Sjokolade en Brandrissies

7 July, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sjokolade en Brandrissies

Kolossense 4:2-18

VIDEO * OUDIO

Smaak is ‘n wonderlike ding. ‘n Kêrel vertel my eendag dat terwyl hy gaan sendingwerk doen het in Korea, het iemand eendag vir hom ‘n tradisionele Koreaanse dis gebring wat so warm gegeur was dat ‘n proeseltjie behoorlik jou tone laat omkrul. Terwyl die rook letterlik by sy neusgate uitborrel, kom die man agter dat die geur hom nogal aanstaan! Na ‘n jaar of twee in die land het hy daardie warm dis leer liefkry, gevolglik het hy dit uiteindelik met groot smaak verorber, terwyl die Koreane hom grootoog in ongeloof aangestaar het. “Hierdie man”, het hulle gedink, “moet koekoes wees! G’n normale mens kan sulke warm kos só wegslaan en dan boonop nog maak asof hy dit geniet nie!”

Party mense vrek oor soetgoed - sjokholiste! Sy kan ‘n groot blok sjokolade verorber en dan lus wees vir nog! As sy nagereg bestel, moet dit die hele tutti inhê, roomys, sjokoladesous, karamel, aarbeistroop - alles wat stroopsoet is!

Aan die ander kant van die spektrum kry jy weer die sout-lekkers. Hulle is nou weer die ouens wat stringe en stringe biltong kan wegslaan, en salami en grondboontjies en alles wat sout is. Vir hulle gaan jy nie sommer met ‘n sjokolade vang nie!

Ek hou van my kos geurig, met genoeg sout. Smaaklose goed is jiggie en bitter min mense hou daarvan. My oupa was een van daardie rare mense - sy vleis moes byvoorbeeld net in water gekook word, sonder sout of enige geurmiddels. Dit moes sekerlik soos ‘n stuk rubber gesmaak het!

'n Mens se taal - die dinge wat hulle sê, is ook gegeur. Ek ken mense wie se taal so van die brandrissies en kerrie gegooi is, dat dit ‘n matroos sal laat bloos. Aan die ander kant laat iemand met soetsappige, stroperige praatjies my eintlik gril. En die soutbestrooide, hoogdrawende intellektueel-gestopte gesprekke van sommige mense wat hulleself bo enige ander wese verhef, dryf my tot raserny!

Paulus gesels vandag oor ons taalgebruik. Hy sê in Kol. 4:6 dat dit wat jy sê van goeie smaak moet getuig. Jou woorde moet letterlik met sout besprinkel word om dit 'n heerlike smaak te gee - ‘n Griekse idioom. Gaan dink ‘n bietjie mooi na oor die taal wat jy gebruik. Hoe smaakvol is die dinge wat jy sê? Ek ken mense wat nie ‘n enkele sin kan sê sonder ten minste ‘n paar warm brandrissies, vloekwoorde in nie. Gewoonlik is hulle die ouens wat hulle ook verlustig in vulgêre grappe. Dit is suiwer swak smaak om gekruide taal te gebruik, al dink sommige akteurs dat dit goeie smaak verleen aan ‘n produksie! Dink nou maar mooi: sal jy vloekwoorde en gekruide taal gebruik wanneer jy bid, met God praat? Natuurlik nie! Watter soort vraag is dit dan? Jou taalgebruik spreek boekdele oor jou geestelike lewe.

Dit bring my by ‘n ander punt in Paulus se briefslot: jou gesprek met God. Hy sê dat die lesers moet volhard in gebed. Dit is uiters belangrik! Paulus vra vir die gemeente om vir hom voorbidding te doen. Op daardie stadium sit hy in die tronk en dinge lyk maar baie duister vir sy toekoms. Wanneer hy vra dat hulle vir hom bid, is dit nie dat hy uit die tronk bevry word nie, maar dat hy meer geleenthede kan kry om die Woord te verkondig. Wat ‘n onselfsugtige versoek! Paulus het vrede gemaak met sy gevangenskap en die feit dat hy nooit weer die helder lug sal sien nie. Al waaroor hy bekommer, is dat die Evangelie uitgedra word en hy doen alles in sy vermoë om hierdie saak te bevorder. Gelukkig weet hy ook dat hy nie alleen is nie. Hy is al ‘n ou man en hy sukkel om te sien. Hy kan selfs nie eers meer sien om ‘n brief te skryf nie. Maar selfs hierin het die Here vir hom voorsien, want daar is iemand wat neerskryf wat hy dikteer. Hy laat hom nie afsit deur ‘n nietigheid soos amper-blindheid nie! Hy sê dit dan ook baie pertinent dat die gemeente nie oor hom hoef te bekommer nie.

Paulus sit sy handtekening onderaan die brief in groot, lomp letters, nadat hy groete oorgedra het aan ‘n klomp mense met wie hy deur die jare saamgewerk het - mense wat vir hom baie dierbaar geword het terwyl hy die Woord van God verkondig het, dikwels in haglike of uiters gevaarlike omstandighede. Liefde, blydskap en omgee straal uit Paulus se groet terwyl hy sy laaste dae in die verskrikking van die Romeinse tronk slyt.

Gebed:

Here, ek loof en prys U grote Naam vanoggend, en ek wil dankie sê vir ‘n Paulus wat bereid was om absoluut alles - selfs sy lewe - op te offer sodat ons vandag U Woord kan ken. Maak my ook gewillig om opofferings te maak vir die Evangelie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026