Slaaf of Vry?

5 July, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Slaaf of Vry?

Galasiërs 4:21-31

Video

Oudio

Paulus wil sy boodskap baie duidelik tuisbring, daarom gebruik hy ‘n allegorie om dit te verduidelik. “Nou vloek die man darem lelik, nè!” Nee, dis nie ‘n lelike woord nie, maar as dit nie baie versigtig gebruik word nie kan dit gevaarlik wees. ‘n Allegorie is ‘n sinnebeeldige of simboliese voorstelling. Allegoriese argumente was dikwels deur Skrifgeleerdes gebruik om sekere waarhede by mense tuis te bring deur ‘n verhaal uit die Ou Testament te neem en dan ‘n diepere betekenis daaraan te heg. Hierdie sou dan die ware geestelike betekenis van die gebeure wees. Gevaarlik, want jy kan oorboord gaan en aan elke gewone gebeurtenis ‘n geestelike betekenis probeer gee, en so die Bybel naderhand skoon uit verband ruk. Paulus doen dit egter met groot omsigtigheid.

Hy neem die bekende gebeure van Genesis 16 en 21, van die kinderlose Sara en Abraham. Uit desperaatheid het Sara haar slavin vir Abraham gegee om ‘n kind, Ismael te verwek. Later, op haar oudag het Sara natuurlik toe sélf ook haar eie kind, Isak gehad, en toe sit hulle met ‘n dilemma. Uiteindelik het Sara vir Abraham oortuig om vir Hagar, die slavin en haar seun weg te jaag, die woestyn in.

Nou kom Paulus en hy soek die dieper geestelike betekenis in hierdie gebeure, en probeer dit toepas op die Galasiërs se probleem. Die belangrike in die verhaal vir Paulus is die feit dat Hagar ‘n slaaf was en Sara vry. Hy verbind Hagar met die Sinaiberg waar God aan die Jode die wet gegee het. Sinaiberg en Jerusalem is sinoniem, want Jerusalem is uiteraard die hoofstad van die Joodse godsdiens, die dwaalleer wat in Galasië verkondig word. Dit is dus niks anders as geestelike slawerny nie. Probeer jy jou verlossing verdien deur die wet stiptelik na te kom, dan word jy ‘n slaaf van die wet, en hy word ‘n tiran wat jou in sy mag kry.

Paulus sien aan die ander kant vir Sara as die simbool van geestelike vryheid, iets wat jy beslis nie met Jerusalem, die Joodse godsdienshoofstad sal assosiëer nie. Daar is egter ‘n ander Jerusalem: die nuwe hemelse Jerusalem, waarvan ons onder andere in Openbaring lees. Hierdie Jerusalem is die geestelike moeder van almal wat in Jesus glo en nie op die wet vertrou nie. Daarom doen Paulus ‘n dringende beroep op die Galasiërs om te besef dat hulle soos Isak is en nie Ismael nie. Hulle is geestelik vry en daarom mag hulle nie toelaat dat hulle weer in slawekettings gesit word deur die dwaalleraars nie. Daardie verkondigers van die valse evangelie moet eerder, nes Hagar van ouds, weggejaag word, die woestyn in.

Is daar vandag vir ons ‘n boodskap in Paulus se argument? Is dit nog op my en jou van toepassing? Beslis ja! Ons het twee opsies: ek kan geestelike slawerny kies en sélf probeer om my verhouding met God te herstel deur byvoorbeeld sekere reëls stiptelik na te kom. Dit lei ongelukkig tot ‘n verskriklike situasie, waar ek so behep raak met die reëls dat ek ‘n geestelike slaaf word van my eie reëls. Die tweede opsie is geestelike vryheid, wat beteken dat ek eintlik niks kan doen om God se goedkeuring te verkry nie. In plaas daarvan dat ek self my vryspraak vir my sondes probeer verdien, aanvaar ek met ‘n gelowige hart die vryspraak wat Jesus my bied.

Dit is tóg vreemd dat ‘n mens instinktief die pad van slawerny kies! Ek dink ons het al so gewoond geraak om in die lewe vir onsself te sorg, dat ons dit outomaties op ons verhouding met God wil toepas. Dikwels gebeur dit selfs dat iemand geestelike vryheid ontdek het, en later weer sy ou slawebande gaan soek, presies soos wat in Galasië gebeur het.

Iemand stuur eenmaal vir my ‘n kostelike storie oor ’n man wat die “Onse Vader” bid, en toe deur God in die rede geval word. Die Here wou weet of hy werklik besef wat hy bid, en of hy bedoel wat hy sê. Die man was skoon omgekrap dat die Here hom in die rede val, want hy doen mos sy plig om te bid! Moenie dat gebed of Bybel lees of kerktoe gaan ooit vir jou ‘n plig word nie, want dan begin jy die hele punt mis. Dan doen jy presies waarmee die Galasiërs besig was. Om te bid moet vir my ‘n behoefte wees om met God te praat en na Hom te luister en nooit ‘n plig om na te kom nie. Dieselfde geld vir my Bybel, wat vir my ‘n bron van inspirasie moet wees en ‘n biblioteek van God se beloftes. 

Daar behoort by my ‘n brandende begeerte te wees om Sondagoggende in die kerk te kom. Dit moet my opgewonde maak, want daar kan ek my geloof met ander Christene deel. Natuurlik gaan die Erediens in die eerste plek oor die aanbidding van God. Ek kry egter daar ook daardie geestelike kos wat my deur die week stimuleer om voluit vir Jesus te lewe. Ek geniet my betrokkenheid by die gemeente terdeë, en selfs vaal kerkraadsvergaderings maak my dikwels opgewonde. Ek mis nie 'n erediens tensy dit werklik nie anders kan nie. En dit is gladnie omdat ek so 'n “goeie Christen” is nie, maar omdat elke erediens vir my 'n ondervinding is wat ek vir niks op aarde wil mis nie!

Hoe ervaar jy jou geestelike lewe? Is jy ‘n slaaf daarvan of is dit vir jou ‘n wonderlike avontuur?

Gebed:

Here, dankie dat U my vrygemaak het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026