Handelinge 13:4-12
“So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees uitgestuur.” So staan dit in Handelinge 13:1. Inderdaad was dit die gemeente van Antiogië wat hulle gestuur het, maar die opdrag het gekom van die Heilige Gees. Wanneer jou gemeente iemand só uitstuur, moet julle baie seker maak dat dit nie maar menslike besluite is nie, maar dat dit inderdaad van die Heilige Gees kom!
Onder groot opgewondenheid vertrek die twee manne uit Antiogië. Die ganse gemeente was sékerlik daar om hulle af te sien. En só gee Saulus sy eerste treë op die baie lang sendingpad, wat hom regdeur die bekende wêreld sou neem tot in die hartjie van “Sodom en Gomorra”, Rome. Die eerste 25 kilometer tot by die hawestad Seleukië lê hulle te voet af, en dan vaar hulle daarvandaan per skip na die hawestad Salamis aan die ooskus van die eiland Siprus. Hierdie eiland is 'n staatsprovinsie van die Romeinse Ryk.
Die twee manne reis nie alleen nie. Hulle het 'n reisgenoot, Johannes Markus wat saamgaan as 'n helper. By hulle aankoms in Salamis gaan hulle reguit na die naaste sinagoge en begin daar preek. En so gaan hulle van sinagoge na sinagoge totdat elke Jood in Salamis die Evangelie gehoor het.
Wanneer hulle daar klaar is, stap hulle tot by die westelike hawestad Pafos, 'n volle 200 kilometer. Wanneer hulle hier aankom word Saulus vir die eerste keer op die Romeinse vorm van sy naam, Paulus genoem. As jy in Rome is, maak jy mos soos die Romeine, nie so nie? Paulus is nou in die Romeinse leefwêreld, daarom sal hy dan nou maar 'n Romein wees en hy moet dan mos ook 'n Romeinse naam hê. Op hierdie manier sal hy baie verder kom op die sendingpad! Van nou af is hy dus Paulus!
In Pafos word Paulus en Barnabas uitgenooi deur die goewerneur, Sergius Paulus om 'n bietjie te kom gesels. Hy het baie gehoor van hierdie Christelike geloof, en hy wou meer weet. Die twee manne gryp die uitnodiging met albei hande aan!
Met hulle aankoms in die goewerneur se woning, wag 'n Jood met die naam Barjesus hulle in. Hy is een van die goewerneur se raadgewers. Onder die Grieke staan hy bekend as Elimas. Hierdie man is eintlik 'n towenaar, maar hy het homself ook beskou as 'n profeet van God. Towery was natuurlik 'n algemene praktyk in daardie tyd, selfs onder sommige Jode. As profeet sou hy direkte kontak met God hê, en dus toegang hê tot baie groot towerkrag wat hom die vermoë sou gee om die kragte van die onsigbare wêreld met towerformules te kon beheer.
Hierdie man het dadelik gesien wat Paulus en Barnabas wou doen. Hy het gereken dat as die goewerneur hulle boodskap van Jesus se verlossing sou aanvaar, sou dit die einde van sy werk as raadgewer beteken! Dus probeer hy die goewerneur verhoed om hierdie geloof te aanvaar.
Paulus sien dadelik dwarsdeur hierdie sogenaamde “profeet”: “Duiwelskind!” betig hy hom. “Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is!” Paulus is woedend oor hierdie man in die pad van die Evangelie kom staan. “Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan! Die Here gaan jou straf! Jy gaan blind word!”
En dan gebeur die wonderwerk: onmiddellik is die man blind, en moet hy deur iemand weggelei word. Die goewerneur se mond hang oop van pure verbasing. Hy is baie diep geraak oor die dinge wat gebeur het. “Asseblief Paulus, vertel my meer van julle geloof!”
En Paulus en Barnabas gaan sit saam met hierdie heiden en begin hom van voor af verduidelik waaroor dit alles gaan. Daardie dag kom daar 'n reuse deurbraak in die heidense wêreld wanneer die Romeinse goewerneur sy hart oopmaak vir Jesus en 'n gelowige word.
Paulus gee die eer vir wat hier gebeur het aan die Here. In die annale van die geskiedenis is dit dan ook aangeteken dat Goewerneur Sergius Paulus van die eiland Siprus die eerste bekeerling geword het in Paulus se sendingveld!
In Handelinge 13 word daar nêrens gemeld van enige ander persoon wat op Siprus tot bekering gekom het nie, slegs hierdie een enkele man! En dit nadat Paulus, Barnabas en Johannes Markus die ganse eiland deurkruis het van hoek tot kant. Dan wil ons dalk reken dat hierdie nou nie juis 'n suksesvolle sendingpoging was nie! Alles dui daarop dat dit dalk nog op 'n volslae mislukking sou afstuur!
Jare gelede het ek saam met 'n klompie gelowige jongmense saans in Welkom die Evangelie gaan deel met die talle mense wat by die “Perdeskoen” bymekaargekom het. Aand-vir-aand het ons met mense gesels en vir hulle die Blye Boodskap gebring, en bitter selde het iemand daarop gereageer. 'n Mislukte poging? Nee, beslis nie! Daardie boodskap moes beslis iewers vasgeslaan het, moontlik jare later eers. Ons was maar net die saaiers. Ander werkers het later die oeswerk gedoen!
Jesus het die gelykenis van die saaier vertel. Inderdaad het daar saad tussen die bossies geval en ook klipperige grond en selfs op die pad. Daar het absoluut niks van gekom nie! Maar die paar saadjies wat in die vrugbare grond beland het, het opgemaak vir al dié wat verlore gegaan het! Hou aan om die Goeie Saad te saai. Iewers gaan dit groei!
Gebed:
Here, hou asseblief my hande hoog sodat ek sal aanhou en aanhou om die saad van die Evangelie te saai, al lyk dit soms vrugteloos!