1 Samuel 31
Dit was ‘n tragiese dag in die geskiedenis van Israel - een van die grootste laagtepunte sedert die dag toe hulle deur die Jordaanrivier getrek het om die land in besit te neem.
Saul was ‘n briljante soldaat en ‘n goeie koning. Hy het die Here geraadpleeg voor elke geveg en hy het goed regeer. Maar toe loop daar iets skeef. Dalk het hy te veel begin steun op sy eie krag en wysheid, en God begin wegskuif uit sy lewe. Later het hy blatant God se bevele verontagsaam en sy eie kop gevolg. Haat het deel van sy alledaagse lewe geword. Die wetsvoorskrif van Levitikus 19:18, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” het by hom verby gewaai. Hy het Dawid met ‘n passie gehaat! Dawid het egter niks anders as goed gedoen teenoor Saul nie. Van liefde is daar géén sprake by Saul nie. Hy het die groot gebod geminag! Jesus haal later Sélf Levitikus 19:18 aan as die grootste gebod.
Die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het, was die dag toe hy die waarsegster gaan spreek het om Samuel se gees op te roep. Ons het gesien dat die Here dit beskou as een van die grootste gruwels - een wat saamgetel word met die offer van jou kinders aan afgode. Saul kry die boodskap daar helder en duidelik dat hy nét die volgende dag sou sterf, hy en sy seuns!
Terwyl Dawid huistoe gestuur word deur die Filistynse leiers, word hulle linies opgestel vir die groot geveg teen Israel. Die Israeliete het talle male al teen hierdie gedugte vyand geveg, maar keer-op-keer het die Here die geveg vir Israel gegee en die Filistyne moes druipstert huistoe gaan. Hierdie slag is dit egter anders. Terwyl Dawid sy eie drama by Siklag beleef, breek die geveg tussen die Filistyne en Saul se magte uit. Baie gou word dit duidelik dat die Filistyne een te sterk is vir Israel. Die oormag is te groot en die manne van Israel slaan op die vlug. Die Filistyne sit hulle agterna en talle Israeliete word doodgemaak op die Gilboaberg.
Die geveg woed voort op die berg en Saul staan met ‘n hart wat klop in sy keel en toekyk hoedat sy leër voor sy oë vernietig word. Maar dan krimp Saul ineen van pyn as hy sien hoedat een van sy seuns hier vlakvoor hom sterf. “Waarom?” vra hy wanhopig, en dan sneuwel sy tweede seun. Die pyn word vir Saul ondraaglik as die kroonprins, Jonatan óók sterf deur ‘n pyl van die vyand. Hy huil bitterlik: “Wat het ek gedoen?”
“Daar is Saul!” hoor hy ‘n Filistyn skree. Magteloos staan hy en toekyk hoedat die Filistyne op hom afstorm. ‘n Duisend gedagtes flits deur sy kop: as hulle hom gevange neem, gaan dit in ‘n nagmerrie ontaard. Hy sal deur die strate geparadeer word terwyl daar ‘n bespotting van hom gemaak word. Uiteindelik sal hy ‘n stadige, grusame marteldood sterf. Nee, daarvoor sien Saul beslis nie kans nie. “Kom hier!” skree hy vir sy wapendraer. “Trek jou swaard en steek my dood! Nou!”
Die man weier egter, want hoe kan hy dan nou sy eie koning doodmaak?
Dan trek Saul sy eie swaard, druk dit teen sy bors en val met al sy gewig in sy eie swaard en sterf. Toe die wapendraer dit sien, is daar vir hom slegs één uitweg - om dieselfde te doen!
Vir die Israeliete is dit natuurlik ‘n reuse ramp. Die koning is dood asook al sy seuns. In hulle hordes vlug hulle uit hulle stede uit vrees vir die Filistyne!
Die volgende dag ontdek die Filistyne Saul en sy drie seuns se lyke. Saul se kop word afgekap en op grusame wyse dwarsdeur die Filistynse gebied uitgestal. Sy lyk word teen ‘n stadsmuur vasgespyker.
Israel is verslae. Hulle rou sewe dae lank…..
So kom die bewind van die eerste koning van Israel rampspoedig en baie tragies tot ‘n einde. Saul kon so baie vermag het in sy lewe. Hy was immers deur God Sélf aangewys as koning en hy kon gróót hoogtes bereik as hy maar net na God wou luister!
Toe Saul val, het die hele Israel saam met hom geval! As jy die taak van leierskap op jou skouers neem, kom ‘n geweldige groot verantwoordelikheid daarmee saam teenoor almal onder jou leierskap. Hoe groter jou leiersposisie, hoe groter word die verantwoordelikheid. Dit beteken dat jy jou geloofslewe soveel méér ernstig moet opneem, want dan is dit nie net meer jy alleen wat geraak word nie maar almal onder jou sorg. Saul was dééglik bewus daarvan dat hy God moes dien, maar hy het stadig weggedryf van die Here af. Sy eie belange het te swaar geweeg. Elkeen wat ‘n leier is, moet weet dat sy eie belange héél laaste kom. God is natuurlik eerste en daarna diegene onder sy sorg. Jesus het dit prakties gedemonstreer regdeur Sy lewe as Mens. Hy was die Dienskneg. Ek en jy moet in Sy voetspore volg. Saul het met sy aksie vir duisende se ondergang gesorg. Jesus het met Sy aksie vir baie miljoene se redding gesorg! Wat gaan ek en jy doen?
Gebed:
Here, ek besef dat ek ‘n groot verantwoordelikheid op my skouers dra. Help my asseblief om baie naby aan U te leef en U te ken in alles!