussen die bome deur kan ons die rooi skynsel uitmaak van ‘n paar rooibokkies wat rustig wei. ‘n Hemelse, rustige prentjie! Ek sak sommer ‘n bietjie dieper in my stoel weg om myself gemakliker te maak.
Dan kom daar ‘n ding aangewaggel deur die gras. ‘n Vlakvark, maar so groot soos wat ek lanklaas gesien het! Hy is net so wyd as wat hy hoog is, en behalwe vir al die knoetse en karbonkels op sy suur gevreet, hang die keelvelle so drie lae opmekaar. ‘n Uitgevrete, vet vark, so sou jy hom dalk kan beskryf. Meneer waggel reguit na ‘n klompie mieliepitte wat ek vir die tarentale uitgegooi het, en begin die pitte een vir een uit die stof uit oplek. Die één ding wat my dadelik opval, is die onvriendelikheid wat sommer so van sy gevreet afdrup. ‘n Wrede stel slagtande, waarvan een stomp afgebreek is, plaas ‘n skewe raam om sy nors bakkies.
Skielik kyk die ou op en gee ‘n vulgêre snork terwyl sy bloedbelope ogies die veld instaar. Ek volg sy blik. ‘n Pragtige vlakvarksoggie kom vrolik aangehuppel, kort op haar hakke, twee skattige ou klein varkies. Ek sit regop - hier kom sports! Skielik steek die soggie vas, onseker of sy welkom sal wees by die feesmaal. Suurgevreet brom stywesnoet. Hy draai homself so half in haar rigting. Hy prewel iets vir haar, en ek kan duidelik hoor dat dit beslis nie romantiese woordjies is nie. Sy wil nog vriendelik naderkom, maar die volgende oomblik stoomroller ou Norse op haar af. Jy sien net kleintjies spaander, stertjies soos lugdraadjies, kiertsregop in die lug. Maar blykbaar het hulle nie geleer nie, en dan kom hulle terug om weer te probeer. Suurgevreet is nou woedend! Hy storm weer, en laat hulle in géén onduidelike terme verstaan dat hierdie sý pitte is. Hulle is níé welkom nie!
Die arme ou soggie en haar kleintjies kies moedeloos en verworpe die hasepad, en Suurgevreet plof met ‘n swaar sug in ’n stofwolk behaaglik onder ‘n rosyntjiebos neer.
Onthou jy nog die liedjie: “Filippense vier vers vier sê: Verbly jou in die Heer! Verbly jou, verbly jou, verbly jou in die Heer!”? Dis onbegryplik dat ‘n man soos Paulus, wat in die tronk sit, vir ‘n gemeente kan skryf dat hulle bly moet wees, letterlik jubel! Maar hierdie is nie sommer net mooi praatjies nie, ons sien hierdie lewensvreugde deurgaans prakties in Paulus se lewe, selfs in die mees haglike omstandighede. Hy leef uit wat hy preek! Sy lewe is ‘n skrille teenstelling met die van ou Suurgevreet, die vlakvark.
Paulus het egter nie sommer maar hierdie mooi dinge geskryf sodat ons hom moet bewonder nie. Sy pleidooi is dat ek en jy as gelowiges daardie selfde blydskap, daardie lewensvreugde prakties in ons lewens sal ervaar en uitleef. In die eerste plek moet jy jou uiterlike omstandighede losmaak van jou innerlike gesteldheid, iets wat nie sommer vanself kom nie.
Die vraag is: waar kry jy hierdie blydskap vandaan? Paulus gee die antwoord in vers 4: In die Here! Ons kan dit slegs ervaar as jy bewus is van Jesus se teenwoordigheid in jou lewe, ook waar jy dalk in moeilike omstandighede is. Die bonus van so ‘n lewe van blydskap is dat dit aansteeklik is, en dat ander mense ook aangevuur word deur jou blydskap. Dit kan ‘n spannende atmosfeer totaal ontlont en die mense waarmee jy in aanraking kom in ‘n ander gemoedstoestand inlok.
Nou sal jy dalk wil vra: “Maar hoe kry ek dit reg om te borrel van blydskap as die bekommernisse van die lewe besig is om my te versmoor?” Eerstens moet jy besef dat dit nie sommer vanself kom nie, en dat dit van jou ‘n positiewe wilsbesluit vra. As jy hierdie besluit geneem het, is die volgende stap gebed. Nie ‘n gebed om te vra dat die probleme moet verdwyn nie, maar ‘n innige gebed dat die Here jou borrelende blydskap sal gee ten spyte van jou probleme. Dit is dán wat jy begin om die onbeskryflike vrede wat alle verstand te bowe gaan, daardie vrede waarvan Paulus in vers 7 skryf, te ervaar. Hierdie is nie maar net ‘n “gevoel” nie, maar dit is die ervaring van wat Jesus se vrede werklik beteken.
Hoe kan ek dan blydskap ervaar en uitleef, as ek weet dat ek steeds probleme het? Die hele gedagte dat God in beheer is, is al klaar genoeg. Dalk het Hy ‘n groot doel met jou probleme, en daarby kan jy berus, want al los Hy nie jou probleme op nie, sal Hy jou steeds krag gee om dit te verwerk, en sal Hy jou daardeur dra. Gee dus maar jou probleme oor aan God, en vul jou lewe met die liefde en blydskap wat alleen Hy kan gee. Drink dit in en geniet elke oomblik daarvan.
Gebed:
Dankie Here, dankie dat ek al my sorge vir U kan gee. Vul asseblief my dag met liefde en ‘n borrelende blydskap.