Markus 8:14-21
As ek begin gesels oor potbrood, dan raak ek skoon liries! Een van die groot lekkertes van ‘n kuiertjie in die Bos, is natuurlik daardie siel-salige uitstrek by ‘n hardekoolvuurtjie, en om dan die klanke en geure van die veld in te drink. Om die vlammetjies dop te hou terwyl hulle bokspring en dans en huppel en allerhande prentjies optower, voer jou weg na ‘n sprokieswêreld. Wanneer jou vleisie rustig op die kole lê en lekker raak, en daardie vingerlek-lekker geur van die smeulende hout soos ‘n spons indrink, dan kan dit amper nie beter nie! Maar alles raak eers volmaak as daar ‘n potbroodjie eenkant op ‘n paar rustige kooltjies staan en stoom!
Só ‘n potbrood gebeur nie sommer maar vanself nie. Om hom so goudbruin en donsig-sag te kry, het jy ‘n paar belangrike goed nodig, soos meel en sout, dalk ’n bietjie kruie vir die smaak, maar sonder suurdeeg sal hy soos ‘n baksteen smaak. Die suurdeeg moet behóórlik deur die deeg geknie word, dan begin die wonderwerk as die wit deeg na ‘n halfuur hier voor jou oë begin rys, totdat hy naderhand oor die skottel se rand probeer ontsnap. Dis wonderlik hoe slegs ‘n paar korreltjies suurdeeg ‘n hele skottel deeg in ‘n heerlike, geurige, stomende, watertand broodjie kan omtower. As jy na ‘n uur se bak die pot se deksel lig, dan sug almal om die vuur: “Aaaaah!” van pure verwondering. Dis dán waar jy skoon vergeet van die peperduur biefstuk op die kole...…!
Ek kon nog nooit mooi agter die kap van die byl kom, oor presies hoe suurdeeg werk nie. Al wat ek weet, is dat hy alles waarmee hy in aanraking kom, beïnvloed en dat dit ‘n lewende organisme is. Gooi jy ‘n teelepeltjie vol in ‘n skottel deeg, dan begin dit borrel en groei. Gooi ‘n bietjie suurdeeg in ‘n emmer vol water, suiker en gemmer, en daardie flou watertjie raak binnekort ‘n heksebrousel wat gis totdat dit borrel en kook en stoom! Die eind-produk is dikwels ‘n ding met ‘n skop soos ‘n donkie as jy hom te lank laat staan! Dis die suurdeeg wat die rustige watertjie ‘n baie kwaai brousel maak. Tydens my dienspligdae het een van die kokke eendag skelmpies ‘n paar bottels gemmerbier gemaak en in die warm plafon weggesteek. ‘n Paar dae later het een bottel ontplof. Toe hy die res uithaal, het die goed ‘n skop gehad soos ‘n muil! Giftig!
Dalk is dit juis hierdie invloed wat die Jode suurdeeg in ‘n negatiewe lig laat sien het. Hulle het geglo dat suurdeeg in ‘n sekere sin agteruitgang veroorsaak het. Gedurende Paasfees was alle suurdeeg dan ook as ‘n simboliese aksie by die huis uitgesmyt. Tydens daardie tyd was brood sonder suurdeeg gebak. Ek dink nie dit kon lekker wees nie! In die Nuwe Testament word suurdeeg dan gewoonlik ook, met slegs een of twee uitsonderings, in ‘n negatiewe sin gebruik. In Markus 8 waarsku Jesus Sy dissipels teen “die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodus”.
Net soos wat ‘n klein bietjie suurdeeg ‘n groot invloed het, het een enkele persoon dikwels ‘n invloed op baie mense. Hitler was ‘n kragtige “suurdeeg” wat miljoene mense beïnvloed het. Net so kan ‘n enkele negatiewe persoon ‘n hele gemeente versuur. Ek onthou die Sondag toe ‘n gemeentelid opgestaan het tydens die Erediens en aangekondig het dat hy nie langer na die dominee se “snert” wou luister nie. Alhoewel die leraar ‘n goeie boodskap gehad het, was die ganse erediens totaal geruïneer daardie Sondag. Een persoon se negatiewe houding kan ‘n hele gemeente saamsleep op sy donker pad!
Maar suurdeeg kan ook in ‘n positiewe lig gesien word, soos in Matt. 13:33 beskryf word. Dink maar aan die geurige potbrood. Een enkele persoon kan ‘n hele gemeente positief beïnvloed met byvoorbeeld liefde wat uitstraal of blydskap of entoesiasme. Toets dit maar: stap in ‘n vertrek in waar ‘n klomp teneergedrukte mense sit. Begin om vrolik en hartlik die mense te groet met blydskap wat uit jou hart en gesig straal, en binne minute verander die ganse stemming van daardie groep. Mense wat totaal afsydig is, sal selfs met mekaar begin gesels. Dis hoe goeie suurdeeg werk!
Die wonderlike van suurdeeg is dat dit ‘n lewende organisme is. Anders as bakpoeier wat slegs vir een baksel die deeg kan laat rys, kan suurdeeg aangaan en aangaan. As jy ‘n bietjie van die deeg wat ingesuur is bêre, kan jy more en oormore en volgende maand nog steeds deeg daarmee laat rys. Net so is ‘n gelowige se positiewe suurdeeg ook nie maar ‘n eenmalige ding nie, maar dit moet ‘n lewenswyse wees van positiewe inspirasie en blydskap wat aangaan sonder ophou, selfs deur swaar tye. Op hierdie wyse gee jy dan ook vir ander mense moed en veral belangrik: hoop!
Die belangrike om egter te onthou, is dat niemand dit kan doen uit eie krag nie. God die Heilige Gees alléén kan jou die krag gee om vol te hou daarmee om goeie suurdeeg te wees en geurige “potbrode” te bak. Maar ewe belangrik is, dat jy nie die eer aan jouself toeëien nie, maar sal vertel waarvandaan jou krag kom.
Gebed:
Here, maak my asseblief ‘n goeie suurdeeg in U Koninkryk, en gee my die krag om dit uit te leef tot U eer.