Genesis 30:25-43
Veertien jaar lank het Jakob vir Laban gewerk. Wat was sy loon? Twee vrouens wat jaloers was op mekaar! En boonop het hulle vir Jakob meer ergernis besorg as vreugde. En hier sit hy nou in die vreemde! Maar wie is hierdie "sukkelaar" dan? Hy is Jakob, kleinseun van die ryker-as-skatryk Abraham. Hy is die draer van die belofte wat God aan Abraham gemaak het! Teen hierdie tyd moes Jakob al ‘n groot “grondbaron” gewees het met rykdom wat hy nie kon tel nie. Maar hy is nie! Inteendeel, hy is brandarm, met net ‘n deel van die Here se belofte, ‘n nageslag. Ja, Jakob het letterlik kinders by die dosyne, maar hy besit nie eers ‘n huis nie!
Wat ons egter wél van Jakob kan sê, is dat hy vir die eerste keer in sy lewe die eerbare ding doen om sy verpligtinge teenoor skoonpa Laban na te kom en die volle veertien jaar te werk vir hom. Maar nou is daardie tyd verby, en Jakob sien uit daarna om ‘n slaggie iets vir homself te doen, om dalk sy eie huis te bou. Om veertien jaar lank vir iemand anders vee op te pas is nou nie juis elke man se droom nie!
Laban skrik hom asvaal as Jakob die nuus breek, dat dit tyd geword het om aan te beweeg. Anders as die slawe wat vir hom werk, en sy vee verwaarloos, het Jakob in hierdie tyd vooruit geboer en vir ou Laban skatryk gemaak. Die misrabele ou kuddetjie brandsiek skape wat Jakob daardie eerste dag by die put gekry het, het aangegroei tot een van die grootste kuddes spogskape in die omgewing, iets om op trots te wees. “Wat gaan van al my vee word as Jakob wegtrek?” wonder Laban.
En dan soebat Laban dat Jakob tóg maar aanbly, want hy sien hoedat die Here hom seën deur Jakob. “Besluit jy sélf maar wat ek jou moet betaal om aan te bly,” smeek Laban, “ek sal betaal nét wat jy vra”.
Jakob het baie mooi oor hierdie wending van sake nagedink, en dan kom hy met ‘n baie slim voorstel: hy sal werk vir ‘n gedeelte van die aanteelvee. Al die wit skape en swart of bruin bokke sal Laban s’n wees, en die bontes Jakob s’n. Laban is ingenome met hierdie voorstel, want hy weet dat die skape van daardie streek deur die bank wit is en die bokke bruin of swart, en dat slegs ‘n klein persentasie bont is. “Akkoord!” sê Laban, maar die skelm ou man het al klaar weer ‘n slinkse plannetjie in sy kop.
Daardie aand gaan keer Laban al die bont skape en bokke in die trop uit en stuur sy seuns met die diere om hulle drie dae ver te gaan oppas sodat hulle nie naby die wittes kan kom nie. Hoeveel bont lammers kan daar tog nou gebore word uit ‘n trop spierwit skape? Jakob gaan maar bitter min uit hierdie transaksie kry, dáárvoor sal hy wat Laban is sorg! Mens kan maar sê dat die arme Jakob alwéér aan die agterspeen moet suig!
Maar veertien jaar agter ‘n trop skape het Jakob iets geleer van hoe dinge werk. Hy stuur ‘n teelprogram van stapel wat hom waarborg dat die grootste meerderheid van lammers bont gaan wees. Boonop span hy al die kundigheid en ervaring wat hy oor die jare opgebou het in om te sorg dat die bont skape en bokke die sterk diere is en die wittes die swakker diere. Vandag se veeboere sal dalk lag vir Jakob se metodes om spesifieke resultate uit sy teeltrop te kry. Die feit is egter dat die Here dit vir Jakob voorspoedig gemaak het en dat die vernuf wat hy aan die dag gelê het deur die Here beloon is. Het die Here nie immers vir Jakob voorspoed beloof nie? En nou kry hy dit ten spyte van al Laban se pogings om dit te dwarsboom.
Verslae en magteloos moet Laban sit en toekyk hoedat Jakob vooruit boer in die lewe en hoe sy eie besittings al minder raak. Sy slinkse plan het gefaal! Sy skelmstreke het hom absoluut niks in die sak gebring nie.
Ons moet besef dat Bybelverhale nie maar net mooi stories is nie. Dit is die Woord van God, en Hy maak dit vir ons lewend wanneer die Heilige Gees uit die verhale met ons praat. Dit is nie maar net ‘n verhaal wat 4000 jaar gelede afgespeel het nie. Moontlik wil die Here uit hierdie verhaal vir jou sê dat deur maar net agteroor te sit en te wag dat die genade van die Here oor jou spoel, nie ál is wat jy nodig het nie. Hy wil juis hê dat ons kundigheid moet opbou en slim sal leer. Dat ek die kundigheid na die beste van my vermoë sal gebruik in die lewe, nie alleen om God se Koninkryk te bou nie, maar ook vir myself en my medemens. Moenie jou talente onder ‘n maatemmer wegsteek nie, gebruik hulle!
Of moontlik wil die Here vir jou sê uit hierdie storie dat oneerlikheid nie werk nie. Op die oog af mag dit dalk na ‘n slim plan lyk, en mense mag jou dalk nie uitvang nie, maar ons moet dit baie deeglik besef dat ons absoluut niks vir die Here kan wegsteek nie. Wees eerlik! Met jouself, met ander mense en veral met God.
Gebed:
Here, tot my groot verleentheid moet ek vandag bely dat ek al soveel skelm plannetjies gemaak het, en gehoop het dat niemand daarvan sal weet nie. U weet Here! Vergewe my asseblief, en help my om my talente ten volle te gebruik.