Openbaring 2:8-11
Mev. Chang, ‘n bejaarde dame in Sjina, was alreeds as jong meisie wreed vervolg vir haar geloof. Toe sy vir die eerste keer in isolasie in die tronk beland, word sy in die pikdonker sel in die haglikste omstandighede opgesluit. Nie alleen was sy stoksiel alleen nie, maar die sel was vieslik vuil. Menslike uitwerpsel van die vorige gevangenes lê besaai op die vloer. Mev. Chang het baie hard gebid, en vir die Here gesê dat sy so graag vir Hom wou werk. Haar begeerte was om die wonderlike Evangelie met ander mense te deel, maar in haar sel was sy sonder enigiemand om eers mee te kon praat.
Skielik kry sy ‘n gedagte. Sy roep die bewaarder, sê hom dat sy gesien het hoe verskriklik vuil die tronk was. Die rioolstelsel het nie altyd so lekker gewerk nie, en die gevolg was dat die riool gereeld deur die tronk gespoel het. Sy sê vir die bewaarder dat sy bereid is om die tronk vir hulle skoon te skrop, as hy net vir haar ‘n skropborsel en ‘n emmer water kon bring. Nie baie lank daarna nie, kry sy haar borsel en emmer, en Mev. Chang vertrek op haar knieë op haar reis deur die tronk, en sy skrop dat die biesies bewe. Maar so ver as wat sy deur die selle beweeg vertel sy vir die gevangenes van Jesus, en keer op keer gebeur dit dat geharde gevangenes op hulle knieë vir Jesus aanneem as verlosser.
En so werk Mev. Chang haar pad deur die ganse tronk, totdat elke gevangene die boodskap van Jesus gehoor het. En toe maak die tronkowerhede ‘n baie groot flater: hulle stuur Mev. Chang na ‘n ander tronk! En daar kon sy natuurlik van voor af weer haar sendingaksie begin!
Johannes se tweede brief is gerig aan die gemeente van Smirna, die enigste van die sewe stede wat vandag nog bestaan. Dit staan vandag bekend as Ismir. Dit was ‘n skatryk handelstad met ‘n groot en besige hawe. Keiserverering was hier ‘n groot en gewilde aktiwiteit, en daar was van al die inwoners verwag om deel te neem. Die Christene het egter geweier, want daar is net één Here wat hulle ken en aanbid. Die gevolg was dat hulle daagliks vervolging in die oë gestaar het.
Hulle het egter ook teenstand uit ‘n totaal ander oord gekry: Daar was ‘n klomp Joodse kwaadstokers wat die lewe vir die Christene baie moeilik gemaak het. Hulle het die Christene by die Romeinse owerhede beskinder, beswadder en aangekla. Só erg het hierdie kwaadstokery handuit geruk, dat die Christene geweet het dat dit hulle voorland was om in die tronk te beland. En die lewe in ‘n Romeinse tronk was nou nie juis as ‘n partytjie bestempel nie!
Ten spyte van die rykdom van die stad, het die Christene nie deel daarin gehad nie, en meeste van hulle was maar brandarm. Boonop moes hulle gedurig gebuk gaan onder uitlokking en teistering van alle kante af, heidene sowel as die Jode.
Dan kom die woorde van hierdie brief, en spoel soos ‘n koel lafenis oor hulle gemoed, wanneer die Sender van die brief Homself voorstel as “Die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewendig geword het.” Ja, natuurlik ken Hy hulle verdrukking, Hy het immers sélf daardeur gegaan, en Hy weet presies wat dit behels! En Hy ken hulle armoede, Hy was sélf in daardie bootjie. Ook die vervolging van die Jode, dié het Hy baie goed geken. Hoe het hulle nie gesoek na iets om Hom by die Romeine in onguns te bring nie! Hy bied hulle troos en bemoediging, hulle moes net vasbyt! Alles sou uiteindelik oor en oor die moeite werd wees. Inderdaad kon die vervolging selfs hulle dood beteken, maar die oorwinning daarna was die alles-oortreffende ewige lewe wat hulle as kroon sou kry.
Vandag is die verdrukking van Christene in sekere lande moontlik nog baie erger as in Johannes se tyd. Slegs ‘n baie klein persentasie van Christene wêreldwyd leef in die vryheid wat ek en jy ken. By verre die grootste gedeelte, ongeveer 80% van die Christendom word wreed vervolg vir hulle geloof, en kan nie in vryheid aanbid nie. Baie moet in die strengste geheimhouding hulle geloof beoefen. En die meeste van hulle het nog nooit eers die voorreg gehad om ’n Bybel in die hand te hou nie! Hierdie mense het my en jou gebed nodig om hulle deur hulle beproewings te dra!
Kyk gerus na Geopende Deure se webwerf, opendoors.org.za waar nuus oor die kerk in die verdrukking verskyn. Jy sal verstom staan oor wat Christengelowiges vandag in ons verligte eeu moet deurmaak!
Maar weereens sluit Johannes af met die wonderlike belofte: diegene wat bly volhard en glo, sal dalk deur die eerste dood getref word, maar die tweede, geestelike dood - die ewige verdoemenis, sal hulle nie ken nie!
Gebed:
Here, dankie dat ek U in vryheid mag aanbid. My hart gaan vanoggend uit na miljoene Christene wat wreed vervolg word vir hulle geloof. Skenk aan elkeen van hulle asseblief U vrede wat alle verstand te bowe gaan, sodat hulle staande kan bly.