Kolossense 3:5-17
Ons kan liefde op baie verskillende maniere uitleef. Ek wil dit verduidelik met ‘n storie, die ware verhaal van Shay se bofbalwedstryd.
Vanoggend se storietjie het ek ook al voorheen vertel, maar weereens is dit ‘n verhaal wat jy maar oor en oor kan hoor. Dit is geskryf deur E J Nolan en gaan oor ‘n pa wat by ‘n skool vir verstandelik gestremde kinders vir ‘n groep ouers van sy seun Shay vertel het.
Terwyl jy die stilte met ‘n mes kan sny, vertel die pa: “Ek glo dat wanneer ‘n kind soos Shay - fisies en verstandelik gestremd - in die wêreld kom, dan is daar geleentheid vir mense om ware deernis te wys - dan sien jy wat werklik in die binneste van mense aangaan.”
En toe vertel hy van ‘n insident met sy seun.
Hy en Shay het eendag verby ‘n park gestap waar ‘n klompie seuns besig was om bofbal te speel. Shay vra toe ‘n baie seer vraag: “Dink Pappa hulle sal my laat saamspeel?” Die pa se hart het inmekaar gekrimp, want hy ken kinders, en hy weet hoe wreed hulle kan wees. In hierdie spel gaan dit om wen, en watter kind sal dan nou iemand soos Shay in sy span wil hê, as hy voor sy siel weet dat dit kan maak dat hulle span die wedstryd sal verloor. Terselfdertyd weet hy ook wat dit vir Shay sou beteken as hy toegelaat word om saam te speel. Dit sou hom daardie broodnodige gevoel gee van dat hy êrens behoort, en dat hy aanvaar word ten spyte van sy gestremdheid.
Met angs in sy hart gaan vra hy vir een van die seuns op die veld of daar nie dalk ‘n kans is dat Shay kan saamspeel nie. Die seun kyk eers vraend om na sy maats vir hulp, en toe draai hy om: “Ons is agter met ses lopies. Ons speel nou in die agste beurt, ek dink ons kan hom in die negende beurt inpas.”
Sukkel-sukkel loop Shay na die spanbank toe. As sy ore nie in die pad was nie, was die glimlag reg rondom. Hy word uitgereik met ‘n spantrui, en sy pa moet sukkel om die trane weg te sluk, maar die gloed in sy hart straal uit op sy gesig. Shay is aanvaar nét soos hy is!
Teen die einde van die agste beurt het Shay se span wél ‘n paar lopies aangeteken, maar hulle is steeds agter met drie lopies. Toe die negende beurt aanbreek kry Shay ‘n handskoen, en hy draf op die veld. Hy is in ekstase! Die span teken nog lopies aan, ten spyte van (of dalk as gevolg van) die feit dat daar nooit ’n bal in Shay se rigting gekom het nie. Die einde van die wedstryd is in sig. As hulle nog een lopie aanteken, dan wen Shay se span. Daar sak ‘n ongemaklikheid oor die veld toe, want dit is Shay se beurt om te kolf. Sonder aarseling gee die kaptein vir Shay die kolf. Hy het nog nooit in sy lewe eers ‘n kolf vasgehou nie!
Shay gaan staan onbeholpe op die bof. Die ander span se balgooier sien dadelik dat hy hierdie situasie baie mooi sal moet hanteer. Shay se span het hulle oorwinning prysgegee vir Shay se oomblik van glorie. Hy loop ‘n paar treë nader, en rol die bal versigtig in Shay se rigting. Shay slaan woes na die bal, maar dis totaal mis. Met die tweede bal kom hy nog ‘n bietjie nader. Dié slag slaan Shay die bal wonder-bo-wonder raak, maar dit rol terug reg in die balgooier se hande in. Die einde van die spel! Die balgooier mik om die bal vir die outjie by die bof te gooi en dan die wedstryd te wen, maar toe doen hy ‘n snaakse ding: hy gooi die bal hoog oor die seun se kop, sodat hy ver moet hardloop om die bal te kry. “Hardloop, Shay! Eerste bof! Hardloop!” Shay is verwilderd, hy het nog nooit in sy lewe so ver gehardloop nie, maar hy maak dit uitasem tot by die eerste bof. “Tweede bof, Shay, tweede bof!” skree die hele veld nou saam, as Shay lomp aanstrompel. Intussen kry een van die outjies die bal in die hande, en hy mik om Shay uit te gooi en die held van sy span te word, maar toe besef hy wat aan die gang is, en hy gooi ‘n wilde gooi bo-oor die volgende seun se kop, sodat dié weereens ver moet hardloop vir die bal. Shay waggel uitasem voort na die derde bof: “Shay, Shay, Shay!”, weergalm dit oor die veld, “Shay, al die pad Shay!” Iemand moet hom help om die regte draaie te maak sodat Shay onder groot gejuig die wedstryd vir sy span wen.
“Daardie dag”, sê die pa saggies, terwyl trane oor sy wange stroom, “het die kinders van albei spanne gewys wat ware liefde is!” Daardie selfde jaar nog is Shay dood, maar tot sy dood toe het daardie oorwinning wat kinders hom met empatie gegun het, ‘n trotse gloed op sy wange gesit.
Wat daardie dag gebeur het is presies die soort liefde waarvan Paulus in Kolossense 3:14 skryf wanneer hy sê: “Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.”
Gebed:
Here, as ek hierdie verhaaltjie hoor, dan moet ek my kop in skaamte laat sak, want ek skiet so bitter ver tekort in my liefde teenoor my medemens. Vergewe my asseblief, en gee vir my ‘n gloed van liefde in my hart.