Johannes 1:1-5
Gister het ons die vraag gevra: “Wie is Jesus?” Johannes gee die antwoord in helder, duidelike taal. Hy begin sy boek deur die vraag te antwoord op so ‘n treffende wyse dat ons absoluut géén twyfel sal hê oor presies Wie Jesus is nie. Die dramatiese loflied waarmee hy sy boek begin, gryp jou só aan dat jy net eenvoudig nie die boek kan neersit nie – jy wil net meer en meer lees! “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was self God.” In Grieks staan daar: Én àrché yn hò lògos, kaì hò lògos yn pròs ton Øeòn, kaì Øeòs yn hò lògos. (Ek het Grieks probeer weergee in gewone skrif.)
Wanneer ons hierdie eerste verse lees, kan ons nie anders nie as om in aanbidding voor Jesus neer te val, want Sy almag, grootheid en oneindigheid word hier beskryf.
Die eerste vyf verse van Johannes neem ons terug na die begin van alles, selfs nog lank voordat die heelal ontstaan het. Wanneer was daardie begin? Niemand weet nie, en niemand kan dit ooit bepaal nie. Die totaal onbegrypbare is dat Hy van ewig af was. Die sterrekundiges se teorie is dat die heelal wat ons ken sy begin gehad het 15 duisend miljoen jaar gelede. Ja, Jesus was alreeds lank voor dit!
Nog meer indrukwekkend, is die feit dat Jesus die Een was wat verantwoordelik was vir die skepping van hierdie einste heelal. Die vraag is al dikwels gevra: Hoe groot is die heelal werklik? As ons by onsself kan begin: ek is maar ‘n ou spikkeltjie op die aarde, maar net so is die aarde ‘n klein spikkeltjie in die hemelruim, totaal verdwerg deur die ster waarom ons wentel, die son. Die son, op sy beurt, is een van 300’000 miljoen sterre van die Melkweg,‘n galaksie van 100’000 ligjare in deursnee. Die son slegs 8 lig-minute van ons af. Dink maar self hoe groot hierdie melkweg rêrag is! Maar die melkweg is sélf maar ‘n ou spikkeltjie in die heelal! Daar is miljoene soortgelyke galaksies in die heelal, sommige selfs nog baie groter as die Melkweg. En nou wil sommige slim manne beweer dat die heelal dalk maar een van 'n klomp heelalle is!
Ek gee hierdie inligting maar net om jou weereens te laat besef hoe groot en almagtig die Skepper van dit alles, Jesus, is. En die wonder is dat selfs die kleinste detail, ‘n skoenlappertjie of blommetjie of kleurvolle tropiese vissie, nie vergeet is nie.
Hierdie is egter net die begin! Johannes wil ook vir ons laat verstaan dat Jesus die Een is wat lewe gee. Die wetenskap het baie ver gevorder, en hulle kan al selfs lewe verwek uit chemiese stowwe. Die feit is egter dat slegs Jesus, die Skepper van lewe, ware, sinvolle lewe kan gee. Die mens beweer dat hy ook kan skep, maar om iets te skep, het jy materiaal nodig. Om byvoorbeeld ‘n pot te kan skep, het jy klei nodig. Jesus het alles geskep uit niks. Hy het ook lewe geskep uit niks!
Maar die lewe waarna hier verwys word, is nie maar net gewone lewe nie, maar dit dui op die ewige lewe wat alleen Jesus kan gee.
In hierdie beknopte geskiedenis van die ontstaan van alles, verwys Johannes ook na een van die wondere van die skepping, naamlik Lig. Ja, Jesus het ook lig gegee, en hierdie Lig het in die duister geskyn. Die duister waarna Johannes hier verwys, is natuurlik die duister van die sondeval, wat gedreig het om die wêreld te oorweldig.
Het jy al ooit ware duisternis beleef? Ek was ‘n jong seun, toe ons eendag verneem van ‘n asemrowende grot iewers in die Laeveld. Bewapen met flitsligte, het ons die berg opgeklim om by die grot te kom. Dit was indrukwekkend, en ek het my verstom oor die reuse sale waardeur ons gegaan het. Ek het verdwerg gevoel deur die indrukwekkende kunswerk van druipsteen wat soos ‘n groot monster met ‘n gapende bek lyk. Die grot is vernoem na hierdie manjifieke beeldhouwerk: “Die Grot van die Skreeuende Monster.” Jare later word dit ontwikkel en kry dit die naam: Sudwala Grotte. Ons besluit om almal ons flitsligte af te skakel. Die pik-giet-swart-nag donker is oorweldigend. Dan skakel iemand ‘n flou flitsie aan, en skielik is al die duister verdryf!
As een enkele klein gloeilampie die duisternis in daardie reuse grotsaal kon verdryf, hoeveel te meer nie die helder ligglans van Jesus nie! Toe die duisternis van die sonde op sy ergste was, het Jesus se versoening aan die kruis eensklaps alles verander, en die duister is vir ewig oorwin. Ja, inderdaad is die duister steeds daar, maar dit kan die helder lig van Jesus nooit uitdoof nie.
Die woord “uitdoof” kan egter ook anders vertaal word: dit kan beteken dat die duisternis die lig nie kon aanvaar nie. Ja, daar is menige mense wat daardie lig van Jesus sien, maar dit steeds nie wil aanvaar nie. “Ek is nog nie gereed nie” of “Ek moet eers beter word!” Van die eerste verse tot aan die heel einde van hierdie boek van Johannes kom die uitnodiging om daardie wonderbare lig te aanvaar. Regdeur die boek hoor jy Jesus klop aan die deur van jou hart. Jy is die enigste wat daardie deur kan oopmaak en Jesus inlaat. As jy dit nog nie gedoen het nie, is nóú die regte tyd!
Gebed:
Here, ek aanbid U, want U is groot en almagtig, die Skepper, die enigste ware Lig.