Skuldig!

18 September, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Skuldig!

Matteus 26:57-68

Nadat Jesus gevange geneem is, is Hy na die Hoëpriester se huis toe geneem vir Sy verhoor deur die Joodse Raad. Petrus is die enigste van die dissipels wat dit daar naby waag. Hy volg die geselskap van soldate op ‘n afstand, en wanneer hulle by Kajafas se huis opdaag, waag hy dit selfs tot binne in die binnehof..

Wat nou hier gebeur is eintlik totaal onwettig. Ons sien dat die verhoor plaasvind in die vroeë oggendure. Onthou, die haan het nog nie eers gekraai nie! Volgens die Joodse regstelsel was dit nie wettig om regspraak in die nag te lewer nie, veral nie wanneer die doodstraf ter sprake is nie. In elkgeval was die Joodse Raad nie by magte om finaal die doodstraf op te lê vir enigiemand nie. Dit was die voorreg van die Romeinse regering en as die Joodse Raad sou voel dat iemand die doodstraf moes kry, moes dit eers deur die Romeine bekragtig word.

Ten spyte daarvan dat die vergadering onwettig is, is dit nie maar net ‘n paar lede van die Raad wat daar was nie, maar die volle Joodse raad. Die hoëpriester as voorsitter, priesterhoofde, familiehoofde en skrifgeleerdes - die hele tutti! Die boodskap is ondubbelsinnig: Jesus móét amptelik deur die hele Joodse Raad skuldig bevind word. Hulle het op allerhande maniere probeer om Hom vas te trek. Etlike sogenaamde getuies is aangesê om te kom getuienis lewer. Al die vals getuies het egter misluk want hulle stories kon net eenvoudig nie ooreenstem nie. Uiteindelik kry hulle tóg twee getuies wat dieselfde getuienis lewer. Jesus het per geleentheid gesê het dat Hy die tempel sou afbreek en in drie dae herbou. Verdoemende getuienis! Maar is dit dan genoeg om die doodstraf te verdien? Die hoëpriester besef wel dééglik dat hierdie op sigself maar ‘n powere aanklag is. Maar dit het tóg ‘n baie diepere betekenis.

Op daardie stadium was daar ‘n baie sterk Messiaanse verwagting onder die Jode. Dit het ongelukkig egter gepaard gegaan met baie mites, soos dat die Messias die Jode sou bevry van die Romeinse oorheersing. Terloops, sommige teoloë is juis van mening dat Judas vir Jesus verraai het om Hom te dwing om oor te gaan tot hierdie bevrydingsaksie. Daarom dat hy die geld terug wou gee toe hy sien dit werk nie.

n Ander verwagting onder Jode was dat die Messias ‘n nuwe tempel sou bou weens die boosheid van Israel. Juis dáárom was hierdie aanklag, dat Jesus die tempel sou afbreek en weer herbou in drie dae so belangrik. Hiermee sou Jesus met ander woorde mos aanspraak maak dat Hy wél die Messias is.

Tot groot frustrasie van die hoëpriester en die Raad bly Jesus egter doodstil. Hy hoor al die aanklagte teen Hom, maar Hy verdedig Homself gladnie. Daarom vra die Hoëpriester Hom pertinent die vraag: “Is jy die Christus, die Seun van God?” Meer duidelik kon die vraag nie wees nie. Hierop moes Jesus slegs “Ja” of “Nee” antwoord.

Jesus verbreek uiteindelik die stilte, en Sy antwoord kom soos ‘n skokgolf deur die hele Joodse Raad: “Dit is soos u sê!” Presies dieselfde antwoord het Hy slegs enkele ure tevore vir Judas gegee toe hy Hom gevra het of hy dan die verraaier is.

Maar Jesus is nie klaar nie. Nou gee Hy hulle baie meer as waarvoor hulle gevra het. Hy moes slegs “Ja” antwoord, maar nou gaan Hy voort: “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.”

Jesus se antwoord is só oorweldigend dat die Hoëpriester sy klere skeur. Hierdie is nie bloot ‘n emosionele handeling nie. Dit is ‘n voorskrif wat hy móés nakom wanneer daar Godslastering ter sprake is.

Wat presies sê Jesus hier vir die Raad? Hy wil dit vir hulle baie duidelik maak dat Hy nie maar slegs ‘n Messias is wat gekom het om die Jode te bevry nie. Hy is nie maar net ‘n baie spesiale Mens met bonatuurlike kragte nie. Nee, Hy is véél meer as dit. Wanneer hierdie dinge afgehandel is, gaan Hy aan die regterhand van God sit en regeer. Wie anders kan met soveel mag regeer as slegs God alleen? Hy sê dus indirek vir hulle, in duidelike taal wat hulle elkeen kan verstaan, dat Hy die Almagtige God is! Dit is waarom die hoëpriester en die hele Raad so verskriklik ontsteld is.

Ek raak dikwels ook verskriklik ontsteld wanneer ek sien hoedat mense Jesus verkleineer. Hoedat mense selfs grappies maak oor Hom of Sy heilige Naam misbruik as ‘n vloekwoord. Ja, dit kan jy seker verwag van ‘n ongelowige, want hy het géén deel aan Jesus nie.

Dit raak egter vir my véél erger as ‘n gelowige begin om Jesus te verkleineer. Dikwels wil gelowiges Jesus sien as iemand wat slegs daar is om in hulle eie behoeftes te voorsien. As dinge moeilik begin raak, word Jesus ingeroep om ‘n kits-oplossing te kom gee.

Inderdaad is Hy altyd daar vir ons as gelowiges. Ons mag egter nooit óóit vergeet wie Hy werklik is nie. Hy is die Almagtige God, die Skepper van alles, die Koning van alle konings. Ons moet slegs die hoogste respek aan Hom betoon. Hy is aan ons absoluut niks verskuldig nie, dus is alles wat ons van Hom vra en van Hom ontvang slegs suiwer genade.

Gebed:

Here Jesus, ek aanbid U as God, Skepper en Verlosser. U is die Heilige!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026