Sprinkane en Duisternis

23 June, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sprinkane en Duisternis

Eksodus 10:1-29

???? VIDEO | ???? OUDIO

Ek weet nie of daar een van ons vandag is wat werklik al ooit ‘n groot sprinkaanplaag beleef het nie. Die swerms wat ons die afgelope klompie jare beleef het was redelik onder beheer en slegs in uitsonderlike gevalle het groterige sprinkaanswerms skade aangerig. Ouma het my egter vertel van die afgryslike verskrikking van so ‘n ramp wanneer daar die dag ‘n rêrage swerm opdaag. Sy het vertel dat dit donker geword het as die swerm oor jou vlieg! Waar hulle gaan land, bly daar absoluut niks oor nie! Elke krieseltjie wat eetbaar is word verorber, sodat daar net die kaal grond oorbly. En daardie jare was daar géén manier om hulle te stuit nie - magteloos moes hulle toekyk hoe die sprinkane hulle landerye opvreet soos ‘n reuse, honger grassnyer.

In Egipte kry Moses van God opdrag om ‘n boodskap aan die Farao te gaan oordra. Toe die koning se amptenare die twee ou manne sien aangeloop kom, krimp hulle klaar inmekaar van vrees, want die angswekkende haelstorm lê nog vlak in hulle geheues. Hulle móét net eenvoudig hulle goddelike koning oorreed om toe te gee aan Moses se versoeke, want hulle sien nie kans vir nóg ‘n ramp in Egipte nie. Elke keer kom dit nader en nader aan hulle eie bas!

“Die Here God beveel dat jy my volk laat gaan om te aanbid,” kondig Moses dit aan, “Weier jy, dan sal Ek jou môre tref met ‘n sprinkaanplaag!” Dan beskryf Moses die bloedstollende omvang van hierdie plaag wat alles sal opvreet wat nog van die haelstorm oorgebly het. "Dit sal tien keer erger wees as enige sprinkaanswerm wat julle óóit beleef het!" Daarmee draai Moses om en stap uit.

“Asseblieftog Majesteit’” pleit die Farao se amptenare by hom, “laat hulle asseblief gaan - ons kan dit nie meer vat nie! Hierdie man is slegte nuus!”

“Nou goed dan,” gee hy toe. “Maar slegs die mans mag gaan. As ons die vrouens en kinders ook laat gaan, loop hulle dalk weg. Net die mans!”

Farao stuur een van sy amptenare om Moses en Aäron te gaan haal. Wanneer hulle voor die Farao staan, word hulle meegedeel dat hulle maar kan gaan aanbid. “Maar wie gaan almal saam?” wil die Farao weet. As Moses vir hom vertel dat mans, vrouens, kinders en al hulle skape en bokke ook gaan, dan sit die man woedend sy voet neer. “Nee! Só sal ek dit nie toelaat nie! Slegs die mans kan gaan. Julle het ‘n verkeerde ding in die kop!”

Moses het al lankal geweet dat die Farao hulle nie sal laat gaan nie - die Here het dit dan duidelik vir hom uitgespel. Dit was God se plan dat die Farao onversetlik sou bly, want Hy wil juis aan die Israeliete toon tot watter wonders Hy in staat is. “Dan kan jy aan jou kinders en kleinkinders vertel wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het,” het God vir Moses gesê, “en watter wonders Ek onder hulle verrig het om hulle te laat besef dat Ek die Here is.” (Eks 10:2)

Israel mag nooit vergeet hoe groot God werklik is nie. En vandag, duisende jare later, hoor ons nog steeds die asemrowende wonderverhale, sodat ons kan besef hoe groot Hy is.

Hierdie slag is Moses nie maar net hoflik versoek om terug te gaan nie - hy en sy broer is onseremonieël uit die Farao se paleis uitgejaag! Die man was omgesukkel! Maar daaraan het Moses hom min gesteur - hy het dit immers verwag! Op God se bevel strek Moses sy kierie uit oor Egipte en dan steek daar ‘n oostewind op wat sprinkaanswerms uit die Arabiese woestyn aanwaai na Egipte. Die volgende oggend vroeg was hulle daar - sprinkane met koppe wat amper soos die van perde lyk, mini-strydrosse wat in hulle miljoene in pikswart wolke toesak oor Egipte. Elke krieseltjie wat te ete was, het hulle opgevreet - verorber sodat daar absoluut niks van die land oorgebly het nie!

En weereens, soos soveel keer tevore, kom pleit hierdie karikatuur van ‘n koning by Moses om tot God te bid sodat die nagmerrie asseblieftog net ‘n einde kan kry. “Ek het verkeerd gedoen teen julle God en teen julle!” pleit hy. “Vergeef tog asseblief net hierdie keer my oortreding!”

Moses het gebid,en God het geantwoord en die sprinkane met ‘n westewind in die rietsee in gewaai sodat daar nie ‘n enkele een oorgebly het nie.

Maar steeds was God nie klaar met die Farao nie - daar was nog twee baie belangrike tekens van Sy almag wat vertoon moes word. En soos wat ons dit nou al sal verwag, verhard die koning sy hart weereens!

Wanneer Moses weer sy kierie in die lug opsteek, gebeur daar ‘n onheilspellende ding wanneer die negende plaag Egipte tref. ‘n Pikswart, tasbare duisternis sak vir drie dae lank oor die land toe. Die Farao moes besef het dat dit sy laaste kans was, maar hy het God geminag en Moses weggejaag en met die dood gedreig. Nou was die verhoog opgestel vir die grootste magsvertoon van God, waar elkeen net eenvoudig moes besef dat Hy die enigste ware God is!

Gebed:

Here, as ek hierdie verhale lees, dan word ek gevul met ontsag, en dan besef ek weereens hoe groot U werklik is. Selfs die wette van die natuur moet swig voor U almag!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026