Skaapwagters

13 December, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Skaapwagters

Lukas 2:8-20

VIDEO | OUDIO

Die Messias se langverwagte geboorte het aangebreek. Hy is die Een waaroor Jesaja, Miga en Daniël geprofeteer het. Hy is ook die Een waarvan God Almagtig vir Adam beloof het. Hierdie gebeurtenis móés net eenvoudig uitgebasuin word! Dit sou logies wees dat ál die Skrifgeleerdes, priesters en kerkleiers hiervan in kennis gestel sou word. En natuurlik móés koning Herodus, die keiser en ál die belangrike mense uitgenooi word om hierdie heugelike gebeurtenis te kom vier. God werk egter anders as wat mense sou verwag!

Die toneel is die veld naby Betlehem. ‘n Klompie eenvoudige skaapwagters sit rustig om hulle vuurtjie en gesels oor die gebeure van die dag: ‘n jakkals wat hulle moes verwilder en ‘n skaap wat afgedwaal het. Die volgende oomblik verskyn daar uit die niet ‘n vreemde man by hulle. ‘n Vreemde glans omvou die groepie manne en hulle skrik hulle oorhoeks! Grootoog van skok staar hulle hierdie onaardse wese aan. Terwyl hulle bewe van angs, praat hy: “Moenie bang wees nie!” Die manne begin effens bedaar as hy vir hulle vertel van die Verlosser wat gebore is, Christus die Here. Hulle sal Hom in Betlehem kry in ‘n krip, toegedraai in doeke.

Die arme skaapwagters se monde hang oop! Hulle kan nie glo wat hulle sien en hoor nie. Dis egter nog maar net die begin - die grootste lê nog voor! Skielik skeur die ganse hemel oop reg rondom hulle en ‘n reuse skare engele verskyn uit die niet. Hemelse musiek vul die valleie en heuwels terwyl die magtige engelekoor die mooiste lied sing wat nog ooit in menseheugenis gehoor is: “Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God 'n welbehae het!

Verstom staan die skaapwagters en luister na die grootste en mees aangrypende kooruitvoering van alle tye. Dit vul hulle ore en binneste terwyl ‘n Goddelike glans om hulle skyn. Dit is die eerste, laaste en enigste keer wat die wêreld 'n kooruitvoering van hierdie omvang en hemelse skoonheid beleef het! En die enigste mense in die gehoor is 'n handjievol eenvoudige skaapwagters!

Skielik is alles verby en die verdwaasde skaapwagters word alleen agtergelaat met hulle gedagtes. ‘n Dringendheid om hierdie Verlosser waarvan die engel gepraat het te gaan sien, brand in hulle en sonder versuim hardloop hulle so vinnig hulle kan na die slapende Betlehem.

By die stal kry hulle vir Josef en Maria en die Kindjie in doeke toegedraai in die krip, presies nés die engel dit beskryf het. Vol verwondering huppel hulle later terug na hulle skape toe, al singende. Dít wat hulle daardie nag beleef het, vertel hulle opgewonde wyd en syd aan almal wat hulle teëkom en die mense kan hulle ore nie glo nie. Almal is vol verwondering oor die asemrowende gebeure. So word ‘n paar eenvoudige skaapwagters die héél eerste getuies van Jesus se geboorte!

Maria, die gelowige vrou wat haarself tot beskikking van die Here gestel het, ten spyte van die gevaar dat haar reputasie kon skade ly, het hierdie dinge alles in haar hart bewaar. Drie-en-dertig jaar later moes sy aanskou hoe haar Baba, wat tóé ‘n jong Man in die fleur van Sy lewe was, gemartel en gespot word, op gespuug word en aan ‘n kruishout vasgespyker word om onskuldig ‘n grusame, vernederende en pynlike dood te sterf!

Hierdie verhaal laat jou baie diep dink: Waarom skaapwagters? Waarom nou juis eenvoudige, ongeletterde veldmense en nie eerder ‘n uitgelese groep Skrifgeleerdes, konings en kerkleiers nie? Daardie magtige koor het hulle héél beste opvoering gegee net vir ‘n klein ou handjievol manne wat na sweet en rook stink, en met vuil veldklere aan!

Ons moet onthou dat God nie na getalle kyk nie, ook nie status of hoe geleerd, hooggeplaas jy is of hoe grênd jy aangetrek is nie! Vir Hom is die doodeenvoudige, doodgewone mens nét so belangrik as die hoogsgeleerde teoloog. Die boodskap van die eenvoudige skaapwagters het talle mense in verwondering gehad en by hulle ‘n afwagting geskep vir wat sou voorlê. As dit ‘n groep Skrifgeleerdes en kerkleiers was, sou hulle eers ‘n kommissie van ondersoek ingestel het en die hele gebeurtenis gedebatteer het tot vervelens toe. Die kanse dat die boodskap by die mense sou uitkom sou baie skraal wees! Kyk maar net wat het hierdie einste geleerdes later met Jesus gedoen! Hulle het Hom vervolg, beledig, betwyfel en uiteindelik gekruisig.

Jesus het later Sélf ook doodgewone mense gebruik om die Evangelie te versprei. Sy dissipels was eenvoudige vissermanne. Hy het ‘n Samaritaanse vrou met ‘n baie slegte reputasie gebruik om ‘n hele dorp in beroering te bring, en ‘n malle wat kaal in die begraafplaas rondgeloop het, het ‘n hele landstreek vir die Evangelie voorberei toe Jesus hom gestuur het. ‘n Tollenaar het een van Sy sterk leiers geword en ‘n melaatse het Sy lof besing ten aanskoue van ‘n menigte!

Vandag maak dit nie saak wie of wat jy is nie. Hy wil jóú en my ook gebruik!

Gebed:

Here, gebruik my asseblief nés ek is - ek stel myself tot U beskikking!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026