Skeppingsverhaal in Perspektief

17 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Skeppingsverhaal in Perspektief

Genesis 1-3

Voordat ons kan aanbeweeg na die volgende, baie opwindende hoofstuk in die aangrypende verhaal van die eerste mens, is dit eers nodig dat ons ‘n kort terugblik gee op dít wat in die Tuin van Eden gebeur het. Hoe raak daardie verhaal ons vandag, indien enigsins?

Die tuinverhaal is een wat ons vul met verwondering. Dit is die verhaal van God wat in groot liefde die mens skep en hom ryklik seën deur hom ver verhewe te maak bo enige ander skepsel. Hy gee vir hom nét die héél beste in die lewe. Die taak wat God vir die mens gee, is eenvoudig en gladnie ‘n las op sy skouers nie. Dan kom gee Hy vir die mens die perfekte maat, een wat uit homself geskep is, en God blaas persoonlik die asem van lewe in haar neus.

Dit was wonderlike tye waarin God gereeld persoonlik in die vroeë aand saam met hulle kom kuier het en met hulle gesels het. Alles was perfek! Maar dan gebeur die verskriklike ding en die wonderlike verhouding tussen God en die mens versuur wanneer die mens sy eie kop wil volg.

Alle hoop is verlore, want die mens het gekies om eerder na die slang te luister as na God. Maar voordat die mens finaal uit die tuin verban word, gee God tóg weer hoop. Ten spyte van die vertrouensbreuk wat die mens geskep het, besluit God uit Sy groot genade dat Hy nie die mens aan sy eie lot gaan uitlewer nie. Boonop gee Hy ook ‘n wonderlike belofte dat Hy eendag Iemand sou stuur om “die slang se kop te vermorsel.” Daardie Iemand sou alles wat die mens opgemors het kom herstel. Daar is dus die belofte van hoop op ‘n beter môre.

Blaai ons nou na die laaste drie hoofstukke in die Bybel, in Openbaring, dan word hierdie hoop bevestig. Duisende jare het verloop tussen hierdie eerste boodskap van hoop en die finale bevestiging daarvan.

In Openbaring 20 lees ons van die einde van Satan en die bose. Johannes sien in sy visioen ‘n engel wat van God af kom. Hy het toegang tot die onderaardse diepte oftewel die woonplek van die bose. Die engel bind Satan vas met ‘n groot ketting, simbolies daarvan om sy mag te beperk. Hy word in die onderaardse diepte gehou vir ‘n duisend jaar, en dan word hy vir ‘n kort rukkie vrygelaat. Ons kan nie die duisend jaar as ‘n letterlike tyd vertolk nie. Hierdie is ‘n simboliese getal wat daarop dui dat hy vir die volle tydperk wat God vir hom bestem het gebind is. In die lig van die boodskap van Openbaring as ‘n geheel, kan ons verstaan hieruit dat Satan gebind is vir die tydperk tussen Jesus se eerste koms 2000 jaar gelede en sy wederkoms. Deur Jesus se sterwe en opstanding het Hy Satan oorwin en is hy gebind. Die klein rukkie wat hy losgelaat word dui op die verskriklike intensiteit van sy aanslag kort voor die einde.

In Openbaring 21 beskryf Johannes die wonderlike gesig wat hy beleef, van die vernuwing van die hemel en die aarde, waar die volmaakte gemeenskap met God nou aangebreek het. Ja, die ou bedeling het verdwyn. Die eerste hemel en aarde is volmaak geskep deur God. So het ons gelees in Genesis 1 tot 3. Dit is egter totaal verwoes deur die mens en Satan se sonde. Die ou aarde waar pyn en lyding, wat maar die gevolg van sonde was, so ‘n verskriklike werklikheid is, word nou vervang deur ‘n splinternuwe toestand van altyd-durende, volmaakte heerlikheid saam met God. Dit word met ander woorde weer herstel tot dieselfde toestand as wat geheers het in die Tuin van Eden voordat die mens in sonde verval het. In ‘n figuurlike sin verdwyn selfs die see, omdat dit in die antieke denke beskou is as die woonplek van die bose. Die bose is nou vernietig, en daarmee saam sy woonplek.

Saam met hierdie gebeurtenis is daar natuurlik die wederkoms van Jesus. Dit is die dag wanneer almal geoordeel word. Adam en Eva sal daar wees om God se oordeel aan te hoor. En so ook al die mense na hulle, ook ek en jy. Adam sal moet antwoord waarom hy besluit het om God se genade en liefde te verwerp. Maar belangriker nog, sal hy moet sê of hy ooit tot besinning gekom het daarna. Het hy ooit om vergifnis gevra? Was daar ooit weer ‘n verhouding tussen hom en God? Daardie perfekte verhouding van weleer, sou sekerlik nie meer moontlik wees nie. Maar daar kon tóg weer ‘n verhouding wees as Adam maar net sy hart vir die Here sou oopmaak.

Is daar vandag vir my as gelowige iets om voor bang te wees met die wederkoms? Hierop kan ek onomwonde antwoord dat ek niks het om te vrees nie want ek is reeds vrygespreek van die oordeel, en daarom kan ek saam met ‘n reuse skare van gelowiges uitroep: “Kom Here Jesus, kom gou!” Op grond waarvan is ek vrygespreek? Op grond van Jesus se soenverdienste. Daarmee saam, omdat ek my hart vir Hom oopgemaak het en toegelaat het dat Hy in ‘n verhouding met my kon staan. Hy het alles gedoen; ek moes dit net aanvaar.

My vraag aan jou vanoggend is egter of jy ook so daaroor voel? Sien jy ook met groot verlange uit na Jesus se wederkoms? Of sit jy dalk met vrees in jou hart, want jy weet nie of jy die binnekant van die hemel sal sien nie? As jy met daardie verskriklike vrees sit, dan smeek Jesus by jou om te kom en van die water van die lewe te kom drink - dis verniet! Jy hoef niks daarvoor te betaal nie! Ek wil jou dan ook dringend uitnooi om vir my te skryf as jy met daardie probleem sit.

Gebed:

Here, dankie dat U my uit genade gered het ten spyte van my sonde.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026