Genesis19:1-38
Vanoggend se gru-verhaal begin met ‘n gesiene man wat rustig in die stadspoort gesit het. Lot was ‘n immigrant in Sodom, maar hy was ‘n goeie inwoner met goeie waardes wat saam met die ander oudstes by die ingang van die stad kon sit en regterlike uitsprake maak. Hy was dus iemand wat kon leiding gee en regspraak handhaaf. Lot het sékerlik iets van sy Oom Abraham geleer deur die jare. Maar het hy genoeg van hom geleer?
Twee vreemdelinge daag op by die stad. Lot is nie bewus daarvan dat dit twee engele is nie, dieselfde twee wat so pas saam met God ‘n gesprek met Oom Abraham gevoer het. Dit word nie pertinent hier genoem nie, maar ek is séker dat Lot vir hulle veiligheid gevrees het, die oomblik toe hy hulle sien, want hy doen groot moeite om hulle welkom te heet en ‘n veilige slaapplek in sy huis te gee. Hulle wil eers sommer op die plein gaan slaap, maar daarvan wil Lot niks weet nie. Het hy geweet dat as hulle op die plein sou slaap, hulle verséker aangerand sou word?
Lot se voorgevoel was ook dan gladnie ongegrond nie, want die manne van die stad het die twee vreemdelinge raakgesien. Daardie selfde aand word Lot se huis omsingel. Lot word beveel om die twee manne uit te lewer sodat hulle homoseksueel misbruik kan word. In die vorige oordenking het ons verneem dat Sodom en Gomorra in die oë van God so sondig was, dat Hy die stede wou verwoes. Nou begin ons egter agterkom van die ware omvang van hierdie sonde. Hierdie stad is totaal korrup, en géén vreemdeling is hier veilig nie. Elkeen wat daar kom word baie gou ingeslurp in hulle walglike praktyke.
Lot pleit by sy medeburgers om die vreemdelinge die verkragting te spaar, en dan doen hy die ewe-walglike ding, om sy eie twee dogters vir hulle aan te bied sodat hulle dié maar kan verkrag soos hulle lus kry, solank hulle net sy gaste spaar.
Nou begin daar ‘n ander sy van Lot na vore kom. Aan die een kant is hy beskermend teenoor sy gaste, maar terselfdertyd is hy bereid om sy eie gesin se waardes en veiligheid vir die wolwe te gooi. Dit maak gladnie sin nie. Hy pas selektiewe moraliteit toe omdat hy sy gewete wil sus. Het sy verblyf in die sondige Sodom dalk al sy eie waardes begin aantas? Lot was deeglik bewus van die verrotte waardes van die stad, maar hy het steeds verkies om by hulle te woon.
Jy moet maar verseker weet, dat as jy die pakket van sekuriteit en gemak plus die risiko van boosheid verkies, dan verbind jy jouself alreeds tot ‘n skewe waardesisteem. Lot kon die stad en sy mense nie beïnvloed nie, al het hy baie vroom by die poorte gesit en regspraak lewer! Die stad het hóm al klaar sleg beïnvloed!
Wanneer Lot se eie lewe bedreig word omdat hy die vreemdelinge nie wil uitlewer nie, red die engele hom deur hom in die huis in te trek en die woedende skare skielik met blindheid te slaan. Lot word aangesê om onmiddellik te vlug met sy gesin. Lot is egter so verknog aan die weelde waarin hy geleef het, dat hy bly talm. Sodom het in sy bloed gekruip!
As die dag begin breek, sleep die twee engele vir Lot, sy vrou en sy twee dogters uit die stad uit. Hulle vlug vir hulle lewe na ‘n klein dorpie daar naby. Dan tref die verskriklike ramp die stad. Swael en vuur reën uit die hemel, en die hele vlakte waar die dooiesee vandag geleë is, gaan in vlamme op. Lot se vrou het nie gedoen wat die engele beveel het nie. Sy het getalm, omgedraai, dalk wou sy vir oulaas nog die wonderlike stad sien waar sy al haar besittings moes agterlaat, en toe raak sy agter. Dalk het die gasse en as haar oorweldig. Sy het ‘n gruweldood gesterf omdat sy nie ag geslaan het op die engele se waarskuwing nie. Sy het in ‘n soutpilaar verander, nes met die mense van Pompeï gebeur het, om die nageslag te herinner aan ‘n persoon wat God se waarskuwing verontagsaam het.
Die verhaal het egter nóg ‘n grillerige nadraai, wanneer Lot en sy twee dogters later in ‘n grot gaan skuiling soek. Ek wil myself die vraag afvra: waarom het hulle nie na Oom Abraham toe gegaan nie? Dit sou mos net logies wees? Was Lot dalk bang dat Abraham hom sou berispe of verwyt?
Sodom was dood, uitgewis, verwoes deur die hand van God. Maar so ‘n ietsie van Sodom het voortgeleef in Lot en sy twee dogters. In die grot maak Lot se twee dogters hom dronk. Dan pleeg hulle bloedskande met hulle pa. Walglik!
Boosheid kan nie eers deur verwoesting uitgewis word nie! Boosheid kan slegs uitgewis word deur ‘n hartsverandering. Jy moet eers van binne af nuut gemaak word en totaal herskep word. Dit kan slegs gedoen word deur God self, wanneer die Heilige Gees jou die wedergeboorte gee en jou nuut maak. Lees gerus wat staan in Efesiërs 4:17-23, waar Paulus by jou pleit om nie langer soos ‘n heiden te lewe nie, maar jou te laat herskep na die beeld van God om volkome volgens Sy wil te leef.
Gebed:
Here, die verhaal van Sodom ruk my aan die hart. Hou asseblief my hand vas, en gee vir my die wil om heilig te lewe volgens U wil.